Wat is jou wêreldbeskouing? En watter lewens- en wêreldbeskouing leer jy jou kinders? Leer jy ooit bewustelik vir hulle hoe om die wêreld te sien?
Wêreldbeskouing klink dalk na ’n grootmenswoord. Hoekom moet my kind daarvan weet? Die verrassende antwoord is dat elkeen van ons ’n wêreldbeskouing het. As ouer het jy die verantwoordelikheid om bewus te wees van wat in jou kind se hart en gedagtes gevorm word.
Onderwysers onderrig jou kind vyf dae van die week en help hulle om akademies te presteer. Tog word ’n kind se oortuigings nie net deur skoolboeke gevorm nie. Dit ontwikkel deur waardes, norme en beginsels wat ons as ouers daagliks aan hulle oordra. Ons weet dat mense se waardes verskil, en daarom bestaan daar soveel verskillende geloofsoortuigings en kerke.
Wêreldbeskouing is hoe jou kind die wêreld sien en waaraan hy of sy meet wat reg of verkeerd is. Vir ons as Christene is die Woord van God ons meetsnoer. In Deuteronomium 6 kry ouers die opdrag om voortdurend met hulle kinders oor God se Woord te praat. Nie net op Sondae nie, maar deur die gewone, alledaagse lewe.
Ouerskap is werk, volharding en voorbeeld. Jy mag moeg raak, maar moenie moeg word om te doen wat reg is nie. Leer jou kinders God se Woord, memoriseer saam teksverse, bid saam en wees bereid om klein te word voor God. Leer hulle ook om die sekulêre wêreld krities vanuit ’n Bybelse perspektief te beoordeel.
Dit is nie outyds nie. Dit is katkisasie! Dit is om saam met jou kinders die geloofspad te stap, hulle te leer dat God die fondament van hulle lewe is, Jesus hulle Verlosser is en die Heilige Gees hulle harte ken.
Werk saam met jou kinders deur die Kategismus. Wees hulle geloofspilaar en iemand na wie hulle met sekerheid kan kom wanneer hulle vrae het.
So sal die belydenisaflegging nie net ’n kerklike gebeurtenis wees nie, maar die vrug van ’n ouer se doopbelofte wat getrou nagekom is.
Katkisasie is ’n spanpoging. Dit begin by die huis!
Sr Corlia van Biljon