Jak 1:2-8
Jakobus skryf in hierdie paar verse oor beproewings en die geloof wat die toets moet kan deustaan. Die doel hiervan is dat ons geestelik ryp kan word. Sodoende kan ons leer om te volhard, om aan te hou sonder ophou. Jakobus sê dat as jy dink dat jy verdere wysheid hieroor nodig het, moet jy dit van God bid. Daar is mense wat bid, maar daar gebeur niks nie! Die rede hiervoor, sê Jakobus, is dat hulle verkeerd bid. Verder het Jakobus dit oor mense wat altyd twyfel, altyd onbestendig is, d.w.s. veranderlik, nie blywend nie en wispelturig. So ’n mens, sê Jakobus, sal niks van die Here ontvang nie. Dit gaan hier onder andere oor die manier van bid ook oor die belangrikheid van die gebed vir die Christen. Iemand het dan ook die gebed die suurstof van die geloof genoem.
Gebed is ook die vernaamste deel van dankbaarheid teenoor die Here. Om te bid is om te glo dat God daar is en sal doen wat Hy beloof het.
Die mens kan nie meer in volle oorgawe en ongestoord bid nie. Voor jy gaan slaap, begin jy bid en voor jy die amen uitgespreek het, het jy soms al aan die slaap geraak. God het aan die gelowig die wonderlikste gawe geskenk, naamlik om te kan bid. Iemand anders noem gebed die asemhaling van die siel vir die gelowige.
Die wonderlike van die gebed is dat dit aan geen bepaalde plek gekoppel is nie. Ons kan en mag orals bid: In die kerk, in die huis, in die trein, in die kombuis, in die kantoor, in die motor. Ons kan en mag en moet vir alles bid: ons studies, ons kerk, ons huwelik, ons kinders, ons landsprobleme, ons gesondheidstoestand, werksomtandighede, eensaamheid, ouderdom en gebreke, ja vir alles! Jesus het dikwels vir die dissipels gesê dat hulle in hulle binnekamer moet gaan om te gaan bid.
’n Christen sonder gebed is ondenkbaar. As ’n gewlowige nie meer gereeld en opreg bid nie, is dit die eerste en ernstige krakie in sy geloofslewe. Gebed is daarom die asemhaling van jou geloof, die suurstof vir jou hele lewe. “Bid gedurig.” 1 Tes 5:17
(Bron: Askes, H. 1993. Die Ouderling vandag. bl. 113ev)