Skriflesing: Deuteronomium 6 (1983)
Teksvers: Deut 6:12
Hoe maklik kan ‘n mens net sommer vergeet. Die gewone sondige hart is so op homself ingestel, dat hy maklik vergeet van hoe en waar hy gekom het.
As ons goed geslaag het vergeet ons gou die sweet van die eindeksamen se voorbereidings. As ons gesond raak vergeet ons van die lang eensame dae in die hospitaal en die pyne en moeite van herstel. Soms ook maar goed so.
So vergeet ons maklik vanwaar ons hulp vandaan kom…
Veral as die lewe ons opgebruik of die voorspoed ons begin verveel, dan nog makliker vergeet ons waar alles vandaan kom en daarvoor moet ons juis waaksaam wees. In die tye waarin ons lewe so besig en dae so vol is, juis dan moet jy waak teen die sonde van vergeet.