Skriflesing: 1 Petrus 3 (2020)
Teksvers: 1 Petrus 3:8-9

Word ‘n mens se lewe regtig radikaal verander op grond van jou geloof in Jesus Christus? Die vraag word gevra omdat die Here in sy Woord soveel dinge aan ons voorhou wat nie altyd in alle gelowiges se lewe realiseer nie. 

Kyk maar na die riglyne wat die Here aan ons voorhou in 1 Petrus 3: Mans en vrouens word gelei tot selfondersoek of hulle werklik die man of vrou is soos wat die Here dit aan ons voorhou? Veroorsaak die riglyne van die Here nie net onnodige spanning en skuldgevoelens nie? Tog kom die Here deur sy Woord en Gees om ons op te roep om eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig en nederig te wees. So asof dit somer so maklik is om die positiewe gesindhede altyd en oral teenoor ons mede-gelowiges en die ander mense te openbaar. 

Dit is daarom so belangrik dat ons by hernuwing sal besin oor die rede waarom die Here hierdie riglyne aan ons voorhou en hoe hierdie radikale lewensverandering in ons kan plaasvind.