Op 10 Maart 2020 het die WHO die Corona-epidemie tot pandemie verklaar. Mense word nou op verskeie maniere dramaties geïsoleer om die pandemie te probeer hokslaan. Vroeër jare het mense in tye van epidemies en rampe méér kerk toe gegaan. Meer gaan bid. Dalk selfs vir verkeerde of bygelowige redes, maar hulle het kerk toe gegaan in hoop op antwoorde en genesing. Nou praat ons selfs daarvan dat om kerk toe te gaan gevaarlik kan raak! Hoe kan die plek waar jy die God van lewe en dood gaan dien en verheerlik en loof en prys, nou vir ons vrees inhou? Skielik word mense en selfs gebiede en lande in isolasie (lockdown) geplaas uit vrees vir wat gebeur of wat aan die kom is. Selfs kerke fokus meer op voorkomingsmaatreëls en word hande nie meer geskud en ons deel nie meer die een beker nie.
Ons het verlede week uit die Skrif gehoor-gevra of ons dalk banger vir Covid-19 is as wat ons vir God is. Wie vrees ons werklik: Dit wat jou liggaam kan skaad of Hom wat jou siel kan verwerp in die ewige helse vuur!?
By ernstige siekte het Job op sy ashoop met sy God bly worstel. Hiskia in sy dodelike siekte draai na die muur en smeek sy God in sy nood. Paulus kom uiteindelik by sy doring in die vlees tot besef dat God se genade genoeg is. En Jakobus leer ons dat ons in siekte die ouderlinge moet inroep om vir die siekes te bid.
Isolasie van die virus is sekerlik een van die moontlike voorkomingsmaatreëls. Tog wonder ek so by myself wanneer laas het jy jouself so bietjie van die dinge om jou heen geïsoleer, sodat jy op God kon fokus? Veertien-dae afsondering of langer is dalk God se manier van om ons weer tot nadenke te dwing. ‘n Soort vastyd. ‘n Tyd waarin jy as op jou kop uitgooi en oor jou sondes nadink. ‘n Tyd vir doelbewuste heiliging (‘heilig’ beteken letterlik ‘afsonder’). Soos die getroue God en Vader altyd doen, gee hy die sondaarmens en sy wêreld genadetyd, bekeringstyd, want Hy wil dat almal hulle sal bekeer (2 Pt 3:9). Tyd waarin jy weer kan besef dat jy selfs die dood nie vrees nie want jou lewe is veilig geborge in God, vir ewig.
Vroeër het ons meer geestelike vrae gevra. Deesdae is alles gefokus op fiksheid, vitaliteit en viriliteit. God as hoogste goed en geestelike nadenke is minder relevant. Miskien is hierdie virale aanslag op ons vlees eintlik ‘n Goddelike genade handreiking na sy mens om geestelike tyd te maak en na te dink en terug te keer na dit wat ons werklik nodig het.
Ds Maarten