Volgens die Kernwoordeboek is die idioom “om in die tuig te sterwe” die manier om aan te dui dat iemand oorlede is terwyl hy nog in diens was. Dit verwys natuurlik na die tuig van rieme waarmee donkies of osse voor die wa ingespan is. Die idioom word dan toegepas op iemand wat getrou sy werk gedoen het terwyl hy of sy gesterwe het.
Ek sou dit graag van ons ouderling wat die week oorlede is wou sê. Johan Raubenheimer was juis oppad huistoe van die ouderlingvergadering (Blok C) af. Soos gewoonlik was hy die eerste ouderling wat by die vergadering aangekom het. Hy was altyd baie vroeg in die konsistorie, selfs ook elke Sondag vir die eredienste. ‘n Man op sy pos. Hy was lief vir die Here. Lief vir die kerk. Hy was deel van die kleingroep en trots op sy groepslede. Hy was juis besig om voor te berei vir die volgende groepsbyeenkoms waar hy die Bybelstudie sou lei.
Oppad huistoe vanaf die vergadering het hy klaarblyklik probleme ondervind en voor die aankomende verkeer op die snelweg beland. Hy is op die toneel dood. Net so on-geveer tien minute vroeër was dit sy beurt om die ouderlingvergadering met gebed af te sluit. Sy laaste woorde in die vergadering was: “…en Here, lei ons vanaand veilig huistoe. Sy gebed is verhoor. Hy is veilig huistoe!”
In die tuig gesterf. ‘n Ouderling op sy pos. Sy werk getrou gedoen. Sy huisbesoeke op datum. ‘n Voorbeeld vir die gemeente. ‘n Gelowige broer wat beslis gemis sal word.
Ons harte is seer vir sy skielike heengaan. Ons bid vir Rika en haar gesin die ryke troos van die Heilige Gees toe. Ons eer sy nagedagtenis.
Die vraag wat my bybly: As die Here my skielik kom haal.. en vir jou… is jy ook met sy dinge besig? Is jy in die tuig vir die Here? Is jy besig om te werk aan sy koninkryk? Is jy op jou pos en vol ywer en vuur vir die saak van jou Koning?
Waarmee sal ons besig wees as Jesus weer kom?
Liefdegroete
Ds Maarten