Skriflesing: Matteus 28 en Hand 1:8; I Pet 3:15
Teksvers: Matteus 28:18-20
Dit sal onvanpas wees as ons in die week van hemelvaart nie weer aandag skenk aan die Groot Opdrag van ons Here nie. Wie die groot liefde van God leer ken het en die opdrag van God verstaan, moet ook luister na die Groot Opdrag van Here en Verlosser, Jesus Christus: ”Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels…”.
Hierdie opdrag word eerstens aan die twaalf apostels gegee en is die grondslag van die stigting van die Christelike kerk. Hande-linge vertel dan ook in meer besonderhede hoe hulle uitvoering gegee het aan hulle sendingsopdrag. As lidmate van hierdie kerk staan die opdrag steeds vir ons. Die evangelie van Christus moet uitgedra en verkondig word – deur die geroepe dienskneg-te as bedienaars van die Woord, maar ook deur elke lidmaat afsonderlik. Hierdie taak begin by jou eie huis en kring uit na almal (alle nasies) wat die Here op jou pad bring.