Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Etiket: Oordenking (Page 6 of 26)

Oordenking 20 Februarie

Verheug julle oor die lewende hoop van die hemelse erfenis!

Maandag 20 Februarie 2023
Lees: 1 Petr 1:2-12

In vers 6 lees ons dat ons as christene ons moet verheug oor die lewende hoop van ons erfenis in die hemel. Hierdie woord vir verheug beteken in die griekse taal, om te jubel, om uitermate bly te wees en te juig

Nou waaroor moet ons uitermate bly wees en oor juig? Miskien dink ons nog aards en dink ons jy moet jou net verheug oor voordele hier op aarde bv. rykdom, ‘n verhoging, goeie bevor-dering, baie geld, ‘n gemaklike lewe, ‘n nuwe motor of iets op die aarde wat van verbygaande aard is.

Maar hierdie verheug gaan oor die lewende hoop, wat ons het. Hierdie lewende hoop is die vaste sekere wete dat ons deur die krag van God, veilig bewaar word vir die saligheid wat reeds ons erfenis is in die hemel. Ja, ons Hemelse Vader het deur sy groot ontferming deur die opstanding van Jesus Christus, vir ons die ewige lewe bevestig. Hiedie lewende hoop is omdat God ons uitverkies het nog voor die grondlegging van die wêreld. God het ons uitgekies om vir ewig by Hom te leef, na ons lewe op aarde.

Het jy die ewige lewe? Die ewige lewe is nie iets wat ek en jy kan verwerf of verdien nie. Ons verkry dit nie deur dit te koop, of ‘n goeie lewe te lei nie. Ons verkry dit deur vas en seker te glo dat Jesus Christus ons gekoop het met sy kosbare bloed en liggaam aan die kruis. Jesus Christus het dit gekoop en ons sekerheid lê in Hom wat self God is en wat vir altyd en ewig daar was en is en sal wees. v8-9 “Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ‘ n onuitspreeklike en heerlike blydskap.”

Wat is die kosbaarste en duurste besitting wat jy kan besit of het? Dit is jou geloof in Jesus Christus. Petrus stel dit dat jou geloof kosbaarder is as goud. Goud vergaan na ‘n tyd. Jou geloof kan egter nooit vergaan nie en loop uit op ‘n ewige lewe by God. Geloof is ook ‘n geskenk van God, Ef 2:8-10. Ja ook ons geloof word getoets. Daar kom dikwels beproewings in ons lewens wat geloof toets. Die duiwel doen alles in sy vermoë om ons te laat twyfel, maar solank ons biddend in diepe afhanklikheid van God bly leef, kan niks ons skei van die liefde wat daar is in Jesus Christus nie.

Moet nooit jou geloof as vanselfsprekend aanvaar nie!
• Bou jou geloof elke dag deur jou kennis te verbeter deur die Bybel te lees.
• Bou jou geloof elke dag deur te bid en al meer en meer op God te vertrou.
• Bou jou geloof deur naby aan God te bly en Hom altyd te loof en te prys.
• Bou jou geloof deur saam met jou medegelowiges te vergader in eredienste, in Bybelstudies, in samekomste.
Sodoende groei jou geloof en VERHEUG jy jou elke dag oor die hemelse erfenis wat vir al God se kinders in bewaring gehou word tot met jou dood of met die wederkoms, wanneer ons dit in besit sal neem. Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 16 Februarie

‘n Brief aan die uitverkorenes van God!

Waar Christus is, is daar hoop en lewe
Waar daar lewe is, is daar hoop.
Donderdag 16 Februarie 2023
Lees: 1 Petr 1:1,2
1 “Van Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus. Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld, wat verspreid woon in die provinsies Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië.
2 Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus. Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees!”

‘n Antieke Romeinse spreekwoord, wat die meeste van ons goed ken lui:
• “Waar daar lewe is, is daar hoop!”

Vir ons as Christene is die Bybel daar en ons lees in Joh 3:16 dat elkeen wat in Jesus Christus glo, het die ewige lewe.
Ook in 1 Petr 1:3 lees ons dat ons ‘n Lewende hoop het op die ewige lewe.

Petrus skryf hier aan jong christene, bedoelende mense wat maar pas tot geloof in Jesus Chrisus gekom het en hy noem hulle met twee name: Uitverkorenes en Vreemdelinge.

Uitverkorenes. Dit is die mense wat volgens “die voorkennis van God” uitgekies is om op aarde vreemdelinge te wees, maw bywoners, maar wat hulle burgerskap in die hemel het.

In Psalm 139:16 lees ons: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” Maw God het my gesien, my uitgekies, nog voordat ek gebore is. Wat ‘n ontsettende troos is dit nie. En nou dat ons gebore is en mense is, het God ons deur die Heilige Gees afgesonder, gewederbaar om aan Hom gehoorsaam te wees.

Daarom weet ons as christene dat ons is nie burgers van die sondige wêreld nie. Ons is burgers van die hemelse koninkryk. Fil 3:20 “Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook
die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” Dit is nie sonder rede dat ons burgers van die hemelse koninkryk is nie, want ons waardes en norme is anders as die wêreld. Ons leef nie vir onsself nie, maar ons leef tot eer van God. Die wêreld vind ons vreemd. 1 Petr 4:4 “Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.” Maar ons het die voorreg dat die Heilige Gees in ons werk. Ons het die voorreg dat ons die Bybel het waardeur God met ons praat. Ons is wedergebore deur die Heilige Gees sodat ons glo.

Daarom het ons ‘n Lewende Hoop (1 Petr 1:3) op ons erfenis in die hemel.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 13 Februarie

God se geopenbaarde en verborge wil.
Maandag 13 Februarie 2023
Lees: Gen 29 en 30 Kol 2v11-14

Deut 29:29 “Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet.”

Te veel kere in ons lewens, vergeet ons wat ons moet onthou en onthou ons wat ons moet vergeet.

Wat moet ons onthou?
Ons moet onthou wat God in die Bybel aan ons openbaar het. Dit is God se geopenbaarde wil. In die Bybel openbaar God aan ons wat Hy wil hê dat ons van Hom moet weet en wat Hy wil hê dat ons moet doen. Dit kom ook natuurlik na vore in die verbond wat God met ons gesluit het.

Sewe maal word die woord verbond in hierdie hoofstuk, Deuternomium 29 gebruik.
• ‘n Verbond is ‘n vaste ooreenkoms wat nooit deur God verbreek sal word nie.
Prof Jaap Helberg verklaar die verbond as volg:
“Verbond behels hier dat God in sy verkiesende genade die mens, of ’n groep mense, in ’n bepaalde verhouding met Horn stel wat nie net van momentele betekenis is nie, maar van blywende betekenis. God onderneem in die verbond sekere verantwoordelikhede teenoor die mens en bepaal ook sekere verantwoordelikhede wat die mens vrywillig teenoor Hom moet nakom.”
Wat is die inhoud van die verbond?
Die verbond het twee kante:
Eerstens God se kant, ons noem dit die monopleuriese karakter van die verbond. Gen 17:7

God het belowe dat Hy altyd vir ons ’n God sal wees. God sal altyd vir ons sorg as sy kinders. God wat so groot en almagtig en alomteenwoordig en alwetend is, sal altyd daar wees vir sy verbondskinders. Dit openbaar God in sy Woord duidelik aan ons.

Tweedens – Die mens se verantwoordelikheid, die dupleuriese karakter van die verbond.

Dan is daar egter ook verantwoordelikhede wat ons vrywillig moet nakom. Dit beteken dat ons God moet erken en bely en liefhê. Nou is dit so dat ons dit nie uit ons eie kan doen nie. Ons is sondaars wat altyd ons eie wil doen en nie God se wil nie. Maar God se genade is juis so groot dat Hy ons so liefhet dat Hy sy Seun Jesus Christus gestuur het om in ons plek die verbond ten volle te vervul en na te kom, omdat Jesus Christus volmaak en sonder sonde is.
Kol 2:13,14
13 ”Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.
14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.”

Wat is die geopenbaarde en verborge wil van God dan prakties?

Uit genade is God se beloftes altyd daar en Hy sal altyd sy verbond nakom.
Ons moet egter aan Hom gehoorsaam wees en opreg en eerlik ons na Hom bekeer.
Al is nog sondig en onvolmaak en kry dit nie reg om altyd gehoorsaam aan God te wees nie, word ons deur die Heilige Gees gelei om God te dien. Ja ook daarin help en lei God ons.
• Kom ons lees daarom elke dag die Bybel en luister na wat God van ons vra en doen biddend wat Hy vra.
• Kom ons bekeer ons elke dag van ons verkeerde weë.
Ons weet dat almal wat God sy kinders gemaak het, uit sy ryke genade, sal die koninkryk beërwe. Maar hulle wat niks met God te doen wil hê nie en doelbewus, uit eie keuse Hom verwerp, is self verantwoordelik vir hulle lot.

Ons wil U elke dag liefhê deur gehoorsaam te wees aan U geopenbaar wil soos wat ons dit in die Bybel lees.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 9 Februarie

Seisoene is die waarborg van God se genade!
Donderdag 9 Februarie 2023
Lees: Gen 8:20-22 Open 21:23-25

20 “Toe het Noag ‘n altaar vir die Here gebou en van al die rein vee en die rein voëls gevat en brandoffers op die altaar gebring.
21 Die Here het die offer aanvaar en Hy het by Homself gesê: “Ek sal nie weer so ‘n ramp oor die aarde laat kom vanweë die mens nie. Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge, maar Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Ek gedoen het nie.
22 So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie.”

Ons is geneig om dag en nag en die seisoene sommer as vanselfsprekend te aanvaar. Ons aanvaar dit moet maar so wees. Elke oggend sal die son opkom, tensy dit bewolk is, en dan sal dit weer aand word. Die somer sal daar wees en die winter sal daar wees, so ook lente en herfs, koue en hitte, saaityd en oestyd.

Dan is ons ook geneig om te dink as daar droogte is, dat God ons straf en dat ons net gou moet bid en ons verootmoedig en dan sal God alles weer laat normaliseer.

Maar hierdie drie verse moet ons lees in konteks van die sondvloed en daarna vanaf Gen 6v5-9:28. God het vanweë die mens se verskriklike sonde en verdorwenheid nadat Adam en Eva gesondig het en al die mense daarna, deur die sondvloed laat omkom. Die hele aarde is met water bedek en net agt mense, Noag, sy vrou, sy drie seuns en hulle dogters, met al die diere, het in die ark ingegaan en oorleef. Dit was ‘n verskriklike oordeel wat God oor die aarde gebring het.

Maar nou het God by Homself gedink en vir Homself gesê, lees ons in Gen 8:21,22 “…“Ek sal nie weer so ‘n ramp oor die aarde laat kom vanweë die mens nie. Van sy jeug af bedink die mens net slegte dinge, maar Ek sal nie weer al wat lewe laat omkom soos Ek gedoen het nie.
22 So lank as die aarde bly bestaan, sal saaityd en oestyd nie ophou nie, ook nie koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie.”

Die sondvloed het die normale seisoene vir ‘n jaar lank laat ophou, maar nou het God belowe dat die normale verloop van die seisoene soos wat Hy dit geskape het nooit weer sal ophou, so lank as wat die aarde bly voortbestaan nie.

Daar word so baie geskryf en gepraat van klimaatsverandering, maar hier is die belofte dat die seisoene sal aangaan, tot met die wederkoms. Die aarde en alles daarop behoort aan die Here Ps 124:1 “’n Psalm van Dawid. Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here,…”

In Gen 8;22 het ons die versekering elke dag en nag, elke seisoen dat God in beheer is. Sy volle toorn het Sy Seun Jesus Christus vir ons gedra en aan die kruis betaal. God sal nooit weer ons met ‘n sondvloed straf nie. Die verdere teken is natuurlik die reënboog wat Hy in die wolke vir ons gegee het. Gen 9:16,17.

Die grootste belofte is natuurlik dat aan die einde van die dae, wanneer die werderkoms daar is, in die hemel sal daar nie meer seisoene en dag en nag wees nie, daar sal net ewige lig, God self, en vreugde wees.
Open 21:23-25
23 “Die stad het nie die son en die maan nodig om hom te verlig nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.
24 Die nasies sal in die stad se lig lewe, en die konings van die aarde verleen luister daaraan.
25 Die poorte daarvan word gedurende die hele dag nooit toegesluit nie: daar sal nie meer nag wees nie.”

Eers in die hemel sal hierdie verbond, hierdie belofte wat God by Homself gemaak het in vervulling gaan. Daar sal nie meer dag en nag, seisoene, planttyd en oestyd wees nie, maar daar sal God alles wees in almal en sal ons Hom elke dag loof en prys.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts Newer posts »