Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Etiket: Oordenking (Page 1 of 26)

Oordenking 3 Julie

“EK IS die lig vir die wêreld!”

Lees: Joh 8:12
“Op ‘n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Hierdie is die tweede “Ek is…” uitspraak van Jesus in die evangelie van Johannes. Met hierdie uitspraak van “Ek is die lig vir die wêreld.”, bring Jesus ‘n baie troosvolle boodskap. Deur die sonde het daar geestelike duisternis oor die wêreld gekom. Die wat in ongeloof in die sonde bly lê, is bestem vir die ewige duisternis. Maar Jesus Christus het na die wêreld gekom as Lig om ewige hoop en die ewige lewe te bring.

Vir Israel was die vuurkolom in die woestyn nie net simbool van die lewe nie, maar dit was deel van hulle lewe wat die duisternis verjaag het. Die lig was simbool van God se teenwoor-digheid, beskerming en leiding. Jesus Christus is dit nog meer, Hy is die Lig. Waar Hy is is daar geen duisternis nie. In Hom het ons ewige beskerming en verlossing en leiding.

Heel waarskynlik het Jesus hier opgetree tydens of net na die Huttefees. Vgl. Joh 7:37

Die Huttefees.
Tydens die huttefees is groot lampe in die tempel aangebring en elke aand aangesteek. Daardeur word die tempel rondom en van binne verlig. Die lig straal in die duisternis uit en verdryf die duisternis binne die tempel en ver daaromheen. Jesus sluit nou heel moontlik sy tweede uit-spraak van: “Ek is die lig vir die wêreld”, by hierdie ligte wat in die tempel is aan, deur prakties uitspraak te lewer dat Hy die lig vir die wêreld is.

Daar is nou nie meer kunsmatige ligte nodig nie. Daar is nie meer simboliese ligte nodig om na Hom te verwys nie. Jesus Christus self is die lig. Jesus self bring die lig in die lewe van elkeen wat in Hom glo. Hyself verlig die lewenspad van elkeen wat in Hom glo. Ja, sy lig gee lewe. Elkeen wat elke dag in Jesus se voetspore volg, loop in sy LIG. So iemand kan ook uitvoering gee aan die hoë roeping van die dissipel van Jesus Christus volgens Mat 5:14-16:
“Julle is die lig VIR die wêreld.
‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook
steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie, maar
op ‘n lampstaander en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle
lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en
julle Vader wat in die hemel is kan verheerlik.”

Johannes 12:44-46 “Toe het Jesus uitgeroep: ‘Wie in My glo, glo nie net in My nie, maar ook in Hom wat My gestuur het. En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat die wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.”

Christus se woorde: Ek is die lig, moet nie net gehoor word nie!
• Die persoon wat dit hoor, moet iets doen.
• Om uit die duisternis gehaal te word en die lig te ontvang, moet ’n mens dus ’n volgeling van Jesus word en Hom aanhou volg. Stap in die lig van Jesus Christus en dit beteken prakties om te bid, Bybel te lees en in ‘n persoonlike verhouding met Hom te leef. AMEN
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 29 Junie

“EK IS die brood wat die lewe gee!”

Lees: Joh 6

Eet is die natuurlikste saak in die lewe. ‘n Pasgebore babetjie se eerste behoefte is na melk, kos. Daarom reeds in die tuin van Eden het God aan die mens die heerlikste vrugte gegee om van te eet. Wie nie eet nie, kan nie lewe nie. Kos gee ons krag vir elke dag. Ons lewe gaan daaroor om elke dag so te werk en te leef dat ons kos op die tafel kan hê om te eet.

Nou lees ons in Joh 6 dat daar oor die 5 000 mense na Jesus kom luister het en teen die aand was hulle honger. Met net twee vissies en vyf brode het Jesus met ‘n wonderwerk hierdie mense gevoed. ‘n Wonderwerk. Onverstaanbaar groots. Maar Jesus gee kos vir honger mense. Brood en vis. Jesus het hulel gevoed en vir die kos gedank.

Die dag nà die wonderbaarlike vermeerdering van die brood, het daar weereens ‘n klomp mense na Jesus toe gekom. Die rede hoekom hulle weer na Jesus gekom het, was bloot om weer brood, kos te kry. Jesus sê dit self.

Joh 6:26,27 “24 Toe die mense sien dat Jesus nie daar is nie en sy dissipels ook nie, het hulle in die skuitjies geklim en na Kapernaum toe gevaar op soek na Jesus. 25 En toe hulle Hom oorkant die see kry, vra hulle vir Hom: “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?” 26 Jesus antwoord hulle: “Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. 27 Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

Hoe eet jy dan by wyse van spreke vir Jesus as die Brood wat ewige lewe gee?

As Jesus sê: “Ek is die brood wat lewe gee.” dui dit natuurlik op geestelike voedsel. Dit is om in Jesus Christus te glo. Want Jesus is nie soos brood wat jy elke dag moet eet om versadig te bly nie. Jesus is geestelike brood, wat die ewige lewe gee. As jy Jesus eet, beteken dit dat jy in Hom glo. Geloof is meer as net kennis en vertroue. Geloof is ook om na Jesus toe te keer, om in ‘n intieme, persoonlike verhouding met Hom te staan. Jy eet Jesus as ‘ n ware deur die Woord te lees, te bid, die kennis te verkry hoe God homself openbaar, en deur met Jesus te wandel, Hom as ‘n ware te eet, jou te versadig met die kennis en vertroue en dat Jesus jou enigste weg tot saligheid is. En die Heilige Gees bewerk dit in jou hart.

Die Jode het gevra in Joh 6:28:
“Wat moet ons doen om te doen wat God van ons verlang?”
Jesus het geantwoord in Joh 6:29:
“Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.”

Om te glo in Jesus Christus is om…
• Te weet hoe groot God se onmeetlike liefde vir ons is.
• Te weet dat God sy Enigste, sy Eniggebore Seun geoffer het om in ons plek te betaal vir al ons sondes.
• Te weet dat die doel van God se liefde en versoeningswerk deur Jesus Christus is sodat ons die ewige lewe kan hê om God vir ewig te verheerlik in die hemel.
Jesus het gesê: “EK IS die brood wat die lewe gee!”

Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 27 Junie

“Die EK IS… uitsprake in evangelie van Johannes!”

Vir die volgende paar weke gaan ons kyk hoedat God en Jesus Christus hulleself aan ons openbaar in die” “EK IS…” uitsprake in die Bybel.
Ons kan vra, maar: Hoekom is dit nodig dat ons dit behandel?
• Ons ken mos God die Vader as ons skepper en onderhouer.
• Ons ken mos Jesus Christus as ons Verlosser, Saligmaker.
• Ons ken die Heilige Gees as ons Trooster wat in ons woon en bly.

Maar God openbaar Homself aan ons sodat ons nog meer vertroos en versterk in hierdie lewe kan wees.

Het jy ook al die vrae gehoor: Waar is God, dat Hy ons dan nie van die Covid virus bewaar nie? Waar is God wat sonde toelaat? Hoekom het God dan toegelaat dat daar oorloë hongersnood, selfmoord, egskeidings ens. is.

So het God aan Abraham belowe dat hy ‘n groot nageslag sal hê wat in Kanaän sal bly. Maar nou was daar ‘n droogte en hongersnood in Kanaän en moes Josef en sy hele familie na Egipte verhuis om te oorleef. En nou is hulle slawe in Egipte. Eers was hulle vry en nou is hulle slawe.

Is dit nie wat in Suid Afrika ook aan die gebeur is nie? Eers was Suid Afrikla ‘n welvarende land, ‘n land onder die 20 welvarendstes in die wêreld. Nou het Suid Afrika “Rommelstatus” bereik. Waarheen is die land heen op pad? Waar is God wat ons moet bewaar?

Israel het byna dieselfde lot gehad net nog baie erger in Egitpe.

Israel is uit Kanaän na Egipte vanweë hongersnood. Daar het hulle slawe geword. Hulle het gekerm en gekla en God het hulle gekla gehoor. En God roep en stuur vir Moses om die volk uit Egipte te lei!
• En Moses moet vir Israel sê Wie hom gestuur het!
• Sal hulle glo dit is die Almagtige God?
• En God sê Moses moet aan die volk sê: Ex 3:14 “En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: EK IS het my na julle gestuur.”

God verduidelik wat sy Naam beteken.

God OPENBAAR Homself aan Moses en aan Israel.
God sê “EK IS WAT EK IS!”
Dit beteken dat God is betroubaar. God is onveranderlik. Onveranderlik beteken juis dat God betroubaar is. Ons kan op God staatmaak. Al verstaan ons nie altyd alles nie. God bly dieselfde God. Dit is ons wat verander. Dit is ons wat vir onsself leef en God vergeet. Ons kan ook vandag op God staatmaak.

God het Israel uit Egipte verlos en gelei. Vir 40 jaar deur die woestyn, maar hulle het Kanaän binngetrek. Hulle het swaar gekry, maar God het getrou gebly.

God, “EK IS WAT EK IS…” lei ons vandag ook nog.

Al kry on sook hoe swaar. Al gaan dit swaar in die land. Al het ons Rommelstatus bereik. God is by ons en lei ons, wat Hy is betroubaar, Hy is wat Hy is. Hy bly altyd dieselfde van geslag tot geslag.

Ook aan ons is die hemel, die ewige Kanaän, belowe. Ons wat in Jesus Christus glo sal ook eendag in die hemel kom. Dit is belowe en Jesus Christus het reeds vir ons daar plek gaan voorberei. Maar ons trek nog deur die geestlike woestyn wat ook ‘n fisiese swaarkry is. Alles op aarde is nie rosegeur en maanskyn nie. Ons kry swaar omdat ons God vergeet het. Maar daarom openbaar Jesus Christus Homself met sewe Ek is uitsprake om ons te vertroos en te versterk. Hy openbaar Homself in die evangelie van Johannes met sewe Ek is uitsprake. Dit is wat ons gaan behandel vir die volgende paar kere.

Sewe “Ek is….” uitsprake in die evangelie van Johannes.
Joh 6:35 “Ek is die brood wat die lewe gee.”
Joh 8:12 “Ek is die lig vir die wêreld.”
Joh 10:7-9 “Ek is die ingang vir die skape.”
Joh 10:11-14 “Ek is die goeie herder.”
Joh 11:25-26 “Ek is die opstanding en die lewe.”
Joh 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe.”
Joh 15:1,5 “Ek is die ware wingerdstok en my vader is die boer.”

Daarna gaan ons na nog drie “Ek is ….” Uitsprake in die boek Openbaring kyk.
Open 22:12 “Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die einde.”
Open 22:16a “Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid”
Open 22:16b “Ek is die helder môrester.”

Mag ons almal versterk en vertroos word deur hierdie reeks dat Jesus Christus vir ons die brood, die lig, die ingang na die hemel, die goeie herder, die opstanding, die ewg en die waarheid en die ware wingerdstok is.

Ds Gerrit Kruger; Gereformeerde Kerk Centurion. Sel 082 964 5595; gskruger1@gmail.com

Bronne
Coetzee. C.(red) 1984 Quo Vadis? http://www.cjbf.co.za/uitreik/quovadis/qv185.pdf

Oordenking 22 Junie

Die Bybel is die geïnspireerde Woord van God!

Lees: 2 Pet 1:20-21; 2 Tim 3:16-17
2 Pet 1:20-21;
20 “Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie,
21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.”
2 Tim 3:16,17
16 “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,
17 sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”

Hierdie twee Skrifgedeeltes bevestig aan ons hoe die Bybel tot ons gekom het. God het deur die Heilige Gees, Bybelskrywers geïnspireer om die Bybel te skryf. By benadering is die volgende feite waar ivm die Bybel…
• Die Bybel is geskryf oor ‘n tydperk van ongeveer 1500 jaar.
• Dit is geskryf op drie kontinente – Afrika, Asië en Europa.
• Dit is geskryf in drie tale – Hebreeus, Aramees en Grieks.
• Dit is geskryf deur 40 verskillende mense wat op verskillende plekke gebly het.
• Die wonder daarvan is dat die Bybelse boodskap ‘n duidelike eenheid vorm van Genesis tot Openbaring ten spyte van die verskillende skrywers oor so ‘n lang tydperk.
(Ackerman, M. 2017. Help! Ek verloor my geloof… Sekerheid as jy Twyfel. p.7,8)
God het mense uit verskillende agtergronde gebruik om die Bybel te skryf:
• Moses ‘n Prins en leier van Israel met wie God self gepraat het. Ex 20
• Amos ‘n Skaapboer vanuit Tekoa. Amos 1:1
• Josua ‘n Veggeneraal en assistant van Moses. Jos 1:6
• Salomo ‘n Koning aan wie God wysheid en insig en rykdom gegee het. 1 Kon 4:29; 2 Kron 9:22
• Lukas ‘n Dissipel en ‘n mediese dokter
• Johannes ‘n Geliefde dissipel
• Paulus Eers ‘n gevreesde Fariseër en daarna ‘n apostel wat ongeveer 14 briewe in die NT geskryf het. (Ackerman, M. 2017. Help! Ek verloor my geloof… Sekerheid as jy Twyfel. p.7,8)

Die Bybel is die mees vertaalde Boek, dit is vertaal in meer as 648 tale wêreldwyd. In Suid Afrika in 11 tale. Gedeeltes van die Bybel is al in meer as 2 577 tale wêreldwyd vertaal. Agt jaar gelede was daar al ongeveer 418 miljoen gedrukte Bybels versprei en dit is onmoontlik om vas te stel hoeveel is elektro-nies via die internet en op selfone versprei. (Ackerman, M. 2017. Help! Ek verloor my geloof… Sekerheid as jy Twyfel. p.7,8)

Ons lees in 2 Petr 1:20 dat die Bybelskrywers deur die Gees meegevoer is. Dit kan as volg verduide-lik word, soos wat ‘n blaartjie op die water deur die wind voortgedryf word, so is die Bybelskrywers deur die Heilige Gees geïnspireer om te skryf wat God wou hê hulle moes skryf. Daarom kan die Woord ook net biddend, olv die Heilige Gees reg uitgelê word, ons noem dit eksegese. Hierdie inspirasie noem ons organiese inspirasie.

Om die Bybel te verklaar, is nie sommer net ‘n kwessie van gemaklike lees en verstaan en verklaar nie. Daar moet eers gebid word vir verligting van die Heilige Gees. Daarna moet die teksverse verklaar word met ander Skrifgedeeltes in die Bybel. Daarna volg ‘n proses van eksegese, wat beteken dat die oorspronklike taal bestudeer word, met die grammaties-, histories- en kanonieke konteks in ag geneem word. Om die Bybel dus reg te verklaar moet ons nie eie insig gebruik of my voorkeure nie, maar ons moet biddend die Bybel bestudeer om te sien wat God daarin aan ons openbaar.
Dit is wat die apostel Petrus hier aan ons openbaar. Ons moet met groot verantwoordelikheid na God luister soos wat Hy die Bybel aan ons gee en nie ons eie agendas of verstaan van die Bybel wil gebruik nie.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 19 Junie

Jesus se metamorfose en die Heilige Gees openbaar die Bybel aan ons!

Lees: 2 Pet 1:16-21; Mat 17:1-8 (2)

16 “Toe ons aan julle die krag van ons Here Jesus Christus en sy wederkoms bekend gemaak het, het ons ons nie op versinsels of legendes verlaat nie. Nee, met ons eie oë het ons Hom in al sy majesteit gesien.
17 Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe die Allerhoogste Majesteit gesê het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”
18 Die stem uit die hemel het ons self gehoor toe ons saam met Hom op die heilige berg was.
19 En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.
20 Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie,
21 want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.”

Die fokus in 2 Petr 1:16-18 wys terug na Mat 17:1-8. Daar lees ons, het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes na’ n hoë berg geneem. Terwyl hulle daarbo was lees ons in
Mat 17:2 “Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son,
en sy klere het wit geword soos die lig.”
En toe het ‘n stem uit die hemel gekom wat bevestig het wie Jesus was:
Mat 17:5b “Terwyl hy nog praat, het ‘n helderligte wolk skielik sy skaduwee oor hulle gegooi,
en ‘n stem uit die wolk het gesê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na
Hom.”

Petrus wat hierdie brief nou skryf, het dit alle gesien en beleef. Dit is nie stories wat opgemaak is nie. Dit is die waarheid waarvan Petrus getuig. Die betekenis van hierdie gedeelte is juis dat daar onweerlegbare bewyse is dat Jesus Christus is die Seun van God.

  • Petrus, Jakobus en Johannes het Jesus se metamorfose, sy verandering gesien met hulle eie oë.
  • Petrus, Jakobus en Johannes het God die Vader se stem self gehoor wat uit die hemel gekom het: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug.”

Eerstehandse ondervinding is vir ons onweerlegbaar feite. Daar was drie getuienisse, drie dissipels wat dit gesien het, en vandag probeer mense die Woord afmaak as ‘n storieboek, asof dit net verhale is, asof dit net fabels is.

Die gebeurtenis waarna Petrus verwys se betekenis is nie bloot wat hulle gesien het nie, maar dit getuig ook wie Jesus Christus werklik was en wat Hy vir ons kom doen het op aarde.

Jesus Christus het aarde toe gekom om vir ons sondes te kom sterf.
Jesus Christus het ons met sy betaling van ons sondes met God versoen.
As ons dit werklik glo en bely en uitleef dat Jesus Christus werklik die Seun van God is, ons Verlosser, dan kom die helder môrester op in ons harte. Dan weet ons en glo ons vas alles wat in die Bybel staan. Dan is dit die Heilige Gees wat deur die Woord in ons harte werk en ons oortuig.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 15 Junie

Petrus se laaste testament of afskeidsboodskap!

Lees: 2 Pet 1:12-15

12 “Om hierdie rede sal ek julle altyd aan hierdie dinge herinner, al weet julle dit en al staan
julle reeds vas in die waarheid wat aan julle bekend gemaak is.
13 Ek ag dit immers my plig om julle aan te spoor deur julle hieraan te herinner so lank as ek
nog lewe.
14 Ek weet dat my dood nie meer ver is nie. Ons Here Jesus Christus het dit trouens duidelik
aan my bekend gemaak.
15 Daarom sal ek my daarvoor beywer dat julle ook ná my heengaan altyd hierdie dinge sal
onthou.” Bron Groenewald, EP 1977 Die briewe van Petrus. p.116ev

“Hierdie gedagte-eenheid word gewoonlik Petrus se laaste Testament of sy afskeidsboodskap
genoem. Hy weet dat hy sy einde nader en rig daarom ‘n dringende woord aan sy lesers.”
(Groenewald, EP. 1977 116ev)

Petrus skryf aan sy lesers en hy herinner hulle aan die evangelie wat hy aan hulle verkondig het. Dit is nie ‘n nuwe evangelie waaraan hy hulle herinner nie, maar wat hulle reeds weet deur die eerste brief wat hy aan hulle geskryf het nl. die eerste brief van Petrus.

Die woord vir herinner het egter ook die betekenis dat hy weer, opnuut, dieselfde evangelie en boodskap, weer aan hulle verkondig. Dit is so ernstig dat Petrus wil aanhou en aanhou en hulle herinner en herinner en bly herinner word aan die evangelie.

Dit is so belangrik dat ons elke dag net die Woord en niks anders as die Woord van God sal lees en verkondig en preek nie.
Ons hoef nie in lang redenasies met ongelowige- of kleingelowige mense te gaan nie…Ons moet net aanhou die suiwer evangelie verkondig.
Dit gaan oor die konstante, konsekwente en voortdurende herinnering, prediking, verkondiging van die waarheid aan God se kinders en die wat nog tot geloof moet kom.
Terwyl ons erken dat ons nooit die dieptes van God se Woord sal ken nie, en in daardie sin voel dit asof ons altyd iets nuuts leer.
Tog is die lewe van ‘n christen, ‘n lewe van herinner word aan dit waarvan ons reeds oortuig is en wat ons weet en erken en bely.
Die plig van die prediker is nie om elke Sondag iets nuuts te bring nie, maar om die Skrif oop te maak en die lidmate te herinner aan die dinge waarvan hulle weet en waarvan hulle oortuig is.

Dit is wanneer herders en christene, hierdie heilige plig versuim dat wolwe die kraal betree en verwoesting saai.
• Mag ons altyd ywerig en ywerig wees in ons roeping om die skape te herinner.
• Mag die lidmate, deur hierdie oproepe tot waaksaamheid gewek word.

Maar aan Petrus is bekendgemaak dat hy spoedig sou sterf.
Ons lees in vers 13 en 14 in die 2020 vertaling dat sy tentwoning binnekort afgebreek gaan word. Daarmee stel hy dit duidelik dat hy gaan sterf.

2 Petr 1:13,14 2020 vertaling
13) “Ek beskou dit as gepas om julle deur herinnering op te skerp so lank as wat ek nog in hierdie tentwoning verkeer; 14) want ek weet dat my tentwoning binnekort afgebreek sal word – soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my duidelik gemaak het.”

Hierdie tentwoning herinner ons baie sterk daaraan dat ons verblyf op aarde maar tydelik is. Ons is maar vreemdelinge op aarde wat tydelik bly. Ons weet tog dat die liggaam net vir ‘n tyd, 60, 70 of 80 jaar daar is en dan sal dit afgebreek word. Dan het ons ‘n vaste gebou in die hemel.

Maar Petrus gebruik hier ‘n baie unieke woord vir sy sterwe.

Hy gebruik die woord vir heengaan of sterf in die griekse woord, EKSODUS!
Maw soos wat Israel uit Egipte getrek het olv van Moses en na die beloofde land, getrek het, is ‘n christen ook besig om uit hierdie lewe, ‘n eksodus, na die Ewige Kanaän, maw na die hemel te maak.

Dit is dieselfde woord wat ons lees by die verheerliking op die berg in Luk 9:31 dat Moses en Elia in ‘n gesig met Jesus gepraat het oor sy uittog uit Jerusalem.
Soos wat die Israeliete vinnig uit Egipte moes trek, “’n Eksodus” om van die Egiptenare af weg te kom, so het Jesus ‘n Eksodus uit Jerusalem gehad.
Hy het met pyn en lyding ons misdade op Hom geneem en is daarom as ‘n misdadiger behandel en so het Hy Jerusalem verlaat op pad na Golgota.
So het Petrus ook waarkskynlik aan die kruis moes sterf.

“Petrus verwys na sy vertrek, of dood, as sy uittog, sy Eksodus, (ἔξοδος), ‘n term wat net drie keer in die Nuwe Testament gebruik word.
• Paulus gebruik die term om te verwys na Israel se uittog uit Egipte (Heb. 11:22) en
• Lukas beskryf Jesus se dood wat in Jerusalem voltrek sou word (Luk. 9:31). Die gebruik in Lukas is interessant omdat die konteks bestaan uit die gesprek tussen Moses, Elia en die Here op die Berg van Verheerliking.
Dit blyk dat hierdie term dien as ‘n brug na die konteks van 2 Petr 1:16-18.
Petrus praat nie van die dood as die einde nie, maar as ‘n eksodus van een plek na ‘n ander.”
(Bron de Ganahl Andy. 2022’02/18 2 Petr 1:12-15 The Purpose of remembering)

So was Petrus se dood vir hom ‘n heerlike heengaan na sy hemelse woning.
Maar voordat hy sou heengaan, sy eksodus na die hemele, het hy sy laaste dienwerk voltooi deur sy lesers te herinner aan die bly evangelie van genade en verlossing.

Ons ywer vir die Here moet daarom ook wees om gedurig, om altyd die blye evangelie van verlossing en genade te verkondig.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts