Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Etiket: Josef (Page 1 of 2)

God Vertroos deur Vergifnis

Skriflesing: Genesis 50:1-26 (2020)
Teksvers: Genesis 50:17-20

Jakob het gesterf, en ‘n geweldige groot begrafnis en rou het gevolg. Die tyd van die aartsvaders gaan verby. Maar Josef se broers is benoud want dalk sal hy nou reg in eie hande neem. 

Die vergifnis wat ons sien by Josef is nie ter wille van sy pa Jakob nie, maar ware vergifnis in die ewige God. Dit is wat ons Here Jesus ons leer by die nagmaal met sy dood, om ware vergifnis te vind in die Verlossing wat hy skenk. 

Vryspraak bring vertroosting. Vergifnis skenk Vryheid. So kan ons alleen vertroosting vind in die vergifnis van die Seun van God. 

‘n Dubbele seën vir die Uitverkorenes

Skriflesing: Genesis 48:1-22; 49:22-26 (2020)
Teksvers: Genesis 49:22-26

Jakob is oppad na Egipte om sy verlore seun Josef te sien. So het God voorsien in die nood van sy kinders. Hy stuur ‘n Seun vooruit, om plek te berei in die belofte van sy Verbond. 

Na baie jare, meer as 20 jaar ontmoet Josef en Jakob weer. Jakob neem egter die twee seuns van Josef as sy eie aan. Josef se nageslag ontvang ‘n dubbele seën van Jakob. Dit is die grootste geskenk wat ons ooit kan besit, ‘n geseënde nageslag. 

In die aflegging van die belydenis van geloof, sien ons hoe God steeds getrou hierdie belofte en seën aan ons en ons kinders skenk. 

Die Liefde van God Oorwin die Kwaad

(Last updated on November 17th, 2025)

Skriflesing: Genesis 44:24-45:28 (2020)
Teksvers: Genesis 45:7,8

‘n Mens kan jouself net indink hoe groot die skok moes wees vir Josef se broers, dat hulle so lank al die geheim van Josef se “dood” weggesteek het, en gevrees het dat hulle sonde ontdek sal word. 

Die vrees van hulle sonde het onsekerheid en twyfel gebring, hulle was doodsbenoud as hulle dalk vir Josef moes teëkom in Egipte. En nou staan hulle broer hier voor hulle. Die strenge man, die owerste wat hulle soveel onsekerheid en onrus veroorsaak het, die man aan wie hulleself bereid was om as slawe oor te gee vir die lewe van hulle broer Benjamin, hy is hulle broer. Maar Josef gaan nie wraak neem nie. Hy sien God se voorsienigheid, die behoud van sy kinders. Josef is die uitverkore seun wat sy familie moet red. 

God gee hierdie seun as verlosser van sy broers. So oorwin die liefde van God die kwaad. 

Sonde kan nooit ongestraf bly nie

(Last updated on November 17th, 2025)

Skriflesing: Genesis 43:1-44:34 (2020)
Teksvers: Genesis 43:16

Het jy al probeer om jou sonde vir God weg te steek? Het jy al soos Jona prober weghardloop, of soos Moses die woestyn in gevlug om van jou skuld te prober wegvlug. 

Josef se broers het gedink dat hulle sonde teenoor hulle broer na 22 jaar ‘n stille dood gesterf het, maar dan word hulle ontnugter. Dit is asof hierdie onbekende Egiptiese regeerder hulle altyd een stap voor is. Hulle is in ‘n hoek gedruk vanweë die droogte, hulle kan nie anders nie, Benjamin moet saam anders is daar nie kos nie. 

So is God al die tyd aan die werk, sodat Juda uitroep: God het die onreg van u dienaars uitgevind… Immers, die sonde kan nooit ongestraf bly nie. 

Eerlike mense het niks om oor spyt te wees nie

(Last updated on November 17th, 2025)

Skriflesing: Genesis 42:1-38 (2020)
Teksvers: Genesis 42: 21-22

Ons is eerlike mense, so getuig Josef se broers aan hom. Dit is natuurlik maklik vir elkeen van ons om onsself te beoordeel aan die hand van ons bedoelinge, en nie aan ons dade nie. 

Niemand hou daarvan om as ‘n oneerlike mens bestempel te word nie. En as jou geheim uitgelap word, as jy uitgevang word as iemand wat oneerlik is, dan het jy geen verweer nie. 

So is daar by elkeen van ons dinge waaroor ons spyt is, wat ons dalk anders sou doen. Immers, eerlike mense het niks om oor spyt te wees nie. 

God Voorsien

(Last updated on November 17th, 2025)

Skriflesing: Genesis 40:1-41:57 (2020)
Teksvers: Vers 16, 40-41

Josef was tot seën waar hy ook al gekom het. Sy geloof het nie gewankel onder slegte omstandighede nie, inteendeel, hy was ‘n voorbeeld. 

Hy was betroubaar. Meer nog, hy was ‘n profeet van die Here. Hy lê die drome uit van die skinker en die bakker, en steeds verander sy omstandighede nie. 

Dit sou nog twee jaar neem voordat die koning self in die nag ontstel word, sodat Josef as die wysste man in Egipte bekend word. 

So beskik God om Josef uit die tronk te herstel na heerser oor Egipte. 

« Older posts