Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 70 of 344

Is ek ‘n see of ‘n walvis?

Skriflesing: Job 7:1-21 (2020) 
Teksvers: Job 7:12 

Ons almal is goed bekend met die persoon van Job. Die man wat alles verloor het omdat hy die Here getrou gedien het. 

Ons onthou ook vir Job as die persoon wat so swaar gely het en tog getrou gebly het en nooit God gevloek het nie. 

Vanoggend wil ons stilstaan by ‘n besondere vreemde vraag wat Job aan God vra: 

Is ek ‘n see of ‘n walvis? 

Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus

Skriflesing: Galasiërs 5:1-15 (2020)
Teksvers: Galasiërs 5:14; 6:2

Daar is verskeie maniere waarop ons die begrip “wet” kan verstaan. Daar is in die eerste plek die 10 Gebooie, wat ook bekend staan as die sedewet. Daarmee saam word ook die eerste 5 boeke van die Bybel die wet genoem. Daarin vind ons die seremoniële wette sowel as burgerlike wette. 

Noudat ons die Kategismus behandel het oor al 10 gebooie, kom ons by die vervulling van die wet deur ons Here Jesus. Maar so word ons ook geroep om die wet te vervul. 

Ons kyk in besonder na die Nagmaal en die wyse waarop ons hierdie opdrag kan nakom. 

Groei jy geestelik?

Skriflesing: 2 Korintiërs 13 (1983)
Teksvers: 2 Korintiërs 13:9-13

So kom die reeks preke oor 2 Korintiërs tot sy einde. Mens het nogal gewonder oor Paulus se bedoelinge in hierdie skrywe. Soms was hy humoristies of sarkasties en soms selfs behoorlik vies of onthuts. In woorde was hy ook nie altyd so sag nie. 

Dis nogal te verstane as mens eers sy ware doel of bedoeling snap. 

Hy het volgens ons teksvers die gemeente se beste voordeel in gedagte. Hy doen sy werk al ontstel dit soms ook die luisteraars of lesers. Alles in die lyn van hulle geestelike groei tot volwassenheid. Dan kan Paulus en ook ons die sonde nie verdra of té sagkens hanteer nie. 

Mag die prediking van hierdie afgelope ses maande ook bydra tot jou geestelike volwassenheid. 

Statistieke

Die afgelope maand het ons weer die jaarlikse statistieke van ons gemeente vir die Admin Buro en Almanak aangestuur. Ek dink altyd aan Dawid wat gestraf is omdat hy die volk getel het (1Kron 21). Ek glo eerlik dat ons nie te veel gepla moet wees oor getalle in die kerk nie. Statistieke kan op verskeie maniere gebruik en misbruik word. Die Here ken sy kinders. Hy het hulle name in sy handpalms gegraveer (Jes 49:16). En Jesus sê self: “Baie is geroep, maar MIN is uitverkies” (Matt 22:14). Laat ons dus oppas daarvoor dat groot getalle ons nie bedrieg nie. 

Dit is veral ‘n bekommernis dat ons kon sien dat die getalle van GK Centurion verlede jaar begin daal het. Terwyl die syfers die afgelope dekades in die algemeen in die kerkverband van die GKSA skerp gedaal het, het Centurion steeds stabiel gebly net so oor die 1000 belydende lidmate en ongeveer 350+ dooplidmate. Nou het die daling ons ook begin affekteer. Op hierdie jaar se statistiekvorms (data van 2023) daal ons met 53 volwassenes en 16 dooplidmate. Dit is te wagte dat ons getalle sal bly daal weens o.a. immigrasie en veral ook die emigrasie suidwaarts na die Wes-Kaap. Die verwagte groei in Centurion weens demografiese beweging (maw inkomende attestate) het waarskynlik al ‘n geruime tyd sy plato bereik. 

Kyk u na die attestate in en uit vir hierdie jaar lyk dit of sake tans ongeveer gelykop verloop. Dit is veral te danke aan talle opnames en bekerings deur evangelisasie (veral deur Koningskinders en Alethea-bediening) – verlede Sondag se mooi dope en belydenisafleggings in die gekombineerde erediens was ‘n getuienis dat die Here hierdie gemeente seën en sy kandelaar hier nie wil verwyder nie (Op 2:4,5). 

En daar is nog ‘n aantal belydenisafleggings en dope wat binnekort plaasvind. Ons dank die Here vir hierdie besondere genade aan ons gemeente. 

Dit bly egter die vraag of ons genoeg doen aan die uitdra van die evangelie na buite en vra dat elke lidmaat biddend soek na geleenthede vir sending en evangelisasie en met ‘n positiewe, biddende hart daaraan meedoen en daarin meewerk. 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »