Gereformeerde Kerk Centurion

Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Page 40 of 331

Losgekoop uit slawerny!

Skriflesing: Gal 4 (1983)
Teksvers: Gal 4:4-7

In aansluiting by die vrylating van slawe in die Herstel/Jubeljaar (Lev 25) , asook die vrywillige slawerny (soos ons dit in die huisgodsdiens die afgelope week leer ken het) (Dt15), lees ons van onsself as losgekoopte slawe. 

Die wonder hiervan word duidelik as ons selfs lees dat Jesus die vorm van ‘n slaaf aangeneem het (Fil 2). 

Waaraan is jy verslaaf? 

Rus tot Eer van die Here

Skriflesing: Levitikus 25:1-13 (2020)
Teksvers: Levitikus 25:2-4

Ons lewe in ‘n rustelose wêreld. Veral hier in die stad beleef ons die rusteloosheid van altyd besig wees, altyd nog werk, altyd nog iets wat gedoen moet word. Maar daar is ook ‘n ander soort rusteloosheid: ‘n onrus van die gewete; ‘n rustelose siel wat net nie tot bedaring kan kom nie. 

Oor hierdie rusteloosheid het die bekende kerkvader Augustinus opgemerk: U het ons vir Uself gemaak, en ons harte is rusteloos totdat ons rus vind in U. Die sabbat, sowel as die sabbatsjaar en die jubeljaar het ‘n pertinente kenmerk van rus, van herstel. 

Vanoggend gaan ons saam ondersoek instel oor wat dit beteken om te rus tot eer van die Here. 

Wanneer ons die onbekende ingaan

Wanneer ons die onbekende ingaan soos byvoorbeeld ‘n nuwe jaar wat vir ons voorlê is daar altyd onsekerheid in ons hart en gemoed. Ons verwagtinge en toekomsplanne word maklik in die wiele gery deur onbeplande dinge wat gebeur. Dinge waaroor ons geen beheer het nie. 

Ons kan ons egter as gelowiges nie daardeur laat onderkry, of terugsit en depressief en ongemaklik raak vir die onbekende wat voorlê nie. As ons Jesaja 42 lees, dan word dit duidelik aan die volk gesê (wanneer hulle die donker onbekende ingaan en nie weet wat voorlê nie) sal die Here die ongelyke plekke voor hulle gelyk maak en die donker in lig verander. 

Jesaja 42:16 “Ek laat die blindes loop op ‘n pad wat hulle nie ken nie, ek laat hulle op paaie gaan wat vir hulle onbekend is. EK verander die donker voor hulle in lig en Ek maak die ongelyke plekke gelyk. Dit is wat Ek gaan doen, Ek gaan daar nie van afsien nie.” 

Die Here maak ‘n belofte in hierdie hoofstuk en in hierdie vers naamlik dat Hy die onbekende pad wat vir ons voorlê in 2025, met sy woord, sy nabyheid, liefde en genade gaan belig, dat ons die onsekerheid kan ingaan wetende dat ons pad reeds vir die jaar belig is. HY het tog reeds ons blinde paaie met die koms van Sy Seun Jesus Christus verlig, toe hy ons blindheid weggevat het en dit vervang het met die ewige lig. 

Ons kan nie anders as om opgewonde en bly te wees, te Jubel oor die feit dat ons ‘n persoonlike verhouding met die enigste ware God het. Hy vat nie die blindheid weg nie en hy vat nie die ongelyke paaie weg nie, maar Hy loop langs ons en help ons deur die onbekende- en ongelyke beligte paaie. 

Die Heilige Gees lei ons gees elke dag om ons fokus op God te hou. Mag jy ook die nabyheid van God drie-eenheid ervaar in die jaar wat voorlê met die sekerheid dat jy nie alleen loop nie. 

Christus kom ALTYD Eerste

Skriflesing: Kolossense 1:3-23 (2020)
Teksvers: Kolossense 1: 15-18

Mense hou daarvan om te wen. Om eerste te kom. Dit is ‘n ingeskape begeerte van die mens om te oorwin en bo jou omstandighede uit te styg. 

Om te wen mag ons nooit ons dryfveer wees, ten alle koste, nie. Soms verloor jy deur net te wil wen. 

Dink aan die werk van Christus, Hy wat sy lewe verloor het om eerste te wees. Deur sy lewe prys te gee, word Hy die eerste, die Een wat altyd Eerste kom. 

Ons staan vanaand stil by die loflied oor ons Verlosser en ons taak as Eerstelinge van God. 

Jubeljaar 2025!

Skriflesing: Levitikus 25 (1983)
Teksvers: Levitikus 25:2, 23; Lukas 4:19

Vyftig jaar gelede, op 1 Junie 1975 het die gemeente afgestig van GK Lyttelton. Aanvanklik was ons naam GK Verwoerdburg-Noord wat later aangepas is by die tydsomstandighede. Die GK Centurion kyk hierdie jaar terug op 50 jaar van genade uit die hand van ons Here en Herder, Jesus Christus, die Hoof van sy kerk. 

Ons begin vandag die tema verstaan soos dit aan Israel voorgeskryf is deur Moses by die berg Sinai: Die hoofsaak gaan oor herstel en verlossing wat in die koninkryk van God ons toekom. Mag hierdie jaar een wees van bekering en geloof en vrede in God. 

« Older posts Newer posts »