Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 5 of 180)

Dink aan die kinders van Bet-El!

Skriflesing: II Konings 2:5-15, 19-25; Eksodus 20:4-6 (1983)
Teksvers: II Konings 2:23,24

‘n Eienaardige stukkie geskiedenis in die minimum verse. Twee-en-veertig kinders in Bet-El sterf ‘n wrede dood! Dink ‘n bietjie na oor die koerantstories of die video’s op sosiale media as dit vandag sou gebeur het. 

Na aanleiding van verlede week se besef uit Jakob se lewe dat ons moet aandag gee aan ons kinders se katkisasie en opvoeding en wat hulle van óns leer, is gevra dat ek weer hierdie gedeelte vir die gemeente in die prediking aanbied. So kyk ons dan na die straf van die Here oor die kinders wat met die heilige dinge van God mors. 

Waar kry ons die genade van God in hierdie storie? 

‘n Dubbele seën vir die Uitverkorenes

Skriflesing: Genesis 48:1-22; 49:22-26 (2020)
Teksvers: Genesis 49:22-26

Jakob is oppad na Egipte om sy verlore seun Josef te sien. So het God voorsien in die nood van sy kinders. Hy stuur ‘n Seun vooruit, om plek te berei in die belofte van sy Verbond. 

Na baie jare, meer as 20 jaar ontmoet Josef en Jakob weer. Jakob neem egter die twee seuns van Josef as sy eie aan. Josef se nageslag ontvang ‘n dubbele seën van Jakob. Dit is die grootste geskenk wat ons ooit kan besit, ‘n geseënde nageslag. 

In die aflegging van die belydenis van geloof, sien ons hoe God steeds getrou hierdie belofte en seën aan ons en ons kinders skenk. 

Stry hard in die Geloof

Skriflesing: Lukas 13:22-30 (2020)
Teksvers: Lukas 13:24

Ons het die afgelope klompie weke nagedink oor geloof en wat dit werklik beteken om te glo. Ons Here Jesus leer ons dat nie almal wat net sê hulle glo, is ware gelowiges nie, maar die wat die wil doen van sy Vader. Daarby moet ons ook bereken wat die koste is om te glo. 

Vanaand wil ons die aandag vestig of dit maklik is of nie, om in die geloof te volhard. Ons staan stil by ‘n vraag van ‘n onbekende omstander, maar ook ‘n vraag wat in ons harte leef… 

Die nota in die kraamsaal

Skriflesing: Genesis 25:19-34; Gen 32:22-32; Hosea 12:3-7 (1983)
Teksvers: Genesis 25:25

In aansluiting by die reeks oor Josef bekyk ons vandag die lewe van Jakob. Dit gaan oor die skynbaar niksseggende nota in ons teksvers – Jakob het by sy geboorte die hakskeen van sy ouer boetie, Esau, vasgehou. Dan word sy naam gegee en beteken ‘hakskeen-gryper’, maw bedrieër. 

So kan dit egter nie bly in die lewe van die man wat deur God bestem is om die voorvader van die Christus te wees nie. In Jakob se lewe sien ons die werkende hand van God in die lewe van sy uitverkore kind. 

Hy laat sy kinders nie aan hulle lot as sondaars oor nie. Deur al die intriges van die lewe heen is die Here besig om ons geskik te maak vir diens in sy koninkryk. Hy maak ons deur Christus en deur die krag van die Heilige Gees waardig om in sy diens te staan. 

Die Here is so naby soos ‘n gebed

Skriflesing: Psalm 22 (1983)
Teksvers: Psalm 22:2 en 19-26

In ons aardse lewe is daar verskeie ervaringe van eensaamheid en dalk verwerping. Alleenlopers of weduwees en wese is nie die enigstes wat eensaamheid ken nie. Soms is mense selfs in ‘n huwelik of huisgesin eensaam. Ons dink in besonder aan beproefdes en veral aan die vervolgde gelowiges wat opgesluit is of gedurig op vlug is. 

Miskien is dit ook weer tyd dat ons as lidmate van hierdie gemeente met omgee en liefde sorg dat niemand van ons weens eensaamheid uit die gemeente vervreemd raak nie! 

Daarby het ons dan ook nog hierdie evangelie-woorde uit Psalm 22, wat direk net so deur Jesus aan die kruis van Godverlatenheid aangehaal of oorgeneem word. 

Die Liefde van God Oorwin die Kwaad

(Last updated on November 17th, 2025)

Skriflesing: Genesis 44:24-45:28 (2020)
Teksvers: Genesis 45:7,8

‘n Mens kan jouself net indink hoe groot die skok moes wees vir Josef se broers, dat hulle so lank al die geheim van Josef se “dood” weggesteek het, en gevrees het dat hulle sonde ontdek sal word. 

Die vrees van hulle sonde het onsekerheid en twyfel gebring, hulle was doodsbenoud as hulle dalk vir Josef moes teëkom in Egipte. En nou staan hulle broer hier voor hulle. Die strenge man, die owerste wat hulle soveel onsekerheid en onrus veroorsaak het, die man aan wie hulleself bereid was om as slawe oor te gee vir die lewe van hulle broer Benjamin, hy is hulle broer. Maar Josef gaan nie wraak neem nie. Hy sien God se voorsienigheid, die behoud van sy kinders. Josef is die uitverkore seun wat sy familie moet red. 

God gee hierdie seun as verlosser van sy broers. So oorwin die liefde van God die kwaad. 

« Older posts Newer posts »