Skriflesing: 2 Korintiërs 3 (1983) Teksvers: 2 Kor 3:18
In ons preekreeks oor Tweede Korintiërs kom ons nou by hoofstuk 3. Na analogie van Moses wat sy blinkende gesig met ‘n sluier moes bedek, word ons geleer dat Christus baie groter is as Moses. Hy is Moses se moses.
In Christus word die sluier weggeneem en kan ons as kinders van God toenemend skyn met die heerlikheid (Grieks: doxa) van Christus! Hier stop Paulus die boelie van die wet en leer ons die vryheid in Christus.
Skriflesing: 2 Kon 5:1-6:7; 2 Kor 7:6-13 Teksvers: 2 Kon 5:11,12,14,16, 18; 2 Kor 7:9-10 HK: Sondag 33
God vra ware bekering. Dit is die afsterwing van die ou sondaar mens en die opstanding van die nuwe mens in Jesus Christus. En as jy ’n nuwe mens is, wil jy goeie werke doen wat uit ’n ware geloof, volgens die wet van God tot sy eer gedoen word.
Ons moet altyd minder word, ons eie trots aflê en buig voor God se Woord. Naäman het gedink, omdat hy so belangrik is sou sy gesond-word, met groot vertoon plaasvind. Die profeet Elisa moes met groot vertoon hom gesond maak en dan sou hy Elisa baie goed beloon en betaal vir wat gedoen is. Maar Naäman het God se werking nog nie verstaan nie.
God gebruik dikwels onopvallende metodes, maar God moet altyd die eer kry vir die wonderwerke. Dit kan net gebeur as jy as sondaar deur die bekering gelei word deur die Heilige Gees, as jy opstaan as ’n nuwe mens en dan goeie werke doen uit dankbaarheid tot eer van God.
‘n Triomftog of segetog was ‘n besondere geleentheid in die Romeinse ryk wat mense miskien een maal in hulle leeftyd sou ervaar. Na ‘n oorlog, het die generaal met sy hele gevolg, die groot stad Rome binne gekom met die gevangenes en al die buit wat oorwin is. In sommige gevalle is daar selfs ‘n spesiale toegang, ‘n “arc de triomph” vir die generaal of keiser aangebring. In hierdie prosessie loop die senaat heel voor, gevolg deur trompetspelers wat die koms aankondig. Daarop volg die oorlogsbuit met al die skatte wat verower is, en ‘n wit bul vir die offer wat gebring sal word.
Na hulle volg al die oorlogsgevangenes in kettings, die leiers, prinse, edeles en konings. Dan kom die drywers, die orkes en die priesters met die wierook wat ‘n lekker geur versprei het. Uiteindelik, het die generaal of keiser, die oorwinnaar gevolg onder die luide gejuig van die groot skares. Dit is hierdie beeld wat gebruik word om ons deelname aan Christus se triomf beskryf. Sommige ruik die wierook, en juig in die oorwinning, maar die gevangenes ruik daardie selfde wierook, en weet dit beteken hulle dood. Watter reuk ruik jy in die triomf van Christus?
Van kleins af leer ons kinders om “asseblief” en “dankie” te sê. Nie net is dit goeie maniere nie, dit wys op ‘n innerlike ingesteldheid. Iemand wat dankie sê, is dankbaar.
Een van die dinge wat ‘n mens geweldig kan ontstel is wanneer iemand bv kos bedel, maar dan daardie kos in die asblik gooi.
Dit is egter presies wat ons ook in ons geestelike lewe doen. So maklik word ons bedelaars van God se genade, maar gooi in die asblik wat God aan ons gee, sonder dankie. Of dat ons dink dat ons sekere dinge verdien. Dan is daar ook geen dankie nie.
Ons staan vanaand stil by die eerste woorde aan die Korintiër gemeente met die oog op die rede waarom ons goeie werke moet doen, met die vraag: hoe sien jy jou dankie?
Die lewe is nie altyd maklik nie. Daar is talle uitdagings vir elke mens, persoonlik, in familieverband, in werksverband of skoolverband. Daar is ook uitdagings in jou geloof, in jou diens aan God. Hoe kan jy daarmee saamleef en hoe moet jy dit hanteer? Paulus begin dadelik en stel dit duidelik dat God, die Vader van ons Here Jesus Christus, sy kinders bemoedig, dit is vertroos en dra. Duidelik stel Paulus dit dat God ons in elke omstandigheid, in elke moeilikheid, in elke swaarkry bemoedig. En dit is vanweë God se bemoediging dat ons ook ander kan bemoedig.
Skriflesing: Jesaja 22:15-25; Open 3:7-13; Joh 17:1-26 Teksvers: Jes 22:22-25; Open 3:7,8; Joh 14:6; 17:17b HK: Sondag 31
Almal ken sleutels. Sleutels wat oop en toesluit. Belangrike plekke het gewoonlik “’n sleuteldraer”, iemand wat besluit wanneer ’n deur oopgesluit en wanneer die deur toegesluit moet word. Spesiale plekke het daarom sekuriteit en goeie deure en slotte om dit te beskerm en daarom moet die sleuteldraer spesiale sorg aan die dag lê, vir wie en wanneer en hoe hy oop en toesluit.
Eljakim kry die sleutel om te dra. Jes 22:20-22
Jesus Christus is die sleutel na die hemel. Open 3:7
Die Woord sluit vir ons die ewige lewe oop. Joh 17:17b