Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 16 of 187)

Sondebesef lei tot‘n dankbaarheidslewe

Skriflesing: Efesiërs 2:1-10 (2020)
Teksvers: Efesiërs 2:1 en 5

Efesiërs 2:1-10 is ‘n besondere perikoop wat handel oor die mens se sonde, sy verlossing in en deur Jesus Christus asook die verloste mens se lewe van dankbaarheid. 

Hierdie drie-deling kom ook in Romeine en ander boeke in die Bybel voor. Dit word verder gebruik in die Heidelbergse Kategismus, die doop- en nagmaalformuliere. 

Kom ons kyk weer nuut na die wonder-genade van die Here soos dit uiteengesit is in Efesiërs 2: 1-10. Verwonder jou weer opnuut oor die genade wat aan ons verkondig word in God se Woord, naamlik dat die Heilige Gees ons deur ons sondebesef lei tot ‘n smag na verlossing deur Jesus Christus, wat dan uitvloei in ‘n opregte dankbaarheidslewe. 

By die gemagtigde “Gerigsvoltrekker” is ek werklik veilig en is ek waarlik vry!

Skriflesing: Johannes 8:1-11 (2020)
Teksvers: Johannes 8:11

Inleiding: Die vrou voor Jesus is skuldig – daaroor is geen twyfel nie. Haar beskuldigers is ook skuldig – daaroor is ook geen twyfel nie. Sy én hulle verdien God se oordeel. 

Jesus skryf die eerste keer op die grond 
Die beskuldigers stap net weg. Hulle doen nie selfondersoek nie! 
Gee gehoor, gelowige, as jy tot selfondersoek gelei word. 

Jesus skryf die tweede keer op die grond 
Die beskuldigde loop nie weg nie. Sy bly by Jesus. 
Selfondersoek moet die regte koers aandui! 

Jesus gee die uitspraak 
Hy gee as “Gerigsvoltrekker” uitspraak 
Sy uitspraak dra volle gesag en bied ware vryheid 

CHRISTUS SAAI IN TRANE ONS OES IN VREUGDE

Skriflesing: Psalm 126; Johannes 14:1-4 (1983)
Teksvers: Ps 126:5,6

‘n Saaier saai. Hierdie saaier werk in die woestynland. Dis dor en droog, die Suidland, woestynland. 

So het Jesus gesaai op die aarde wat dor en droog was weens die sonde. So was sy trane die van geweldige lyde onder die toorn en oordeel en vloek van God, maar met die vrugbare reëns wat in die wintertyd val, lewer die betraande saad weer ‘n ryke oes wat vreugde en blydskap bring. 

Is Jesus se trane ook ‘n rede tot vreugde vir jou? Hy het immers ook vir u gely! 

Jerusalem daarbo is vry

Skriflesing: Galasiërs 4:21-5:1 (1953); Galasiërs 5:1 (1983); Openbaring 21:1-3; Psalm 87
Teksvers: Galasiërs 4:26; 5:1

Paulus se doring in die vlees was waarskynlik die Jode wat alles wat hy met sy sendingwerk opgebou het weer probeer afbreek het. Hulle wou die mense net weer aan die wet van Moses verslaaf en hulle van hulle nuwe vryheid beroof. 

Vandag bekyk ons die figuurlike verstaan van ware en vrye kerk-wees deur die beeld van “Jerusalem daarbo”. 

En dan kom die oproep van Paulus in Gal 5:2 – “Moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie”. 

Hy vir wie baie vergewe is, het baie lief, maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief

Skriflesing: Lukas 7:36 – 50 (2020)
Teksvers: Lukas 7:47

Jesus maak hier ‘n noue verbintenis tussen vergifnis en liefde. Hierdie gedeelte vertel van ‘n vrou wat moontlik ‘n slegte lewe gelei het, en deur Jesus verseker is dat al haar sondes vergewe is. 

Die besef van haar baie sondes, het haar gedring om vir Jesus liefde te betoon en dankie te sê. Sy het nie aan die gebruike en voorskrifte van die Fariseërs gedink nie. Sy het haar besef van vergifnis, in liefdesdade laat oorgegaan. Daarom het sy met haar trane en salf Jesus se voete gewas en met haar hare droog gemaak. 

Wat word in jou lewe sigbaar as jy aan al jou sondes dink wat volkome deur Jesus Christus vergewe is? Kom ons dink ‘n bietjie na oor ons liefde vir die Here en vir mede-gelowiges. Onvergewensgesindheid lei tot liefdeloosheid of ’n gebrekkige behoefte om die Here en my naaste onvoorwaardelik en met oorgawe lief te hê. 

Helderheid oor God se plan vir my lewe

Skriflesing: Eksodus 19:1-11 (2020)
Teksvers: Eksodus 19:4

1. Insig in die beslissende oorwinning 

Israel het self die saakmakende oorwinning oor Egipte gesien. Israel is nie meer slawe nie. Ken jy jou vryheid volgens God se plan, gelowige? 

2. Helderheid oor versorging 

Israel ontvang ‘n goddelike perspektief op die pad vol worstelinge deur die woestyn. Ken ek hierdie goddelike perspektief? 

3. Duidelikheid oor die sentrum van God se plan 

Die kern van God se plan vir Israel was nie die verlossing uit die mag van Egipte nie. Hy het hulle na Homself gebring. Het ek helderheid oor die kern van God se plan vir my? 

« Older posts Newer posts »