Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Preke (Page 156 of 192)

Jou lewe as dank/vredesoffer, alles net vrolike danksegging

Skriflesing: Levitikus 3
Teksvers: Levitikus 3 (Fokus 3:1)

Die maaltydoffer of dankoffer word ook die vredesoffer genoem. Die Hebreeuse woord is “zebach sjelamiem” waarin uself reeds die woord sjeloom of shalom (vrede) kan herken. Die Statenvertaling noem dit die “dankoffer”.

Sjaloom is daar waar daar vrede is tussen die uiterlike en die innerlike! Vrede van God wat sy kinders ervaar ten spyte van die uiterlike druk van die wêreld! (Fil 4:4) Dus dank en blydskap en selfs vrolikheid ten spyte van al die gebrokenheid van hierdie sondige wêreld.

Dit is iets wat net moontlik is in die geloof in Jesus Christus. Daarvoor moet ons Hom alleen dank en loof, nie net in ons harte of in ons binnekamers nie, maar ook in ons openbare lewe in die kerk en selfs as getuienis na buite!

Laai af

Jou lewe as graanoffer, as alles wat jy het deel

Skriflesing: Levitikus 2
Teksvers: Levitikus 2 (Fokus 2:3)

Die brandoffer waartydens alles op die altaarvuur verbrand is, was die teken van volle oorgawe aan die Here ons God en daarmee is verwys na ons gehoorsaamheid aan die eerste tafel van die wet.

Die graanoffer is ‘n deel-offer. Jy deel van jou beste gawes met die priesters wat in die tabernakel of tempel gewerk het. Dit verwys meer na die gehoorsaamheid aan die liefde vir die naaste, volgens die tweede tafel van die wet van God.

Die resep vir die graanoffers is egter in sy besonderhede ook weer ‘n teken van die beste wat jy vir die Here gee en so is alles wat jy vir jou naaste doen eintlik maar net iets wat jy vir die Here doen. So is die twee tafels van die wet eintlik een! (Matt 22)

Laai af

Ontvang die keur van God se seën en bring aan Hom al die lof, eer en aanbidding

Skriflesing: Efesiërs 3
Teksvers: Efesiërs 3:14-21

Die Blye Boodskap van die redding in en deur Jesus Christus, vir alle mense, maar veral ook aan die heidene, bring vir Paulus in ‘n heilige gebedsverwondering. Kan dit waar wees dat die genade van Jesus Christus nou aan alle mense beskikbaar is? Ja dit is die wonder van die Here se liefde en onverdiende genade.

Paulus se gebed is dat die Here die gelowiges, deur die Heilige Gees, innerlik sal versterk. Verder bid hy dat Jesus Christus deur die geloof in die harte van elke gelowige sal woon. Mag elke gelowige daarom elke dag standvastig in die liefde van die Here gewortel en gegrondves bly. Sodoende sal elke gelowige in staat wees om die alles omvattende liefde en wysheid van God te ver-staan en te ken.

Aan Hom alle lof en eer.

Laai af

Engele bring die goeie tyding van ware vrede!

Skriflesing: Luk 2:1-20
Teksvers: Luk 2:9-14

Die eerste direkte aankondiging van Jesus Christus se geboorte word deur ’n engel gebring. Die engel bring dit aan anonieme skaapwagters. Verwonderd en met ’n heilige vrees luister die skaapwagters na hierdie boodskap. Die engel troos hulle om nie bang te wees nie. Om dit verder te beklemtoon verskyn daar ’n menigte van engele wat ’n loflied sing, ’n hemelse koor van volmaakte sang. God se heerlikheid word openbaar in sy Seun. Die eenvoudige krip word ‘n heilige plek, want ons Here Jesus Christus lê daarin as die Seun van God en die Seun van die mens.

Ons gaan na drie sake kyk vanaand:

  • ’n Engel bring die goeie tyding.
  • Engele juig oor die goeie tyding.
  • Die goeie tyding is ware vrede.

Laai af

Loof God omdat Hy goed is en goed is sonder end.

Skriflesing: Fil 1
Teksvers: Fil 1:6 -11

Vanoggend, soos elke Sondag, herdenk ons die opstanding van Jesus Christus. Vanoggend is daar ook 21 jong gelowiges wat met blink oë en met vaste oortuiging hulle geloof in die Drie-Enige God openlik voor die Here en voor die gemeente kom bely. Verder is vandag ook ‘n voorbereidingsdiens met die oog op volgende Sondag se nagmaal. Wat ‘n wonderlike dag vol geleenthede en uitdagings!

In 1 Timoteus 1:6-11 kom Paulus om onder leiding van die Heilige Gees die positiewe gedagte en oortuiging te verwoord dat God, wat die goeie werk in die gelowiges se hart en lewe begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom.

Mag elkeen van ons wat deel het aan die verlossende liefde en genade van Jesus Christus toeneem in begrip, fyn aanvoeling en onderskeiding in die werklik saakmakende dinge in die lewe. Met die wederkoms van Jesus Christus sal ons dan onberispelik en sonder blaam vir altyd in die regte verhouding voor God kan staan om Hom ewig te loof en te eer.

Laai af

God toets jou onvoorwaardelike en volkome oorgawe en diens aan Hom

Skriflesing: Deut 13; Op 13
Teksvers: Deut 13:1-4; Op 13:8

In Deuteronomium 13 waarsku die Here teen mense wat beweer dat hulle sogenaamde profete is wat die wil van die Here kan openbaar en selfs drome kan uitlê. Hulle sal na die gelowiges toe kom en vir hulle vertel van tekens of wonders wat die Here vir hulle gegee het om te openbaar. Hierdie mense kan volgens Openbaring 13 selfs met mag en krag optree dat hulle werklik geloofwaardig ly. Van hulle voorspellings, tekens en wonders kan selfs werklik gebeur. Die toets of die mense wel van die Here is, sal wees in dit wat hulle vir jou vertel. Sodra so ‘n persoon vir jou egter sou sê: “Kom ons gaan dien ander gode al het jy hulle nie vroeër geken nie, al het ons hulle nie vroeër gedien nie, moet jy nie na hom luister nie.” Die Here jou God is dan besig om jou op die proef te stel om vas te stel of jy Hom werklik liefhet met jou hele hart en siel en met al jou krag. Die Heilige Gees sal elkeen wat in Jesus Christus glo (die uitverkorenes), lei om hierdie amper geloofwaardige dwalings in die Naam van die Here te kan teenstaan.

Mag jy net die Here alleen ken, dien en aanhang elke dag.

Laai af

« Older posts Newer posts »