Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Rigters

God bly getrou, al straf Hy kwynende entoesiasme 

Skriflesing: Rigters 1:1-2:5 (2020)
Teksvers: Rigters 2:1-5

In Rigters 1 en 2 is die Israeliete veronderstel om ‘n groot hoogtepunt te beleef na die uittog uit Egipte en die deurtog deur die woestyn. Hulle begin, in opdrag aan die Here en met sy seën, om die beloofde land in te neem. Maar helaas, die aanvanklike entoesiasme het spoedig begin kwyn. So het een na die ander stamme dinge gedoen wat die volle oorname van die land net ‘n droom gemaak het wat nie gerealiseer het nie. 

As gevolg van die Israeliete se kwynende toewyding aan die Here se opdrag om die land skoon te maak van al die heidene, het die inwoners vir Israel ‘n lewenslange remskoen geword. 

Kom hoor hoe die HERE ten spyte van Israel se onverskilligheid en die straf daarop, steeds getrou bly aan sy verbondsbeloftes. 

Kakebeenshoogte: die plek wat roep om verlossing

Skriflesing: Rigters 13:1-5; 14:1-4 en 15:1-16:4
Teksvers: Rigters 15: 17-19

Die verhaal van Simson begin by die sonde van Israel. Toe die kinders van Israel weer doen wat verkeerd was in die oë van die HERE, het die HERE hulle oorgegee in die hand van die Filistyne, veertig jaar lank… (13:1). En steeds bekeer die volk hulle nie tot die HERE nie.

Na die optrede van Gideon wat die volk bevry het van die Midianiete, het hulle weer verval in sonde. Hulle het weer dieselfde sonde gepleeg deur met die onderlinge volke te ondertrou en hulle nie te verdryf nie. Daar was na Gideon nog 6 ander Rigters wat opgetree het, en die volk gerig het. Maar soos die tyd van die Rigters bekend staan, het elkeen weer gedoen wat goed is in hulle eie oë…

Die HERE is egter nie te vrede met die haglike geestelike en sosiale toestand van die verbondsvolk nie. Hulle is juis uit Egipte bevry van onderdrukking sodat hulle in vreugde kan leef om God te dien. Dit is asof hulle te vrede is om in ongelukkigheid terug te verval, om oorheers te word, om weer slawe te word.

Om hierdie bevryding te bewerk stuur die HERE vir Simson, met buitengewone krag om sy volk uit te red. Ons staan vandag stil by kakebeenshoogte: die plek wat roep om verlossing.

Laai af

Die HERE is vrede en nie teespoed nie

Skriflesing: Rigters 6:1-7; 7
Teksvers: Rigters 6:13 en 23

Magteloosheid lei tot ‘n gevoel van betekenisloosheid. Omdat Gideon voel dat hy niks aan sy omstandighede kan doen nie, voel hy ook nikswerd. Hy voel dat die Here sy kinders vergeet en in die steek gelaat het… Maar dan verander alles… Die Here roep en stuur Gideon met ‘n besondere opdrag!

Soms voel ons ook soos Gideon, en soos Moses, dat ons die genade van die Here nie waardig is nie. Soms tref die lewe so hard dat ons nie eintlik meer kans sien nie. Dan wil ons eerder moed opgee en van die Here vergeet.

Die Here is egter getrou aan sy verbondsbeloftes. Hy wil ons red, Hy wil uitkoms gee. Dit is ook die teken van sy verbond by die doop. Die water is ‘n teken van God se getrouheid in sy verlossing. Ons kan alleen maar in die geloof daaraan vasgryp.

So bring die Here vrede en nie teëspoed nie.

Laai af

‘n Gruwelike ontvoering!

Skriflesing: Rigters 21 (Geheel Rigters 19-21)
Teksvers: Rigters 21:21

Vir seker is hierdie drie hoofstukke (19-21) die aakligste deel van die verhale van die hele Skrif. Dit lees nie lekker. Dit het geen les om te leer nie. Daar is geen korrektief nie. Net ’n aaklige verhaal van misbruik en ongehoorsaamheid en moord en roof. Mense-roof nogal!

In aansluiting met die praatjie van Fiona Botha vanaand oor mensehandel en -roof (Human Trafficking) gaan ons kyk na die mense-roof om die arme Benjaminiete van ondergang te red. Hulle verweer is seker maar: die doel heilig die middele.

Ongelukkig gaan jy daarmee nie voor die heilige God en hemelse Koning wegkom nie. (Kyk ook Amos 1:6,7 vgl met 2 Kron 28:18)

Laai af