Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Levitikus (Page 1 of 2)

Die Basuin van Bevryding

Skriflesing: Levitikus 25:8-10; Numeri 10:1-10 (2020)
Teksvers: Levitikus 25:9-10

Daar is ‘n geluid in Israel wat enige slaaf se hart laat bokspring. Dit is ‘n klank wat enige skuldenaar die kettings hoor breek, wat swaar belaste mense se skuld bevry, wat trane in vreugde verander. 

Dit is die geluid van die basuin met die aanbreek van die Jubeljaar. As die basuin geblaas word, is dit die aankondiging van die begin van ‘n nuwe tyd. 

Deur die Skrif hoor ons gedurig van die blaas van trompette en basuine. Ons wil vandag in besonder ons aandag bepaal by die betekenis van die geluid van die basuin van bevryding. 

Rus tot Eer van die Here

Skriflesing: Levitikus 25:1-13 (2020)
Teksvers: Levitikus 25:2-4

Ons lewe in ‘n rustelose wêreld. Veral hier in die stad beleef ons die rusteloosheid van altyd besig wees, altyd nog werk, altyd nog iets wat gedoen moet word. Maar daar is ook ‘n ander soort rusteloosheid: ‘n onrus van die gewete; ‘n rustelose siel wat net nie tot bedaring kan kom nie. 

Oor hierdie rusteloosheid het die bekende kerkvader Augustinus opgemerk: U het ons vir Uself gemaak, en ons harte is rusteloos totdat ons rus vind in U. Die sabbat, sowel as die sabbatsjaar en die jubeljaar het ‘n pertinente kenmerk van rus, van herstel. 

Vanoggend gaan ons saam ondersoek instel oor wat dit beteken om te rus tot eer van die Here. 

Jubeljaar 2025!

Skriflesing: Levitikus 25 (1983)
Teksvers: Levitikus 25:2, 23; Lukas 4:19

Vyftig jaar gelede, op 1 Junie 1975 het die gemeente afgestig van GK Lyttelton. Aanvanklik was ons naam GK Verwoerdburg-Noord wat later aangepas is by die tydsomstandighede. Die GK Centurion kyk hierdie jaar terug op 50 jaar van genade uit die hand van ons Here en Herder, Jesus Christus, die Hoof van sy kerk. 

Ons begin vandag die tema verstaan soos dit aan Israel voorgeskryf is deur Moses by die berg Sinai: Die hoofsaak gaan oor herstel en verlossing wat in die koninkryk van God ons toekom. Mag hierdie jaar een wees van bekering en geloof en vrede in God. 

Wees Heilig!

Skriflesing: Levitikus 19:1-18 (2020)
Teksvers: Levitikus 19:2

Wees heilig! Hierdie opdrag word reeds aan die volk Israel gegee by die berg Sinai in die woestyn waar die HERE self vir Hom hierdie volk afsonder. Hierdie volk moenie soos die ander volke wees nie. 

Die HERE is nie soos ander gode nie, en daarom mag sy volk ook nie soos ander volke wees nie. Omdat die HERE heilig is, daarom moet elkeen wat aan Hom behoort ook heilig wees. 

Ons staan vanaand stil in die heilsorde by die wyse waarop ons self afgesonder word tot heil. 

Vöelvry in Christus

Skrifgedeelte: Lev 14:1-21
Teksvers: Lev 14:5-7

Die reiniging van ‘n melaatse persoon het baie spesifieke voorskrifte. Niemand wat melaats is mag in die gemeenskap kom nie. Melaatsheid is hoogs aansteeklik met die gevolg dat so ‘n persoon uitgewerp word sonder plek of hoop. En tog is daar hoop, maar slegs as die melaatse gesond word. Daarby staan ons vanoggend stil, by die ritueel van die vrylating van ‘n voël, wat in ‘n ander se bloed gedoop is met die tema: voëlvry in Christus.

Vreemde Vuur vertoorn die Here

Skriflesing: Levitikus 10:1-20
Teksvers: Levitikus 10:1-3
HK Sondag 35

Eiesinnigheid is afgodery en beeldediens.” So wys Samuel vir Saul tereg in sy sonde met Amalek. As jy God anders dien as wat sy Woord beveel, skep jy ‘n valse beeld. Dan verdraai jy God se Eie beeld na ‘n andersoortige denkbeeld wat by jou inpas. 

Met die instelling van die erediens by Sinai kom daar by die groot feestelikheid en opgewondenheid ook geweldige hartseer en droefheid. Aäron en sy seuns het pas die eerste offer gebring, en oomblikke later sterf twee seuns met vuur vanuit die hemel. Ons staan vanaand stil by die tweede gebod met die tema: vreemde vuur vertoorn die Here. 

« Older posts