Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Josua

Nuwe vaarwaters in 2024!

Skriflesing: Josua 3
Teks:  Josua 3:3-4

Om oor die Jordaan te gaan verander die hele bedeling. In hierdie nuwe jaar 2024 kry jy die kans om in hele nuwe bedeling met jou Here te lewe

Ek en my huis, ons sal die Here dien!

Skriflesing: Jos 24:1-28 (1983)
Teksvers: Jos 24:14,15,19-21

Josua roep die volk na Sigem, die plek waar God die eerste keer Kanaän aan die volk beloof het Gen 12:6-7. Josua was bekommerd dat die volk weens die heidense invloede van God afvallig sou word. Daarom preek hy en vertel van God se genadige bemoeienis met die volk in die verlede, Jos 24:2-13. Maar Josua stel ook ‘n voorbeeld en sê duidelik dat hy en sy huis die Here sal dien. Die volk verseker Josua drie keer dat hulle die Here sal dien. Maar Josua weet lippetaal is nie altyd dadetaal nie, daarom laat hy hierdie versekering van die volk met ‘n verbond bevestig.

Ons moet vandag steeds ook die Here kies. Dit moet nie lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word. Kom dit wat jy met jou mond bely en in jou hart glo in jou dade na vore? Is dit sigbaar vir mense tot ‘n getuienis?

Die vraag aan elkeen is: Kies jy en jou huis ook om die Here te dien en verwyder jy alles wat in die plek van jou keuse staan? As jy kies om die Here te dien saam met jou huisgesin het jy die regte keuse gemaak.

Die leërowerste van die HERE!!

Skriflesing: Josua 5:1‑6:6; Josua 6 (self lees) 
Teksvers: Josua 5:14 

Ons lees hierdie hoofstuk oor die val van Jerigo soos ‘n mooi storie. Soms ‘n slaaptydstorie! Onthou net dat hierdie verhaal opgeteken is in die Bybel, omdat ons God leer ken uit sy werke in die geskiedenis. Dit is dus veel meer as net ‘n storie, dit is die bekendstelling van die heilige en magtige God self. Ons moet vasstel wat die Here in die geskiedskrywing van Homself aan ons bekend maak, en hoe dit dan ook ons lewe raak. 

Wat is die vergelyking tussen Josua en Jesus, terwyl hulle name presies dieselfde beteken: Redder/Verlosser? 

Waarom kom die Here juis nou en op hierdie wyse na genl. Josua toe? 

Die leëraanvoerder van die Here!

Skriflesing: Jos 5:1-6:7
Teksvers: Jos 5:13-15

Dikwels is ons so besig met die kerk van die Here, dat ons vergeet wat kerk eintlik oor gaan. Alles gaan oor die eer van God. Waar God is betree ons “heilige grond”. Ons kan so besig wees om korrek kerkordelik op te tree, maar intussen vergeet ons Wie eintlik in beheer is. God se genade oor sy kerk is ongelooflik groot en volmaak. So het ons reeds die oorwinning behaal, maar ons moet nie ons verantwoordelikheid vergeet nie. Ons gaan na drie sake kyk:

  • Josua lei die Israeliete oor die Jordaan. Jos 3:1ev
  • Josua lei die Israeliete tot Besnydenis en Paasfees. Jos 5:2-12
  • Die leëraanvoerder v/d Here lei self die Israeliete. Jos 5:13-15

Laai af

Raadpleeg liewer die Here

Skriflesing: Deut 7:1-6; Josua 9; Joh 17:13-17; 18:36-38
Teksvers: Josua 9:14

Kyk na die borde op die lamppale… Nogal interessant waarmee sommige politieke partye ons stemme wil werf… Meer werk en kos en geld en fisiese veiligheid.

Nogal ‘n lastige ding, ek bedoel nou die verkiesing: Wat moet ek stem? Ons kan tog nie net aan die fisieke dinge bly dink terwyl ons hoop eintlik op ‘n baie hoër vlak geleë is nie!? Of wat praat ek alles! Stem moet jy stem.

Kom ons stem beter as wat Josua en Israel gedoen het!!

Kom ons gaan biddend na die stembus, want ons wik maar God beskik.

Laai af