Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Jesaja (Page 1 of 6)

Die mens na God se hart

Skriflesing: Jesaja 66 (1983)
Teksvers: Jes 66:1,2

Ons kan nie na die Here toe gaan net soos ons is nie. Ons kan nie aan die nagmaal kom net soos ons wil nie. Die teks spreek ons gesindheid aan indien ons tot die Here wil nader. 

As ons met ons selfondersoek ons reg voorberei en met ‘n bekeerde hart kom deelneem aan sy tafel, sal ons daarvan ook nie weggaan as dieselfde mens nie. 

Kom ons dien en aanbid en die God van ons verlossing volgens sý terme, sodat Hy in alles verheerlik word… 

‘want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge!’ 

Beantwoord geloofs-flouheid met gegronde kennis van die Here

Skriflesing: Jesaja 40:12-31 (2020)
Teksvers: Jesaja 40:28

Let fyn op vir tekens van geloofs-flouheid. 

Die geloofs-flouheid waarvan ons in Jesaja 40 hoor (vgl. v.27), kan in verskillende vorme by gelowiges voorkom. Voorbeelde: verslaenheid, verwardheid, moegheid en opstandigheid. 

Gegronde kennis van die Here is ʼn vereiste. 

Israel word tot gegronde kennis gelei (vgl. v.28). Die Verbondsgod het “eeue-uitsig”; werk met onbeperkte afstande; word nie moeg nie en sy insig kan nie deurgrond word nie. 

Vertrou Hom. Hy gee hoop én krag. 

Met kennis van die Here kan ek vol verwagting op Hom bly hoop. Wie op Hom wag, sal in die wagtyd voortdurend nuwe krag kry (vgl. v. 29-31). 

Daar is ‘n pad na die hemel

Skriflesing: Jesaja 35:1-10 (2020)
Teksvers: Jesaja 35:8-10

Die bedoeling van die Jubeljaar is om herstel te bring. Die mens word so maklik oorrompel en oorweldig deur die sonde en die vernietigende effek daarvan, dat ons so maklik vergeet waarvoor ons geskep is: om God te eer en vreugde in Hom te ervaar. 

Maar weet u, daar is ‘n weg, daar is ‘n pad uit hierdie woestynland van die sonde na die beloofde ewige heerlikheid. Dit is ‘n pad na die hemel.

‘n Geknakte Riet en Dowwe Lamppit

Skriflesing: Jesaja 42:1-13 (2020)
Teksvers: Jesaja 42:3

Die koms van die koninkryk is deur die Dienskneg van God. Hy kom nie met geweld en groot geraas nie, maar stil en nederig. 

Tog is die Dienskneg wat kom, wat die herstel van God se koninkryk bewerk, nie swak nie, al is Hy nederig. Hy is bekwaam, die Een op die Wie die Gees van God rus, maar ook een wat saggies met sterk hande sy kosbare en gebroke skepping herstel. 

‘n Geknakte riet, sal Hy nie breek nie, ‘n dowwe lamppit sal Hy nie uitdoof nie. 

Dissiplines van die nuwe lewe (7): Jou daaglikse getuie-wees vir Christus!

(Rome is toe nie die einde van die wêreld nie!)

Skriflesing: Handelinge 1; Jesaja 49:6 (1983)
Teksvers: Hand 1:8; Jes 49:6; Hand 29

Vandag doen 14 kinders en 4 volwassenes Openbare Belydenis van hul Geloof. Ons vier hierdie heuglike dag saam met hulle en hul geliefdes terwyl onsself terugdink aan daardie besondere dag in ons eie lewe toe ons ons geloof in Jesus Christus openlik bely het. 

Handelinge 1:8 se opdrag en bedoelings eindig nie by die laaste verse van die boek nie… Rome is nie die einde van die wêreld nie! 

So is belydenis-aflegging nie die einde van ‘n pad nie, maar slegs ‘n mylpaal langs die pad na volkome gehoorsaamheid aan ons roeping en taak as gelowiges in hierdie wêreld. 

Mag die Here ons almal weer aanspoor tot dissipline in ons getuienistaak, om as sy geroeptes en gestuurdes die Evangelie se lig wyd en syd te laat skyn… tot aan die uiteindes van hierdie wêreld! 

God roep jou, kom les jou dors met die Lewende Water

Skriflesing: Jes 55:1-13 (1983)
Teksvers: Jes 55:1-5; Open 22:17

Goeie nuus vir ons almal vanmôre, vir sondaars en verlorenes, vir alle volke, alle nasies en alle tale, vir verloste sondaars! 

Jes 55:1: “Kom almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook die wat nie geld het nie, kom koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.” 

Dit is ‘n teenstrydigheid in die algemeen, hoe kan jy koop sonder om te betaal, sonder geld en nie net stapelvoedsel nie, maar wyn en melk? Vir die algemene verstaan ʼn paradoks, maar vir Christen-gelowiges, ‘n ryke vertroosting en versterking uit die Woord. Die rede is omdat daar reeds vir ons betaal is, nie met geld nie, maar met Jesus Christus se eie liggaam en bloed. Ons is losgekoop van ons sondige bestaan vir ‘n bestaan van volkomenheid en liefde by God. 

Hierdie wonderlike uitnodiging lees ons ook van in Open 22:17

“Die Gees en die bruid sê: “Kom!” 
En elkeen wat dit hoor, moet sê: “Kom!” 
En elkeen wat dors het moet kom; 
Elkeen wat die water van die lewe wil hê, 
moet dit kom kry, VERNIET!” 

« Older posts