Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Genesis (Page 1 of 9)

God beloof om deur Christus die gebroke verhouding tussen Hom en die mens te herstel

Skriflesing: Genesis15 (2020)
Teksvers: Genesis15:17

God het aan Abram beloof dat hy ‘n die beloofde land sal beërwe, ‘n groot nageslag sal kry en dat deur hierdie nageslag sal God die nasies seën. Alhoewel Abram God glo sukkel hy om te verstaan hoe hierdie gaan gebeur aangesien hy op sy ou-ouderdom nog nie eers ‘n enkele kind het nie… 

In vers 17 en 18 sien ons hoe God ‘n belofte maak en ‘n verbond met Abram sluit – hierdie dinge sal waar word! Wat is die betekenis agter hierdie visioen van Abram en hoe sal God dan hierdie belofte en verbond in vervulling bring…? 

Worstel ek en jy nie ook soveel kere met hierdie twyfeling aan God se beloftes nie…? Ons glo in God en vertrou op Hom maar sukkel om te in te sien hoe Hy ten spyte van hierdie omstandighede van my getrou gaan bly aan Sy beloftes… 

God Vertroos deur Vergifnis

Skriflesing: Genesis 50:1-26 (2020)
Teksvers: Genesis 50:17-20

Jakob het gesterf, en ‘n geweldige groot begrafnis en rou het gevolg. Die tyd van die aartsvaders gaan verby. Maar Josef se broers is benoud want dalk sal hy nou reg in eie hande neem. 

Die vergifnis wat ons sien by Josef is nie ter wille van sy pa Jakob nie, maar ware vergifnis in die ewige God. Dit is wat ons Here Jesus ons leer by die nagmaal met sy dood, om ware vergifnis te vind in die Verlossing wat hy skenk. 

Vryspraak bring vertroosting. Vergifnis skenk Vryheid. So kan ons alleen vertroosting vind in die vergifnis van die Seun van God. 

‘n Dubbele seën vir die Uitverkorenes

Skriflesing: Genesis 48:1-22; 49:22-26 (2020)
Teksvers: Genesis 49:22-26

Jakob is oppad na Egipte om sy verlore seun Josef te sien. So het God voorsien in die nood van sy kinders. Hy stuur ‘n Seun vooruit, om plek te berei in die belofte van sy Verbond. 

Na baie jare, meer as 20 jaar ontmoet Josef en Jakob weer. Jakob neem egter die twee seuns van Josef as sy eie aan. Josef se nageslag ontvang ‘n dubbele seën van Jakob. Dit is die grootste geskenk wat ons ooit kan besit, ‘n geseënde nageslag. 

In die aflegging van die belydenis van geloof, sien ons hoe God steeds getrou hierdie belofte en seën aan ons en ons kinders skenk. 

Die nota in die kraamsaal

Skriflesing: Genesis 25:19-34; Gen 32:22-32; Hosea 12:3-7 (1983)
Teksvers: Genesis 25:25

In aansluiting by die reeks oor Josef bekyk ons vandag die lewe van Jakob. Dit gaan oor die skynbaar niksseggende nota in ons teksvers – Jakob het by sy geboorte die hakskeen van sy ouer boetie, Esau, vasgehou. Dan word sy naam gegee en beteken ‘hakskeen-gryper’, maw bedrieër. 

So kan dit egter nie bly in die lewe van die man wat deur God bestem is om die voorvader van die Christus te wees nie. In Jakob se lewe sien ons die werkende hand van God in die lewe van sy uitverkore kind. 

Hy laat sy kinders nie aan hulle lot as sondaars oor nie. Deur al die intriges van die lewe heen is die Here besig om ons geskik te maak vir diens in sy koninkryk. Hy maak ons deur Christus en deur die krag van die Heilige Gees waardig om in sy diens te staan. 

Die Liefde van God Oorwin die Kwaad

(Last updated on November 17th, 2025)

Skriflesing: Genesis 44:24-45:28 (2020)
Teksvers: Genesis 45:7,8

‘n Mens kan jouself net indink hoe groot die skok moes wees vir Josef se broers, dat hulle so lank al die geheim van Josef se “dood” weggesteek het, en gevrees het dat hulle sonde ontdek sal word. 

Die vrees van hulle sonde het onsekerheid en twyfel gebring, hulle was doodsbenoud as hulle dalk vir Josef moes teëkom in Egipte. En nou staan hulle broer hier voor hulle. Die strenge man, die owerste wat hulle soveel onsekerheid en onrus veroorsaak het, die man aan wie hulleself bereid was om as slawe oor te gee vir die lewe van hulle broer Benjamin, hy is hulle broer. Maar Josef gaan nie wraak neem nie. Hy sien God se voorsienigheid, die behoud van sy kinders. Josef is die uitverkore seun wat sy familie moet red. 

God gee hierdie seun as verlosser van sy broers. So oorwin die liefde van God die kwaad. 

Sonde kan nooit ongestraf bly nie

(Last updated on November 17th, 2025)

Skriflesing: Genesis 43:1-44:34 (2020)
Teksvers: Genesis 43:16

Het jy al probeer om jou sonde vir God weg te steek? Het jy al soos Jona prober weghardloop, of soos Moses die woestyn in gevlug om van jou skuld te prober wegvlug. 

Josef se broers het gedink dat hulle sonde teenoor hulle broer na 22 jaar ‘n stille dood gesterf het, maar dan word hulle ontnugter. Dit is asof hierdie onbekende Egiptiese regeerder hulle altyd een stap voor is. Hulle is in ‘n hoek gedruk vanweë die droogte, hulle kan nie anders nie, Benjamin moet saam anders is daar nie kos nie. 

So is God al die tyd aan die werk, sodat Juda uitroep: God het die onreg van u dienaars uitgevind… Immers, die sonde kan nooit ongestraf bly nie. 

« Older posts