Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Esegiël (Page 2 of 2)

Hoor God se genade in sy oordeelsaankondiging

Skriflesing: Esegiël 8
Teksvers: Esegiël 8:18

Hierdie aankondiging in Esegiël 8 vind kort voor die ballingskap plaas. Verder word ook aangekondig dat die Here se teenwoordigheid hulle gaan verlaat as gevolg van die leiers van Israel se openlike beoefening van afgodediens. Asof die Here dit nie sou raaksien nie!!! 

In hierdie gesig het die Here vir Esegiël na die tempel en die stad Jerusalem gevat om die geestelike verval van die geestelike leiers te sien. Tog is daar in Esegiël 8 -11 wel ‘n aanduiding dat daar vir hulle ‘n sprankie hoop oor is. God dui aan dat Hy vir hulle ‘n heiligdom sal bly tydens die balling-skap. Daar is ook ‘n belofte deur die Here dat hulle in die toekoms na Israel sal terugkeer. Esegiël 8 vereis egter dat die leiers van Israel tot hulle sinne sal kom. Hulle kan hulleself nie verder mislei om te dink dat die Here nie hulle afgodsdiens raak sien nie. 

Die Here roep ons deur die Heilige Gees op om by hernuwing weer na ons eie sondige lewe en praktyke te kyk. Hoe ver staan jy werklik van die Here af? Is die oordeel van die Here ook vir jou voor die deur of hoor jy die roepstem van die Here se genade te midde van oordeel en gevaar dat die Here se teenwoordigheid van ons onttrek kan word? 

Deur Sy Woord en Gees vernuwe God sy kerk

Skriflesing: Esegiël 37:1-28 
Teksvers: Esegiël 37:12-14

“Ons bene is verdor, ons verwagting is verlore!” Dit is klaar met ons… Hierdie woorde sny deur ‘n mens se hart. As iemand moed opgee en nie meer kans sien vir die lewe nie. As iemand nie meer krag het om aan te wil gaan nie! 

Dit is presies wat gebeur het met die ballinge in Babel. Toe hulle hoor Jerusalem het geval en die tempel is vernietig, het hulle hele wêreld en al hulle verwagtinge inmekaar gestort. Vandag staar ons iets soortgelyks in die gesig. Ons hele lewe en alles wat ons glo en vertrou word uitgedaag. Ook die bestaan van die kerk word bevraagteken… 

Ons staan vanoggend stil by die profetiese boodskap van hoop en verlossing as die Here aankondig dat Hy deur Sy Woord en Gees nuwe lewe skenk. Amen 

Jou lewe moet getuig van God se Verlossing en oordeel

Skriflesing: Esegiël 33:1-20
Teksvers: Esegiël 33: 7-11 

Die evangelie is ‘n Blye Boodskap van God se genade. Maar dit is ook ‘n boodskap van oordeel. Dit plaas ‘n enorme verantwoordelikheid op elkeen wat dit hoor, en elkeen wat dit glo. As God die oordeel aankondig en jy waarsku nie iemand nie, word jy verantwoordelik gehou. God plaas ons as wagters, as brandwagte in hierdie wêreld. Jou lewe moet getuig van Sy verlossing maar dit moet ook getuig van sy regverdige oordeel. Amen

Ds Lourens Venter 

Die pot is aan die kook

Skriflesing: Esegiël 11
Teksvers: Esegiël 11:16

Die Here praat in hierdie gedeelte deur Esegiël met die vals en misleidende leiers van Israel. Hierdie manne sê dat dit nie nou tyd is om huise te bou nie. Die stad is die pot en die Israeliete is die vleis. Daarteenoor sê die Here deur sy Gees dat Hy hulle gedag-tes ken. Dit is die misleidende leiers wat die mense in Jerusalem vermoor het. Die Here se daarom dat die vleis in die pot die mense in die stad is wat die misleidende leiers doodgemaak het.
Ja, die stad is soos ‘n doodspot, maar die Here sal hulle uit die doodspot red. Die getroue Verbondshere het aan Israel gesê dat hulle in ballingskap weggevoer gaan word as gevolg van hulle sonde. Dit gaan inhou dat hulle vir die duur van die ballingskap net die Here self by hulle sal hê as hulle heiligdom en hulle toevlugs-oord. So leer die Here vir Israel dat Hy alomteenwoordig is en nie vasgevat kan word in ‘n gebou nie. Hulle vertroue kan nie op iets gerig wees nie, maar net op die Here wat oral en altyd vir hulle ‘n werklikheid sal wees.

Laai af

Newer posts »