Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: 1 Kronieke

God se verbond met Dawid vir Altyd!

Skriflesing: 2 Sam 7:1-29; 2 Sam 23:1-7; 1 Kron 17:1-27; Luk 1:30-33
Teksvers: 2 Sam 7:11b-16; 1 Kron 17:11-14

Ons dink dikwels, dat as ons nie hard werk as Christene nie, God se koninkryk maar moeilik sal voortbestaan. Ons dink dikwels dat die kerk se voortbestaan van ons dienswerk afhang. 

Dawid wou vir God ‘n tempel bou, maar God woon nie in tempels wat mense maak nie. God se genade is egter so groot dat Hy ALTYD vir ons sorg en nie ons vir Hom nie. Ons dienswerk moet net in afhanklikheid, in diepe afhanklikheid en dankbaarheid geskied. 

Ons gaan na drie sake kyk: 

  • Die verbond met Dawid. 
  • Die verbond met Dawid, se verloop. 
  • Die verbond met Dawid, se vervulling. Luk 1:31-33 

Die HERE vind vreugde in opregtheid

Skriflesing: 1 Kronieke 29:1-25
Teksvers: 1 Kronieke 29:17, 22

“Ek weet, my God, dat U harte toets en vreugde vind in opregtheid” Hierdie woorde sny deur die hart van die mens. Ons wat so geneig is om voor te gee wat ons nie is nie. Ons wil tog so graag “oorspronklik” wees. Maar in ons strewe na opregtheid leef ons met valse harte. Ons dra maskers wat nie ten doel het om die kieme weg te hou nie. 

Ons staan vanoggend stil by die vreugde van die HERE in die opregtheid van die harte van sy kinders, as hulle Hom dien met al die skatte wat Hy self gee. Daarin sien ons ook die blydskap om te gee. Dit maak ‘n mens blyer om te gee, as om te ontvang. Amen 

Laat die harte van die wat die Here soek, bly wees

Skrifgedeelte: Ps. 19:4; 1 Kronieke 16:1-36
Teksverse: v10

Dit is maklik om deur teleurstellings moed op te gee. Dawid het met groot opgewondenheid die verbondsark vanaf Kirjat Jearim na Jerusalem wou terugbring nadat die Filistyne dit gesteel het, maar toe sterf Ussa. Dawid was verpletter. Sy geloof was ten diepste beproef.

Drie maande later verander sy benadering en sy gesindheid, en deur die Skrifgetroue benadering van die priesters wat die ark dra, word die verbondsark in Jerusalem na ‘n nuwe tuiste gebring. Dan roep Dawid uit: Laat die harte van die wat die HERE soek, bly wees…

Ons staan vanoggend stil by dit wat gelowiges bly maak. Amen

Gee wat God jou gee vir sy diens

Skriflesing: I Kron 29:1‑19
Teksvers: I Kron 29:5b,14,18

Dawid se hart was brandende vir die Here. Hy wil sommer ‘n huis, ‘n tempel vir die HERE bou. Dan word hy verbied en moet hy dié groot voorreg oorlaat aan sy seun, Salomo, wat ná hom koning sou word.

En dan sien ons hoe sy hart staan.. hy begin versamel en oorvloedig. Eintlik gee hy net terug! En dan volg hierdie belydenis wat ook op ons gedenksteen staan en wat die preekteks was tydens die ingebruikneming van ons kerkgebou 40 jaar gelede: “ Alles kom tog van u af en ons gee aan U wat ons van U gekry het” (I Kron 29:14). Vergelyk dit nou met ons tema en lees dan Romeine 111:33-36, veral vers 36.

Laai af