Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Nuwe Testament (Page 4 of 121)

Sien jy die Lam van God?

Skriflesing: Joh 1:19-34; Heb 12:1-3; Op 5:1-7; Job 42:5 (1983)
Teksvers: Johannes 1:29

Die Here leer ons in sy Woord om anders na dinge te kyk. Anders kyk is ook anders dink en doen. In ons eie gedagtes is ons mos tot alles in staat, maar in die oë van die Here net nog verlore sondaars! 

Hy roep ons op om die wonder van sy genade nie mis te kyk nie. Die Man van Nasaret, die seun van die timmerman, die mens Jesus, is die Een wat in staat is om die onmoontlike te doen. Om versoening tussen die heilige God en mense te bewerk. 

En die eenvoudige tekens van die Nagmaal stel u vandag weer in staat om Hom en sy versoeningswerk raak te kyk/sien: Die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. 

Gebruik jou gawes om die genade uit te deel

Skriflesing: Matteus 14:1-21 (1983)
Teksvers: Mat 14:16

Ons bekyk vanaand die wonder van die eerste vermeerdering van die brood en vissies. Hierdie perikoop vertel nie net dat Jesus mag het oor alles en brood kan vermeerder nie. Ja Hy kan vir die biddende gelowiges alles voorsien wat hulle benodig. 

Ons hoop egter om met die oog op die komende nagmaal (oor twee weke) nog dieper te kyk en raak te sien dat Jesus gesterf het om vir ons die hemelse brood van die lewe te gee, sodat ons dit kan uitdeel vir die hongeriges van hierdie wêreld. 

Sondebesef lei tot‘n dankbaarheidslewe

Skriflesing: Efesiërs 2:1-10 (2020)
Teksvers: Efesiërs 2:1 en 5

Efesiërs 2:1-10 is ‘n besondere perikoop wat handel oor die mens se sonde, sy verlossing in en deur Jesus Christus asook die verloste mens se lewe van dankbaarheid. 

Hierdie drie-deling kom ook in Romeine en ander boeke in die Bybel voor. Dit word verder gebruik in die Heidelbergse Kategismus, die doop- en nagmaalformuliere. 

Kom ons kyk weer nuut na die wonder-genade van die Here soos dit uiteengesit is in Efesiërs 2: 1-10. Verwonder jou weer opnuut oor die genade wat aan ons verkondig word in God se Woord, naamlik dat die Heilige Gees ons deur ons sondebesef lei tot ‘n smag na verlossing deur Jesus Christus, wat dan uitvloei in ‘n opregte dankbaarheidslewe. 

By die gemagtigde “Gerigsvoltrekker” is ek werklik veilig en is ek waarlik vry!

Skriflesing: Johannes 8:1-11 (2020)
Teksvers: Johannes 8:11

Inleiding: Die vrou voor Jesus is skuldig – daaroor is geen twyfel nie. Haar beskuldigers is ook skuldig – daaroor is ook geen twyfel nie. Sy én hulle verdien God se oordeel. 

Jesus skryf die eerste keer op die grond 
Die beskuldigers stap net weg. Hulle doen nie selfondersoek nie! 
Gee gehoor, gelowige, as jy tot selfondersoek gelei word. 

Jesus skryf die tweede keer op die grond 
Die beskuldigde loop nie weg nie. Sy bly by Jesus. 
Selfondersoek moet die regte koers aandui! 

Jesus gee die uitspraak 
Hy gee as “Gerigsvoltrekker” uitspraak 
Sy uitspraak dra volle gesag en bied ware vryheid 

Jerusalem daarbo is vry

Skriflesing: Galasiërs 4:21-5:1 (1953); Galasiërs 5:1 (1983); Openbaring 21:1-3; Psalm 87
Teksvers: Galasiërs 4:26; 5:1

Paulus se doring in die vlees was waarskynlik die Jode wat alles wat hy met sy sendingwerk opgebou het weer probeer afbreek het. Hulle wou die mense net weer aan die wet van Moses verslaaf en hulle van hulle nuwe vryheid beroof. 

Vandag bekyk ons die figuurlike verstaan van ware en vrye kerk-wees deur die beeld van “Jerusalem daarbo”. 

En dan kom die oproep van Paulus in Gal 5:2 – “Moet julle nie weer onder ‘n slawejuk laat indwing nie”. 

Hy vir wie baie vergewe is, het baie lief, maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief

Skriflesing: Lukas 7:36 – 50 (2020)
Teksvers: Lukas 7:47

Jesus maak hier ‘n noue verbintenis tussen vergifnis en liefde. Hierdie gedeelte vertel van ‘n vrou wat moontlik ‘n slegte lewe gelei het, en deur Jesus verseker is dat al haar sondes vergewe is. 

Die besef van haar baie sondes, het haar gedring om vir Jesus liefde te betoon en dankie te sê. Sy het nie aan die gebruike en voorskrifte van die Fariseërs gedink nie. Sy het haar besef van vergifnis, in liefdesdade laat oorgegaan. Daarom het sy met haar trane en salf Jesus se voete gewas en met haar hare droog gemaak. 

Wat word in jou lewe sigbaar as jy aan al jou sondes dink wat volkome deur Jesus Christus vergewe is? Kom ons dink ‘n bietjie na oor ons liefde vir die Here en vir mede-gelowiges. Onvergewensgesindheid lei tot liefdeloosheid of ’n gebrekkige behoefte om die Here en my naaste onvoorwaardelik en met oorgawe lief te hê. 

« Older posts Newer posts »