Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Openbaring (Page 1 of 8)

God alleen is waardig om die heerlikheid en die eer en die mag te ontvang

Skriflesing: Open 4:1-11; 5:1-14(1983) 
Teksvers: Open 4:11; 5:11,13,14 

Daar was nog altyd ‘n stryd in God se kerk op aarde. Ons lees daarvan in Openbaringe 1-3. Ons hoef egter nooit te twyfel of moedeloos te word nie. Juis in Openbaring 4 lees ons van God as Skepper, wat op sy troon sit en in Openbaring 5 van Jesus Christus wat alleen waardig en in staat is om boek in die Vader se hand oop te maak. 

Psalm 33:7 
(Berymd. Totius) 
“Die HEER wat bo die wentelkringe 
van son en maan sy rykstroon stig, 
aanskou die mense en alle dinge – 
daar’s niks bedek voor sy gesig. 
Uit sy vaste woning / waar Hy heers as Koning, 
sien Hy, Skepper-HEER, uit oneindig hoë / blou-deurglansde boë 
op sy skepsel neer.” 

1 Johannes sien die hemele op ’n skrefie oop. 
2 Johannes sien ’n troon. 
3 Johannes sien hoe alles en almal God loof en prys. 

Die Sleutel wat oopsluit

Skriflesing: Jesaja 22:15-25; Open 3:7-13; Joh 17:1-26
Teksvers: Jes 22:22-25; Open 3:7,8; Joh 14:6; 17:17b
HK: Sondag 31

Almal ken sleutels. Sleutels wat oop en toesluit. Belangrike plekke het gewoonlik “’n sleuteldraer”, iemand wat besluit wanneer ’n deur oopgesluit en wanneer die deur toegesluit moet word. Spesiale plekke het daarom sekuriteit en goeie deure en slotte om dit te beskerm en daarom moet die sleuteldraer spesiale sorg aan die dag lê, vir wie en wanneer en hoe hy oop en toesluit. 

  • Eljakim kry die sleutel om te dra. Jes 22:20-22
  • Jesus Christus is die sleutel na die hemel. Open 3:7
  • Die Woord sluit vir ons die ewige lewe oop. Joh 17:17b 

Die liturgie: Ons gebede soos wierook 

Skriflesing: Openbaring 8:1-5 (1983) Eksodus 40:1-5; 30:1-10,34-38
Teksvers: Openbaring 8:3,4

In die Tabernakel in die woestyn (en later in die beloofde land) staan die wierookaltaar reg voor die voorhangsel (gordyn).

Reg agter die voorhangsel staan die verbondsark met die versoendeksel en die twee gerubs daarop. Die rook van die wierrookaltaar kan eintlik nie by die verbondsark kom nie, behalwe eenkeer per jaar op die Groot Versoendag, as die hoëpriester daar ingaan namens die volk en met bloed en wierook in sy hande.

Nou het Christus die pad gebaan deur die voorhangsel heen (Heb 10:19), dit is deur sy liggaamlike offer aan die kruis. Ons gebede kan nou by die troon (verbondsark simbolies) van God uitkom. Daarom sien ons elke Sondag uit dat ons as gemeente saam kan kom bid.

Die Lam is Lofwaardig 

Skriflesing: Openbaring 4:1-5:14 (2020)
Teksvers: Openbaring 5:11-13

Musiek ontroer die siel. Dit streel die snare van die hart. Maar wat is dit tog om musiek te maak of ‘n lied te sing wat nie tot lof van God die Almagtige is nie? Aan die ander kant is die vraag: wat is die reaksie op die ontmoeting van die kerk met die Almagtige? Deur die eeue heen hoor ons hoe mense spontaan in lofliedere uitjubel oor die groot en magtige werke van die Here. 

So kan die kerk ook in die erediens sing! Ons kan die lof van God besing. Lofwaardig is die Lam. 

Die Liturgie: Die Groetseën 

GOD SE GENADE GEE VIR ONS VREDE 

Skriflesing: Openbaring 1:1-11(1983)
Teksvers: Openbaring 1:4-5

Die Here gebied sy seën oor elke leser van sy Woord, veral die luisteraars van die boek Openbaring. Dis die WIL van GOD dat ons uit sy seënende Vaderhand moet lewe. 

Maar ook elke Sondag weer kan u kom en Sy seën kom haal en huis toe, werk toe of skool toe neem. Elke Sondag gee die Here God aan sy gesalfde diensknegte die taak en voorreg om sy ryke seën van genade en vrede van God aan die gemeente uit te deel. 

Wil u dus sy geseëndes wees, kom haal dan elke Sondag die seën van die Here waar Hy dit ruim en onvoorwaardeklik aan u uitdeel in die heilige ontmoeting van die erediens en gaan leef u oorwinnaarslewe vanuit sy genade en in sy vrede! 

Die kleed van die bruid is die eer van God 

Skriflesing: Openb 19:1-10
Teksvers: Openb 19:7 en 8

Die kerk is die bruid van Christus. Maar ‘n bruid kan nie sonder ‘n trourok, ‘n bruidskleed, by die troue opdaag nie. In Openabring 19 word vir ons verduidelik hoe die bruidskleed lyk van die kerk. Dit is die regverdige dade van die heiliges. Die goeie werke wat ons doen, is die wyse waarop die bruid haarself gereed maak vir die bruilof van die Lam. 

Vandag vier ons die heilige Nagmaal. Dit is ‘n toonbeeld van die bruilof wat kom. Deur gedurig die dood van die Here Jesus te gedenk, word ons geloof versterk, en kan die bruid haar skoonheid sien in die spieel van God se Woord. Hoe lyk jou bruidskleed? 

« Older posts