Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Kolossense (Page 1 of 6)

Christus het deur sy opstanding die dood oorwin.

Skriflesing: Mat 28:1-10; Kol 3:1-17; Rom 8:11,34
Teksverse: Mat 28:5-7; Kol 3:1,2; 1 Kor 15:3-6,20,21

Die dood word dikwels beskou as ‘n onherroeplike, onherstelbare verlies.   Mense dink dit is die ergste wat met ’n mens kan gebeur, jy gaan dood en dan is dit klaar met jou.  Maar, Christus se opstanding uit die dood, is die grootste wonder van alle tye!  Juis die sondige mens wat nie glo in die opstanding nie, is hier totaal en al verkeerd bewys, wat menslik onmoontlik is, het deur die krag van God waar geword.   Die skepping het as ’n ware in afwagting asem opgehou, sou Jesus Christus uit die dood opstaan of nie.  Kolossense konstateer die feit dat ons saam met Christus uit die dood opgewek is.   Ons glo dit en bely dit en die Heilige Gees getuig dit in ons harte.  Dit is ook ons belydenis dat Christus nie net uit die dood opgestaan het nie, maar ook dat daar vir ons nut is in sy opstanding.

Jesus se bevel en opdrag: Julle moet mekaar liefhê!

Skriflesing: Joh 15:1-17; 1 Joh 4:7-21; Mat 22:34-40
Teksvers: Joh 13:34; Joh 15:9,12,17; 1 Joh 4:8; Kol 3:14; 1 Pet 1:22; 4:8

Jesus noem homself die ware/egte wingerdstok en sy Vader is die boer en almal wat in Jesus Christus glo, is die lote of takke van die wingerdstok. Die lote of takke word ook in twee kategorieë verdeel, die wat vrugte dra en die wat nie vrugte dra nie. 

Om vrugte te dra, moet die lote of takke gesond wees, vas aan die wingerdstok vanwaar die lote al hulle lewenssappe vandaan kry om vrugte te dra. Dit kan alles net gebeur as daar werklike liefde is. Liefde is die oorheersende en groot begrip van al die verhoudinge in die lewe. 

  • Die Vader het sy Seun lief. 
  • Die Seun het ons lief. 
  • Ons moet mekaar liefhê. 

Oordenking 13 Februarie

God se geopenbaarde en verborge wil.
Maandag 13 Februarie 2023
Lees: Gen 29 en 30 Kol 2v11-14

Deut 29:29 “Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet.”

Te veel kere in ons lewens, vergeet ons wat ons moet onthou en onthou ons wat ons moet vergeet.

Wat moet ons onthou?
Ons moet onthou wat God in die Bybel aan ons openbaar het. Dit is God se geopenbaarde wil. In die Bybel openbaar God aan ons wat Hy wil hê dat ons van Hom moet weet en wat Hy wil hê dat ons moet doen. Dit kom ook natuurlik na vore in die verbond wat God met ons gesluit het.

Sewe maal word die woord verbond in hierdie hoofstuk, Deuternomium 29 gebruik.
• ‘n Verbond is ‘n vaste ooreenkoms wat nooit deur God verbreek sal word nie.
Prof Jaap Helberg verklaar die verbond as volg:
“Verbond behels hier dat God in sy verkiesende genade die mens, of ’n groep mense, in ’n bepaalde verhouding met Horn stel wat nie net van momentele betekenis is nie, maar van blywende betekenis. God onderneem in die verbond sekere verantwoordelikhede teenoor die mens en bepaal ook sekere verantwoordelikhede wat die mens vrywillig teenoor Hom moet nakom.”
Wat is die inhoud van die verbond?
Die verbond het twee kante:
Eerstens God se kant, ons noem dit die monopleuriese karakter van die verbond. Gen 17:7

God het belowe dat Hy altyd vir ons ’n God sal wees. God sal altyd vir ons sorg as sy kinders. God wat so groot en almagtig en alomteenwoordig en alwetend is, sal altyd daar wees vir sy verbondskinders. Dit openbaar God in sy Woord duidelik aan ons.

Tweedens – Die mens se verantwoordelikheid, die dupleuriese karakter van die verbond.

Dan is daar egter ook verantwoordelikhede wat ons vrywillig moet nakom. Dit beteken dat ons God moet erken en bely en liefhê. Nou is dit so dat ons dit nie uit ons eie kan doen nie. Ons is sondaars wat altyd ons eie wil doen en nie God se wil nie. Maar God se genade is juis so groot dat Hy ons so liefhet dat Hy sy Seun Jesus Christus gestuur het om in ons plek die verbond ten volle te vervul en na te kom, omdat Jesus Christus volmaak en sonder sonde is.
Kol 2:13,14
13 ”Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.
14 Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.”

Wat is die geopenbaarde en verborge wil van God dan prakties?

Uit genade is God se beloftes altyd daar en Hy sal altyd sy verbond nakom.
Ons moet egter aan Hom gehoorsaam wees en opreg en eerlik ons na Hom bekeer.
Al is nog sondig en onvolmaak en kry dit nie reg om altyd gehoorsaam aan God te wees nie, word ons deur die Heilige Gees gelei om God te dien. Ja ook daarin help en lei God ons.
• Kom ons lees daarom elke dag die Bybel en luister na wat God van ons vra en doen biddend wat Hy vra.
• Kom ons bekeer ons elke dag van ons verkeerde weë.
Ons weet dat almal wat God sy kinders gemaak het, uit sy ryke genade, sal die koninkryk beërwe. Maar hulle wat niks met God te doen wil hê nie en doelbewus, uit eie keuse Hom verwerp, is self verantwoordelik vir hulle lot.

Ons wil U elke dag liefhê deur gehoorsaam te wees aan U geopenbaar wil soos wat ons dit in die Bybel lees.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts