Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Handelinge (Page 3 of 7)

Oordenking 29 Mei

Pinkster!

Lees: Hand 2:1-13 veral 1-4
1 “Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar.
2 Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek
gevul waar hulle gesit het.
3 Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.
4 Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit
aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.”

“Die Pinsterfees, (die uitstorting van die Heilige Gees), is 50 dae na die Paasfees, die kruisiging van ons Here Jesus Christus, gevier.
Jesus is met die Paasfees gekruisig en het volgens die boek Handelinge, 40 dae later na die Hemel opgevaar.
Die Heilige Gees is 50 dae na die Kruisiging en 10 dae na sy Hemelvaart oor die gelowiges uitgestort. ”
(Bybel in Praktyk. 1993:1651)
• Het jy al gebid om vervul te word met die Heilige Gees?
• Is die Uitstorting van die Heilige Gees en die vervulling van die Heilige Gees dieselfde saak?

Die mees prominenste Persoon, Persoon hier met ‘n hoofletter, in die boek Handelinge is, die Heilige Gees. Die Heilige Gees word ongeveer 90 keer in die boek Handelinge genoem. Dit beteken tog baie duidelik dat die Heilige Gees, self God, die derde Persoon van die Goddelike Drie-eenheid, ‘n baie belangrike rol vervul, of werking het in die gelowige se lewe.

Ons belydenis-skrifte is ook baie duidelik wat ons bely oor die Heilige Gees.
• Wie Hy is!
• Watter werk Hy doen …vir en in die gelowiges!

NGB – Artikel 11
DIE GODHEID VAN DIE HEILIGE GEES
Ons glo en bely ook
• dat die Heilige Gees van ewigheid van die Vader en die Seun uitgaan;
• dat Hy nie gemaak of geskep of gebore is nie, maar van albei slegs uitgaan;
• dat Hy in orde die derde Persoon van die Drie-eenheid is;
• dat Hy van een en dieselfde wese, majesteit en heerlikheid as die Vader en die Seun is;
• dat Hy inderdaad ware en ewige God is, soos die Heilige Skrif ons leer.

Maar waar kom Pinksterfees vandaan?

Die griekse woord vir Pinkster is – πεντηκοστή – pentēkostē. Dit beteken vyftig.
Die eerste plek waar ons van die Profetiese voorspelling van Pinksterfees lees is in Lev 23:15-17

15) “Van die dag ná die sabbat af, die dag waarop julle die are as beweegoffer vir die Here aanbied, moet julle sewe volle weke tel.
16) Die dag ná die sewende sabbat, op die vyftigste dag, moet julle vir die Here ‘n graanoffer bring uit die pas geoeste graan.
17) Elke gesin moet twee brode vir ‘n beweegoffer na die heiligdom toe bring. Dit moet van drie kilogram meel met suurdeeg gebak wees en is ‘n gawe aan die Here uit die eerste opbrengs van die oes.”

Jesus Christus openbaar Homself in Joh 6:35: “Maar Jesus sê vir hulle: “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”

In Hand 2:5-11 lees ons met die uitstorting van die Heilige Gees dat daar ten minste 15-17 groepe mense of kulture bymekaar was wat in hul eie taal die evangelie gehoor het.
• God het die Heilige Gees laat uitstort oor uitverkorenes uit alle volke tale en nasies.
• Ons opdrag is om die evangelie uit te dra.

Die Christelike pinksterfees is dus op die dag waarop die Ou Testamentiese pinksterfees gevier is, vervul.
Die 50 dae tussen die beweegoffer van die eersteling-gerf en die pinksterfees het aan die begin van die Nuwe Testament tussen die opstanding van Jesus en die uitstorting van die Heilige Gees verloop.
Ná die Sondag van Jesus se opstanding
• het 40 dae tot by sy hemelvaart verloop (Hand. 1:2-3), en
• ‘n verdere tien dae tot by die uitstorting van die Heilige Gees.
Ná die Donderdag van die hemelvaart het die dissipels hulleself tien dae lank in die bovertrek verootmoedig en gebid om die belofte van die Heilige Gees te ontvang.
Op die dag ná die sewende sabbat sedert paasnaweek is die Heilige Gees oor hulle uitgestort.

Bid dat jy elke dag met die Gees vervul sal word en dat die Heilige Gees jou elke dag sal lei!

Hierdie volmaakte tydsberekening vir die uitstorting van die Heilige Gees dui onmiskenbaar daarop dat…
• die bedeling van genade,
• wat ook die bedeling van die kerk of
• die bedeling van die Heilige Gees genoem word,
• die bedeling van die wet in God se raadsplan vir die mens vervang het.

Wat leer dit ons vandag?

Daarom bid ons nie meer vir die uitstorting van die Heilige Gees nie.
Ons moet daagliks bid om met die Heilige Gees vervul te word.

Toepassing

Ek moet my ou, vleeslike natuur afsterf en saam met Christus in ‘n nuwe lewe opgewek word.
Ek moet met die nuwe mens beklee word wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.
• Net die Heilige Gees kan my met die opstandingslewe van Christus beklee.

Dit is waarop die dissipels in daardie tien dae tussen die hemelvaart van Christus en die uitstorting van die Heilige Gees gewag het.

Verootmoedig jouself dan in hierdie tyd voor die Here.
Vertrou Hom vir volkome verlossing.
Verklaar jouself opnuut bereid om leeggemaak te word, sodat sy Gees jou lewe vervul.
Kom ons vertrou en bid tot die Here om …
• ons met sy Gees te vul en
• ons met sy Gees te lei, elke dag van ons lewens.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 18 Mei

Hemelvaart! Jesus Christus is by ons al die dae van ons lewe!

Lees: Hand 1:9-11
9 “Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ‘n wolk het Hom
weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie.
10 Terwyl Hy weggaan en hulle nog stip na die hemel kyk, het daar skielik twee mans in wit klere by hulle gestaan.
11 Dié sê toe vir hulle: “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

Mat 28:20b “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”

Kort nadat Jesus dit gesê het, is Hy met die wolke weggevoer, die hemel in. Die dissipels het Hom agterna gekyk, totdat hulle Hom nie meer kon sien nie.
Die vraag kan nou onstaan:
– Is Hy dan nie by ons, om ons te beskerm nie?
– Hy het mos so belowe!

Maar dit is nie ‘n nuwe vraag nie, hierdie vrae is al gevra in 1563 toe die Heidelbergse Kategismus geskryf is: Sondag 16 Vraag en Antwoord 47

Vr. 47 Is Christus dan nie by ons tot aan die einde van die wêreld soos Hy ons beloof het nie?
Ons bely dan:
Antw.
• Christus is ware mens en ware God.
• Wat sy menslike natuur betref, is Hy nie meer op aarde nie,maar wat sy, Godheid, majesteit, genade en Gees betref, gaan Hy NOOIT meer van ons af weg nie.

Vir die Post-moderne mens van die 23 ste eeu raak dit al moeiliker om te glo.
Hulle vra ….
• As ons ons Here Jesus Christus nie letterlik kan sien en hoor en selfs aan Hom vat nie, hoe weet ons dit wat Hy in die Woord sê is waar?
• Hoe weet ons dit is waar wat verkondig word?
• Hoe moet ons die Bybel verstaan dat Jesus self sê dat Hy by ons is en tog sien, hoor ons Hom nie letterlik nie?

Is hier ‘n teenstrydigheid of onwaarheid in die Bybel?

Daar is ’n baie duidelik bewyse in die Skrif daar dat hier GEEN TEENSTRYDIGHEID of ONWAARHEID is nie.
“Jesus sê aan sy dissipels, dit is sy Kerk, dat Hy met hulle is tot aan die voleinding van die aarde. Dit is tot met die wederkoms.”
Matt 28:20 “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”
Mark 16:19 “Nadat Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit.”

• Is Jesus Christus ook nou nog by en met ons hier in Suid Afrika in 2023?

Broeder en suster, Jesus Christus is altyd en altyd by ons!

Ons bely met oortuiging in die geloof, dat Jesus wel by ons is!

Mt 28:20b “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”

Hoekom ons dit met oortuiging glo, is omdat God dit in sy Woord aan ons openbaar en leer.
• Daar is geen vaagheid aangaande hierdie belofte nie.
• Want hierdie is ’n belofte, ’n feit in God se Woord.
• Jesus Christus het belowe dat Hy altyd by ons sal wees.
• Hy sal ons nooit verlaat nie.

Jesus is PERSOONLIK hier by ons, by jou teenwoordig.

Mat 18:20 “…want waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by julle.”

Mat 28:20b “Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van
die wêreld.”

  • Die Here is na sy Godheid by ons… “…om nooit meer van ons te wyk nie.
  • Jesus is by en met ons na sy genade.
  • Jesus is ook hier op aarde na sy majesteit
  • Jesus Christus is ook en veral in die Hemel.
  • Ons is nooit alleen nie, God is altyd by ons!

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

DIE WINS VAN DIE VERVOLGING

(DIE BLOED VAN DIE MARTELARE IS DIE SAAD VAN DIE KERK)

Skriflesing: Handelinge 1:8 en 7:54-8:40; Openb 6
Teksvers: Handelinge 8:1-4

Vergelyk gerus Handelinge 1:8 met Hand 8:1… Dieselfde, net andersom! Jesus Christus wat sien hoe sy kerk reageer op die opdragte wat Hy hulle self gegee het, neem nou die omstandighede en lei hulle (of ‘forseer’ hulle) daardeur om gehoorsaam te wees.

Vandag is
International Day of Prayer for the Persecuted Church.

Ons dink vandag aan al ons broers en susters wêreldwyd wat prooi geword het van die vervolging van die kerk van Christus. Tog kan ons nie maar net eenkant staan nie. Die vervolging het ook al tot naby aan ons gekom en die vraag wat ons moet vra: Wat wil die Here daarmee vir ons sê? Wie ore het het moet luister!

Deur Geloof in Jesus kan ons tot inkeer kom

Skriflesing: Handelinge 3:1-26
Teksvers: Handelinge 3: 19, 20, 26
HK Sondag 33

Bekeer julle want die koninkryk van die hemele het naby
gekom. So het Johannes die Doper, en natuurlik ons Here
Jesus self in die openbaar verkondig.

Verandering, en omdraai. ‘n Wegkeer en ‘n afkeer van wat
sondig is en wat boos is, na dit wat goed is.
Ons staan vanaand stil by Sondag 33 met die oog op geloof
en bekering, en dit wat goeie werke is.

Waar kom jou geloof vandaan?

Skriflesing: Handelinge 8:26-40
Teksvers: Handelinge 8:35-37
HK Sondag 25

Deur geloof alleen word ons gered. Dit is een van die solismes van die reformasie, Sola Fide. Die vraag is egter waar kom geloof vandaan? Wat veroorsaak dat mense glo? In hierdie merkwaardige verhaal van Filippus wat gelei word deur die Heilige Gees, sien ons die wyse waarop God Homself aan mense in besonder bekend maak deur sy Woord, en hoe die Heilige Gees deur die Woord werk.

Ons staan vervolgens stil by die gedagtes

  1. die Werkmeester,
  2. die Werkmiddel, en
  3. die Werkwyse

“Confession brings possessions”

Skriflesing: Handelinge 8:1-25
Teksvers: Handelinge 8:9-12
HK Sondag 22 en 23

Meer as ooit te vore is die “kerk” verdeeld oor wat die waarheid is. Elke profeet of pastoor stig ‘n gemeente na eie goeddunke en voorkeur. Hierdie sg. kwasi-kerk verkondig ‘n vreemde evangelie en ‘n vreemde beloning van dit wat die Skrif ons leer. Weelde en voorspoed, wêreld se roem en rykdom is eerder die oogmerk as die koninkryk van God se verbreiding. 

In die lig van ons belydenis oor die weldade wat ons deur Christus ontvang, sowel as die vrug van die werk van die Heilige Gees, kyk ons vanaand na Handelinge 8 en die sonde van Simonie en voorspoedsteologie. 

« Older posts Newer posts »