Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Efesiërs (Page 1 of 7)

Sondebesef lei tot‘n dankbaarheidslewe

Skriflesing: Efesiërs 2:1-10 (2020)
Teksvers: Efesiërs 2:1 en 5

Efesiërs 2:1-10 is ‘n besondere perikoop wat handel oor die mens se sonde, sy verlossing in en deur Jesus Christus asook die verloste mens se lewe van dankbaarheid. 

Hierdie drie-deling kom ook in Romeine en ander boeke in die Bybel voor. Dit word verder gebruik in die Heidelbergse Kategismus, die doop- en nagmaalformuliere. 

Kom ons kyk weer nuut na die wonder-genade van die Here soos dit uiteengesit is in Efesiërs 2: 1-10. Verwonder jou weer opnuut oor die genade wat aan ons verkondig word in God se Woord, naamlik dat die Heilige Gees ons deur ons sondebesef lei tot ‘n smag na verlossing deur Jesus Christus, wat dan uitvloei in ‘n opregte dankbaarheidslewe. 

Innerlike groeikrag

Skriflesing: Efesiërs 3:16-19 (1983)
Teksvers: Efes 3:15

In die kerklike Feesjaar val Pinkster op die Sondag tien dae nà die Hemelvaart. In die gees van die genadegawe van Pinkster bid Paul hierdie gebed. 

Jy kan al die wette en letters ken en onthou en stiptelik volg, jy kan al die tradisies ken en slaafs uitvoer, maar sonder die innerlike vernuwing van die Heilige Gees bly dit net oppervlakkige, waardelose en kragtelose godsdiens. 

Kom ons bid hierdie gebed vir onsself en ons gemeente. 

Heilsorde(4): Die gawe van Geloof

Skriflesing: Ef 2; Filip 2:12,13 (1983)
Teksvers: Efesiërs 2:8

Die wonder van die heilsorde is daarin geleë dat dit altyd God is wat aan die werk is in mense se lewens. Sy ingrypende werk bring redding en verlossing. 

Dit is egter so dat die genadige werkinge van God in ons, ons ook aan die gang sit om werksaam te raak. Ons is immers nie dooie blokke of skaakstene wat net rondgestoot of geskuif word nie. As God die geloof in ons werk, dan glo ons ook werklik. En daardie reddende geloof is die ware geloof wat die wedergebore mens nou aan Christus, as Verlosser bind. 

Deur jou geloof word jy gered! 

Uitverkies met ‘n doel?

Skriflesing: Efesiërs 1:1-14 Prediker 2 (1983)
Teksvers: Efesiërs 1:4

In ’n stukkende wêreld vol pyn en trauma lyk alles dikwels so doelloos en leeg. Dit is nie snaaks dat mense na die ware sin van die lewe soek nie. Die hele boek Prediker gee byvoor-beeld op ’n besondere wyse aandag aan hierdie vraag. Ps 73 vra die vraag weer vanuit die gelowige se waarneming dat dit skynbaar so goed gaan met ongelowiges. Dit verbyster hom. Tog as hy eers naby God kom vind hy ander antwoorde. 

Paulus draai nie doekies om nie. Vir die Efesiërs gee hy die antwoord ondubbelsinnig: God het ons gemaak om Hom te dien. Niks anders nie. 

Hierdie waarheid word van nog groter waarde as ons onthou dat Paulus, as hy hierdie dinge skryf, in die tronk sit! 

Aan God al die lof en die eer!

Skriflesing: Psalm 100; Ef 1:1-14 (1983)
Teksvers: Ef 1:3,6

God is onmeetlik groot. Ons kan God nooit ten volle verstaan nie want ons is die skepping van sy hande. Tog is God se genade so groot dat Hy ons ryklik seën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 

Hierdie seëninge is die geloof, die uitverkiesing, die heilige lewe in en deur Jesus Christus, die geestelike gawes wat ons deur die Heilige Gees ontvang. God het ons as sy kinders aangeneem deur Jesus Christus. Dit word telkemale met die gebruik van die Hielige Nagmaal opnuut aan ons verkondig. 

Ons is God se kinders deur Jesus Christus. Daarom kan ons nie anders as om elke dag God te loof en te prys en te aanbid nie. 

« Older posts