Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: 2 Tessalonisense

Bid vir God se bewaring in die Woordverspreiding

Skriflesing: 2 Tes 3:1-5
Teksvers: 2 Tes 3:1

Daar is orde in die lewe. Hierdie orde moet die Woordverspreiding ondersteun en ten grondslag wees. Die Bybel moet gebruik word om die evangelie te versprei, daarom moet ons op God alleen vertrou want Hy is getrou. Hy alleen sal sy kinders bewaar en versterk om evangelisasiewerk te doen.

  • Paulus vra voorbidding.
  • Paulus vra voorbidding vir evangelisasie.
  • Paulus vra voorbidding vir bewaring.

Deur volharding in geloof word ons die koninkryk van God waardig geag

Skriflesing: 2 Tessalonisense 1:1- 2:17
Teksvers: 2 Tessalonisense 1: 3-5

Elke dag beleef ons uitdagings om nie moedeloos te word en handdoek in te gooi nie. Ons voel so magteloos teen al die reëls en regulasies en natuurlik die onsekerheid van die siekte. Baie mense is emosioneel uitgeput en gespanne. Niemand weet wat more inhou nie. Dit was eintlik nog altyd so. Nie op dieselfde manier nie, want daar was voorspelbare planne. Ons lewens was vooruit geskeduleer in ons dagboek.

Dit is juis wat geloof so kosbaar maak. Dat ons kan vashou aan die sekerheid van God se Woord, al val die wêreld rondom ons inmekaar. So het die gemeente in Tessalonika ook volhard in die geloof ten spyte van die teenstand en vervolging wat hulle ervaar het, en selfs vererger het.

Deur volharding in die geloof word ons geslyp en getoets sodat ons die koninkryk van God waardig mag wees. Amen

Wie nie wil werk nie, mag nie eet nie

Skriflesing: 2 Tessalonisense 3:1-18 
Teksvers: 2 Tessalonisense 3:10 
HK Sondag 38 

Elke jaar gedenk ons op die 1ste Mei Werkersdag. Dit is nogal ironies dat Werkersdag ‘n vakansiedag is. Gegewe dat ons land ‘n geweldige hoë werkloosheidskoers het, maak dit eintlik nie sin nie. Waarom sal ons dan nie wil werk op Werkersdag as daar soveel mense sonder werk sit nie? 

Ons kyk vanaand na die 4de gebod in die lig van God se bedoeling van rus en werk met die tema: wie nie werk nie, mag nie eet nie… Amen 

Die “Waarheid” oor die leuen oorwin die leuen oor die waarheid

Skriflesing: 2 Tess 2
Teksvers: 2 Tess 2:9-13

God openbaar dat die eindtyd, met die verskyning van die wet-telose, gepaard sal laat gaan met groot magsvertoon en aller-hande vals tekens en wonders. Verder sal daar skrikwekkende misleiding van dié wat verlore gaan plaasvind.

Dit sal alles gebeur omdat die ongelowiges nie die waarheid van die Woord van die Here aanvaar het nie. Hulle wou ook nie die redding in Jesus Christus aanvaar het nie. Dit is ook waarom God hulle aan die mag van die dwaling sal oorgee en sal veroordeel. God gee die ongelowiges oor om die leuen van die Satan as die waarheid te glo.

Diegene wat die Here lief het en uitverkies het, sal egter gered word. Hierdie redding is alleen moontlik deur die werk van die Heilige Gees vir elkeen wat in die Waarheid, Jesus Christus, glo.

Laai af