Skriflesing: 1 Petrus 3 (2020) Teksvers: 1 Petrus 3:8-9
Word ‘n mens se lewe regtig radikaal verander op grond van jou geloof in Jesus Christus? Die vraag word gevra omdat die Here in sy Woord soveel dinge aan ons voorhou wat nie altyd in alle gelowiges se lewe realiseer nie.
Kyk maar na die riglyne wat die Here aan ons voorhou in 1 Petrus 3: Mans en vrouens word gelei tot selfondersoek of hulle werklik die man of vrou is soos wat die Here dit aan ons voorhou? Veroorsaak die riglyne van die Here nie net onnodige spanning en skuldgevoelens nie? Tog kom die Here deur sy Woord en Gees om ons op te roep om eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig en nederig te wees. So asof dit somer so maklik is om die positiewe gesindhede altyd en oral teenoor ons mede-gelowiges en die ander mense te openbaar.
Dit is daarom so belangrik dat ons by hernuwing sal besin oor die rede waarom die Here hierdie riglyne aan ons voorhou en hoe hierdie radikale lewensverandering in ons kan plaasvind.
Lees: 1 Petr 5:12-14 12 “Silvanus, wat na my mening ‘n getroue broer is, het vir my hierdie kort briefie aan julle op skrif gestel. Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan hierin vas! 13 Die gemeente in Babilon, ‘n uitverkore gemeente net soos julle, asook Markus, my seun, stuur vir julle groete. 14 Groet mekaar met ‘n soen van Christelike liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus is!”
Petrus sluit hierdie eerste brief af met groeteboodskappe en in vers 14: “Groet mekaar met ‘n soen van Christelike liefde.” Ons lees op ten miste vier plekke in die Nuwe Testament dat ons mekaar met ‘n christelik kus of soen, moet groet. Rom 16:15; 1 Kor 16:20; 2 Kor 13:12; 1 Tess 5:26;
Rom 16:15 “Groet mekaar met ’n heilige soen…” Paulus
Hierdie is nie ‘n opdrag wat beteken dat ons mekaar vandag nog so moet soen nie. Nee dit was die manier van groet in daardie tyd. ‘n Man het ‘n ander man op die wang gesoen. ‘n Vrou het ‘n ander vrou op die wang gesoen. Dit was ‘n standaard manier van groet in daardie deel van die wêreld, in daardie tyd spesifiek. • In die ooste groete hulle mekaar met ‘n buiging. • In die weste groete ons mekaar met ‘n handdruk. Maar Paulus veral praat van: “soen mekaar met ‘n heilige soen of kus”. Heilig dui juis daarop dat dit geen ander bedoeling het as ‘n afgesonderde gebruik, tussen christene, wat mekaar erken en liefhet in Jesus Christus nie.
Kan ons onsself indink hoe dit moes wees as ‘n slaaf sy eienaar met ‘n heilige kus gegroet het, want alhoewel die verhouding steeds slaaf en eienaar is, is hulle nou ook broers in ons Here Jesus Christus.
Maar dan sluit Petrus hierdie brief af met ‘n seënspreek:
“Vrede vir julle almal, wat in Christus is.”
Petrus sluit die brief af met sekerlik die grootste en belangrikste en betekeniswaardigste wens. • Genade vir julle en vrede word vermenigvuldig. • Die seëninge wat vir hulle verlang word, is genade en vrede. Genade. Die vrye guns van God, met al sy behoorlike uitwerking, vergifnis, genesing, bystand en redding. Vrede. Allerhande vrede mag hier beoog word, huislike, burgerlike, kerklike vrede in die kerk en geestelike vrede met God, met die sekerheid wat vrede bring.
So word afgesluit met ‘n seënwens, wat hy beperk tot diegene wat in Christus Jesus is, met hom verenig deur geloof en gesonde lede van sy liggaam, die kerk is.
Amen, in teken van sy ernstige begeerte en ongetwyfelde verwagting dat die seën van vrede die deel van al die gelowiges sou wees.
So het ons ook hierdie brief, die Eerste brief van Petrus dan vir die afgelope vier maande bestudeer. • Mag God ons almal se lewens verryk met Sy Genade en Vrede en Liefde. • Mag God elkeen van julle seën met ryklike seëninge daar waar julle is. • Mag julle God se liefde ontvang, dit uitleef in julle lewens en mag ons die lyding wat ons nou moet verduur met geduld en liefde ervaar, want ons weet, ons Burgerskap is in die hemel waar alles nuut en volmaak en ten volle in vrede sal wees.
Kom ons bid saam Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com
God roep ons uit genade om deel te hê aan die ewige Heerlikheid!
Lees: 1 Petr 5:8-11 (10) 8 “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. 9 Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur. 10 God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. 11 Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen.”
Ons lees dikwels in hierdie gedagte-eenheid, net die gevaar raak van die Satan wat rondloop soos ‘n brullende leeu.
Maar in vers 9 en 10 lees ons van God se groot genade. Hulle wat standvastig in die geloof bly, ontdek die groot genade dat God altyd daar is. Die duiwel kan geen kind van God permanent van God af wegtrek of verlei nie.
God staan nie afsydig van die ware, opregte gelowige nie. God bly getrou. God is getrou aan Homself, aan sy beloftes. Trouens in 1 Kor 10 vers 13 lees ons dat God is getrou en sal nie toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie. “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.”
God self is teenwoordig by ons beskerming. Daarvoor het Hy Sy Seun Jesus Christus gestuur wat gesê het dat Hy nooit weer van ons sal weggaan nie, al is Hy nou in die hemel aan die regterhand van God. Jesus Christus, self God is Alomteenwoordig. Daarom is Hy ook by ons en met ons.
Die Heilige Gees is ook aan ons gegee om in ons te woon en ons elke dag deur die Woord te lei. Daarom moet ons elke dag bid en Bybellees en vra dat God deur die Gees en Woord ons sal lei.
Ons is nie net sommer mense op aarde nie, ons is deur God geroep en deur die genade bevestig. God het ons self geroep en die roeping in ons geplaas, sodat ons Hom WIL en KAN dien. Dit is hoekom daar soveel vreugde in is om die Bybel te lees en te bid en saam met die gemeente eredienste te kan hou en oordenkings te kan luister en om met God besig te wees.
Daarom is die lyding op aarde maar kort en gering. Ja selfs al is ons lyding ons lewe lank, die ewige heerlikheid is ewig. Daar is ons skatte. Daar kan mot en roes nie verniel nie. (Mat 6:19) Daar kan diewe nie inbreek en steel nie. Daar is volmaakte harmonie en liefde by God.
2 Kor 4:17-18 “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. 18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”
God se beloftes is ook in hierdie gedeelte direk aan ons gegee. God sal self ons oprig, bemoedig, sterk en standvastig maak. Dit beteken in geheel gesien dat God sal ons vashou, toerus, bemagtig teen die aanvalle van die Satan, die wêreld en ons eie vlees. God doen dit deur die Heilige Gees en die Woord wat kragtig in ons werk om ons te versterk. God rus ons toe met innerlike sterkte.
Daarom dat Paulus ook hierdie oproep kragtig aan ons rig in die boek van Kolossense: Kol 1:22 “Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel. 23 Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie. Dit is die evangelie wat aan al die mense op die aarde verkondig is en waarvan ek, Paulus, ‘n dienaar geword het.”
Kom ons bid saam Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com
Wees waaksaam! Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu.
Maandag 15 Mei 2023 Lees: 1 Petr 5:8-11 “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand (die teëstander), die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. 9 Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur.”
In hierdie tweede laaste gedagte-eenheid van die eerste brief van Petrus lees ons van twee sake: • Satan wat rondloop soos ‘n brullende leeu En • God se genade.
Jesus het vir Petrus ‘n paar keer gewaarsku dat Satan agter hom aan is. Satan val christene en veral die leiers altyd aan. Satan se aanval is reël en eg en ons moet as christene altyd teen hom waak. Daar is egter te veel christene wat aan die slaap gesus is en nie werklik waak nie. Die satan werk agteraf en dikwels in die nag. In die gelykenis van die saaier lees ons in Mat 13:25 “Een nag, toe die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid tussen die koring gesaai en verdwyn.” 39 “…die vyand wat die onkruid saai, is die duiwel.” Satan werk in die donker, agteraf, op slinkse maniere. Satan is ‘n leuenaar en ‘n moordenaar.
Ons lees van Satan in Joh 8:44 “Julle is kinders van die duiwel; hy is julle vader, en julle wil doen wat julle vader wil hê julle moet doen. Hy was van die begin af ‘n moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal praat, is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader van die leuen.”
Wat moet ons doen om Satan teen te staan?
Wees waaksaam! Ons moet biddend, altyd op die uitkyk wees teen Satan se aanvalle. Hy doen dit baie slinks en agteraf, sodat jy dit nie maklik agterkom nie. Toe koning Dawid nie uitgegaan het om oorlog te maak saam met sy manne nie, het hy vir kwaadgeld op die paleis se dak rondgeloop en met Batseba onsedelikheid en moord gepleeg. (2 Sam 11) Toe Petrus te vol selfvertroue was, wou Hy Jesus met geweld en moord beskerm en het hy Malgus se oor afgekap. (Joh 18:10) Weerstaan die duiwel! V9 Dit beteken dat die christene, in die kerk moet saamstaan om die duiwel teë te staan. Dit is soos ‘n weermag wat saamstaan teen die vyand. Christene moet teen Satan weerstand bied. Fil 1:27-30. “Ons moet volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie.” Ons kan nie op ons eie staande bly nie. Dit is so belangrik om aan ‘n kerk te behoort om daar ondersteuning en onderskraging te kry. Hou saam met jou mede-christene eredienste.
Glo onvoorwaardelik! Ons moet onvoorwaardelik glo dat ons reeds meer as oorwinnaars is deur Hom wat ons krag gee. In Rom 8:31-39 lees ons dat ons die oorwinning al klaar bereik het, dat ons in Christus niks te vrees het nie. Maar juis omdat ons kinders van God is moet ons nooit ophou stry in die geloof nie. Ons moet biddend en doelbewus die Satan weerstaan in ons lewens deur te lewe tot eer van God. Vlug weg van alles wat jou van God af kan aftrek. Die Bybel is die swaard van die Gees wat ons altyd moet gebruik. Lees jou Bybel elke dag en bid elke dag en die Heilige Gees sal jou krag gee om weerstand te bied.
Onthou! Onthou dat jy nie alleen is in die stryd teen Satan nie. Satan val alle christene aan. Satan werk veral in die kerk. Satan werk veral om deur allerhande maniere onmin te saai en wantroue en afval ook in die kerk. Stry dus saam as gelowiges teen die Satan.
Kom ons bid saam Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com
God weerstaan die hoogmoediges maar aan die nederiges gee Hy genade.
Donderdag 11 Mei 2023 Lees: 1 Petr 5:5 2020 5) “Net so moet julle wat jonk is, ondergeskik wees aan die ouderlinge. Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want… “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” 6) Daarom verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog. 7) Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy gee vir julle om.”
Die Bybel is baie prakties, want God is Alwetende en Hy weet presies wat om aan ons te openbaar. Daarom skryf Petrus hier dat die jongmense van die gemeente moet luister na die ouer mense van die gemeente en spesifiek na die ouderlinge. Die broeders wat ouer is met meer wysheid en lewenservaring, ryper insig en wat al met die kennis van jare kan praat.
Hierdie nederigheid word in die griekse taal beskryf met ‘n voorskoot wat jy aansit om ander te dien. Plaas ‘n voorskoot aan, beklee jou, sodat jy ander kan dien en bedien kan word, sonder om jou klere vuil te laat word met die verkeerde hoogmoed van die wêreld.
Een van die grootste probleme in die lewe is hoogmoed.
Spr 3:34-35 34 “Met hooghartige spotters dryf Hy die spot, maar Hy is goed vir dié wat beskeie is. 35 Wyse mense verkry eer, maar dwase kom al hoe meer in die skande.”
Jak 4:6 – 1 Pet 5:5b “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.”
Hoogmoed gaan oor mense wat nie hulleself volkome voor God wil buig in ootmoed nie. Dan gaan dit oor hulle eie behoeftes, besluite, en hulle eie lewe. Dan is ek vir myself belangriker as om voor God te buig. M.a.w. mense wat nie ten volle voor Jesus Christus wil buig en hulle volle verlossing en genade van Hom verwag nie. Jesus het juis self ook aan ons geleer in …
Mat 11:29 “Leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele.”
Die kind van God wat in diepe afhanklikheid en nederigheid leef, sal van God rus vind. Vir party is daardie rus alreeds op aarde gedeeltelik beskore. Ten minste is dit vir ons beskore dat ons verseker weet dat God altyd vir ons sorg, of dit mensliker-wys goed gaan of nie. God is in beheer. God is altyd by ons. Maar verseker sal ons God se volle genade ten volle ondervind as ons die hemelse heerlikheid ingaan. Dan sal ons weet, dat God se kragtige hand, deur Jesus Christus, ons ten volle verlos het, dat ons die ewige lewe binnegaan.
Daarom hoef ons oor niks besorg te wees nie volgens Mat 6:25-34. God sorg vir die lelies in die veld. God sorg vir al die wilde diere. God sorg soveel te meer vir ons. Werp al jou bekommernis op God. Vertrou volkome op sy genade in en deur Jesus Christus. Weet dat God deur die Heilige Gees jou lei en dat jy altyd sy genade sal beleef in voorspoed en in druk. Ps 34.
Kom ons bid saam Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com