Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 5 of 39)

Stemdag 29 Mei 2024

Dit is ons standpunt, dat dit die plig en verantwoordelikheid van elke Christen is om te stem. God is sekerlik in beheer, maar dit beteken nie dat ons niks verder hoef te doen, wat Sy wil bevorder nie. Ons het die opdrag ontvang om vir ons leiers te bid (1 Tim 2:1-4). In die Skrif is daar bewyse dat God nie altyd tevrede is met ons leierskapkeuses nie (Hosea 8:4). Die tekens van die greep van sonde is oral in hierdie wêreld te bespeur. Baie van die aardse lyding is as gevolg van goddelose leierskap (Spreuke 28:12). Die Skrif gee aan Christene opdrag om die wettige owerheid te gehoorsaam, tensy dit die Here se wette weerspreek (Hand 5:27-29; Rom 13:1-7). As wedergebore gelowiges, behoort ons leiers te kies, wat self ons Skepper as leier erken (1 Sam 12:13-25). Kandidate of benoemdes wat die Bybelse opdragte in verband met lewe, familie, huwelik of geloof verwerp, moet nooit ondersteun word nie (Spreuke 14:34). Christene moet stem soos gelei word deur gebed en bestudering van beide God se Woord en die realiteite van die keuse op die stembrief. 

Christene in baie lande in hierdie wêreld word verdruk en vervolg. Hulle ly onder regerings, waaraan hulle niks kan verander nie en regerings wat hul geloof haat en hul stemme stilmaak. Hierdie gelowiges verkondig die Evangelie van Jesus Christus deur hul eie lewens in gevaar te stel. In die VSA is Christene geseënd met die reg om te praat en hul leiers te kies, sonder om vir hulself of hul families te vrees. In die VSA, in onlangse verkiesings, het 2 uit elke 5 self-erkende Christene die reg van die hand gewys en nie gestem nie. Ongeveer 1 uit 5 self-erkende Christene, geskikte Christene, is nie eers geregistreer om te stem nie. 

In die hedendaagse lewe is daar baie wat die Naam en boodskap van Christus heeltemal uit die publieke arena wil hou. Deur te stem het ons die geleentheid om ‘n godvresende regering te bevorder, te beskerm en te behou. Deur daardie geleentheid te laat verbygaan, beteken dat diegene wat geen ontsag vir die Naam van Christus toon nie, toegang tot ons lewens kry. Die leiers wat ons verkies – of aan wie ons niks doen om te verwyder nie – het groot invloed op ons vryhede. Hulle kan kies om ons reg om te aanbid en die Evangelie te versprei, te beskerm of hulle kan daardie regte inperk. Hulle kan ons volk op die pad van geregtigheid lei of tot morele verwoesting. As Christene moet ons opstaan en ons opdrag uitvoer, om ons siviele pligte te volbring (Matt 22:21). 

Ds Maarten 

ONS KONING OP DIE TROON

As die apostel Johannes ‘n oomblik deur die skrefie van die hemeldeur kyk, sien hy die troon in die middel (Op 4) en die wesens en ouderlinge rondom die troon. Kyk hy nog dieper dan sien hy die Lam van God op die troon met die boekrol van die geskiedenis van kerk en wêreld in sy hande (Op 5). 

Sedert die hemelvaart sit Hy koninklik op sy troon en sy dienaars dien Hom. Miljoene engele om sy troon wat blitssnel elke bevel tot op die keper uitvoer, terwyl hulle die Koning van die konings aanbid. Hoog verhewe en heilig is Hy. Hy het absolute mag oor alles en almal. 

Naas hierdie magsuitoefening is Hy daar ons ook ten goede. Hy is ons Voorspreker en Middelaar. Hy praat met die Vader oor ons. Hy tree in vir sondaars wat Hy met sy kosbare bloed vrygekoop het. Hy wys dan sy deurboorde hande en voete aan die Vader, en ter wille van Jesus, die Lam van God, verhoor die Vader sy bede en luister Hy weer na ons gebed. 

Ons kan immers nie maar net ‘gou-gou’ met ons Vader praat nie. Hy is God en nie maar net jou vriendjie nie. Jy kan alleen maar in die Naam van jou Middelaar tot die Vader nader. 

Laat dit dan ons erns wees om tydens ELKE gebed die Vader aan te roep, IN DIE NAAM VAN DIE HERE JESUS CHRISTUS, want in ons eie naam is ons nie aanneemlik voor God nie. In die Naam van Jesus, sal die Vader ons vergewe en elke gebed hoor en soos ‘n goeie Vader aan ons gee, wat ons nodig het. 

Laat die Heilige Gees jou so lei in jou gebede om slegs deur Jesus Christus tot die Vader te nader. 

Ds Maarten 

Dink aan die vervolgde kerk

Uit die oog is uit die hart, lui die bekende gesegde. Hierdie woorde beskryf egter baie meer as net om nie iets of iemand te sien nie, en dan van hulle te vergeet. Met al die tegnologie van die 21ste eeu, kan ons wêrelde oorbrug wat voorheen ondenkbaar was. In ‘n oomblik stuur ons boodskappe, sommer so met die telefoon, of sien ‘n foto of video wat pas geneem is in ‘n ander kontinent.

Dalk sien ons te veel, dat ons nie meer vandag alles kan onthou nie. Of dalk is daar te veel om te sien dat ons nie by almal uitkom nie. Hoe dit ook al mag wees, is een kwessie sonder twyfel dat ons nie op hoogte is van die vervolging van Christene vandag nie. Ons sien baie video’s en hoor baie stories, maar daar is min wat regtig ons hart aanraak.

Dit is nie omdat ons nie omgee nie, maar eerder ons eie omstandighede en uitdagings of selfs ons gebrek aan begrip van hoe dit kan moontlik wees dat mense in hierdie moderne era hulle lewens verloor oor dit wat hulle glo…

Miskien is ons grootste probleem: uit die hart is uit die oog. Omdat ons nie regtig weet wat vervolging is nie, het dit nie so groot invloed op ons lewe nie. Dink maar aan die Korintiërs waarvan ons tans lees, hoe Paulus hulle aanmoedig om te dink aan die Christene in vervolging in Israel, en hoe die gemeente ‘n kollekte opneem om daardie gelowiges te ondersteun vanweë hulle armoede en nood.

Deur hierdie kollekte, sal daar met groot dank aan God, uitkoms wees vir die vervolgdes. So kom daar ‘n eenheidsband tussen Korinte en Jerusalem wat verbind word deur geloof in Jesus Christus.

Daar is tans geweldige vervolging van Christene op verskeie plekke in die wêreld. Daar is in besonder stemme uit Iran wat pleit vir uitkoms. Die oorlog in Israel en Gaza het ook gevolge vir Christene. Ons hoor van vervolging in Indië, en nou ook al hoe meer op ons eie kontinent. Vol-gens Geopende Deure se webblad tans, is Somalië 2de, Libië 3de, Nigerië 6de en Sudan 8ste .

Baie van daardie Christene vlug, ook na Suid Afrika. Ds Eric Kayayan, voorheen sendeling van GK Rietvallei, wys my onlangs op hoeveel mense uit Middel- en Noord-Afrika hier kom werk soek en oral maklik te vind is in ons eie gemeenskappe. Mense wat in nood is. Wat vatbaar is vir die evangelie van hoop.
Mag ons nie van die vervolgde Christene vergeet nie. Nie uit ons oog of uit ons hart nie, maar nog minder uit ons gebede.

Raak betrokke en ondersteun sendingaksies soos ds. Eric Kayayan by foi-vie.org.za of ds. Victor d’Assonville by vsod.co.za of Rajesh Kumar van Indië of een van ons ander kerklike uitreike na die buiteland. Besoek ook Geopende Deure se webblad en leer van die besondere wyse waarop Christene onder vervolging ondersteun word.

Dink aan die vervolgde Kerk!

Lourens (vdm)

Die Here gee sodat ons kan gee 

(Gal 6:10) 

Die werkwoord “gee” het te doen met die gawes wat ons aan ander en aan die Here bring. Die beginsel wat van Gen 14:18-20 en wat regdeur die Bybel as riglyn loop, is ʼn tiende of tien persent van alles wat jy ontvang. Wat ons het, het ons van die Here ontvang. Hy gee sodat ons kan gee. So toets Hy ons gesindheid. 

Jesus het ook nooit gehuiwer om die onderwerp van geld aan te spreek nie. Elf van sy 40 gelykenisse verwys bv na geld. Geld is immers so alledaags dat ons almal die voorbeeld daarvan kan snap. Geld is nie die probleem nie, maar wel geldgierigheid. Paulus skryf aan Timoteus: “Geldgierigheid is die wortel van alle kwaad” (1 Tim 6:10). Geld kan ʼn afgod in ons lewe raak en daarvoor waarsku Jesus in die Bergrede: “Julle kan nie God en Mammon dien nie!” 

Die Here wil egter dat die bekering van die nuwe lewe in Christus, ons tot diep in ons beursies raak. Daarom toets Hy ons vrygewigheid (2 Kor 8). 

Bring dus die hele tiende na My voorraadkamer, sê die Here, …” anders beroof ons God (Maleagi 3:8-12). God gee aan ons, sodat ons kan gee. 

U kan benewens u kerklike bydrae en die kollektes vir die armes en barmhartigheid ook nog bydra vir die volgende en ander instansies: 

  • Teologiese skool en Studentekas 
  • Mukhanyo Theological College (waarvan ons gemeente ‘n lidkerk is) 
  • Transoranje Instituut vir Buitengewone Onderwys 
  • Bybelverspreiding en Biblos 
  • Evangelisasieprojekte en GKSA Sendingfonds 
  • Projektefonds van die Kerk 
  • Crossroads Gevangenisbediening 
  • Koningskinders 
  • Kerklike Tydskrifte, DKB, Vroueblad en Kruispad 
  • Ander verdienstelike sake of organisasies 

Oorweeg selfs een van hierdie sake in u boedel en testament. Mag die Here ons ook in die finansiële aspekte van ons geloof en godsdiens seën, en mag ons altyd waarlik dankbaar wees vir alles wat ons uit Sy hand ontvang. 

Ds Maarten 

Ware Koinonia

Soos ek hier sit en die herfsluggie om my dartel kry ek koue rillings as ek dink aan April vier jaar gelede toe ons gehok was om tuis te bly weens die Covid-19 Pandemie van 2020. Veral as die Strelitzias begin blom dan onthou ek die droewige tyd van afsondering van geslote kerke en bevreesde mense. 

Hier sit ons nou vier jaar later en ons het al weer byna daarvan vergeet. Destyds het ons geglo, en selfs gesê dat die inperkings van die grendeltyd ons weer honger sou maak vir die intieme koinonia van gemeentelike samekomste. As mens iets mis waardeer jy dit mos meer. 

Die vraag is nou of dit ooit gebeur het en of ons werklik die gemis en verlies aan koinonia in ‘n positief omgekeer het. Hier hoef ons nie groot beoordeling toe te pas en tendense te probeer evalueer nie. Die kerk van Jesus gaan immers maar deur goeie en slegte seisoene. Dit sal eerder vanpas wees om jouself te beoordeel of jy nog die gemis van destyds onthou en gevolglik die geleentheid wat daar nou is met alle mag aangryp en benut. 

Koinonia (gemeenskap van die gelowiges) is immers nie net iets waarby jy alleen kan baat nie, maar waarby ander baat as ek en jy dit nie afskeep nie. Dink maar aan laas naweek se heerlike koek en tee, gemeente-ete, die mooi eredienste en kategese. 

Maak gebruik van die koinonia-geleenthede en leef die nuwe lewe in Christus. 

Laat ons dus die onderlinge byeenkomste nie versuim, soos sommige die gewoonte het nie, maar mekaar eerder aanmoedig… en dit des te meer soos ons die oordeelsdag sien naderkom” (Heb10:25). 

Ds Maarten 

God is altyd in beheer as Skepper, as Verlosser en as Trooster!

Demografie van Klassis Burgersdorp in die Oos-Kaap

Klassis Burgersdorp is ’n plattelandse, uitgestrekte gebied waar die bevolking yl gesaai is. As ek daar bevestig word sal ons DV 3 voltydse predikante wees om 16 gemeentes te bedien, versprei oor ’n baie wye gebied. 

Van Noord na Suid, Aliwal-Noord in die Noorde, na Queenstown in die suide, is 163 km ver. 

Vanaf die Ooste Maclear/Elliot na De Aar in die verre weste is 550 km ver. 

Rofweg kan die klassis in die Oostelike deel en die Westelike deel verdeel word met die volgende indeling: 

• In die Westelike deel is daar agt gemeentes en drie predikante; ds. Bain (Oranjerivier in Orania), ds. van der Westhuizen in Colesberg (wat ’n jaar studieverlof het en in die VSA is) en De Aar, ds. Deysel in Venterstad. 

• In die Oostelike deel met slegs een predikant is daar 7 gemeentes: 

Burgersdorp (DV ds. Gerrit Kruger) Die volgende gemeentes het geen predikante nie, Aliwal-Noord, Molteno, Queenstown, Dordrecht, Maclear/Elliot, Barkly-Oos. 

Die hele klassis het net ’n bietjie meer lidmate as wat die Gemeente van Centurion het, te wete 1400 in totaal. 

Dit bring geweldige uitdagings mee. Nogtans is dit die Here se kerke en die Here is steeds in beheer. Daarom kan en mag ons nie ons oë en ore sluit vir die nood van die plattelandse-kerke nie. Ons mag hulle nie negeer as klein en nietig nie. Ons moet steeds kyk waar ons kan help, op watter wyse ookal. Die belangrikste en grootste hulp wat ons kan gee is deur voorbidding te doen. 

In Centurion is daar baie mense met noue bande met Burgersdorp. Om net ’n paar te noem: Wouter Styger se pa en ma boer in die distrik en dit is waar hy grootgeword het. Henda Vreugde se pa was vir jare ’n mediese dokter in Burgersdorp. Die eerste teologiese skool was in Burgersdorp gewees. 

Daar lê vir my en Rika harde werk voor. Ons bede is dat die Here aan ons die geloofsvolharding, die gesondheid en krag en lus en ywer sal bly gee om hierdie heerlike roeping te kan en mag verrig. 

Soli Deo Gloria – Net aan God die eer. 

Ds. Gerrit 

 

« Older posts Newer posts »