Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 2 of 39)

 God se Voorsienigheid

 Josef se lewe het vir ons so baie lesse om te leer. Vir die afgelope klompie weke het ek baie tyd spandeer om daaroor na te dink. Telkens vind ek myself bepeins oor die gebeure van my eie lewe en hoe anders dinge dalk sou uitdraai as iets op ‘n ander manier sou gebeur as wat dit het. Met elke gebeurtenis kan ek God se hand sien in hoe Hy my gelei het, al kon ek dit nie voorsien of verstaan op daardie oomblik nie. 

Een van die grootste uitdagings is om te sien wat God se plan is vir ons lewens wanneer ons teleurstellings ervaar. Waarom laat God dit toe dat Josef se broers hom ten onregte mishandel? Waarom kry hy nie eerbied of respek vir die wyse waarop hy teenoor Potifar se vrou optree nie? 

In kort sou die antwoord wees: want die lewe is nie regverdig nie. 

Dit is egter nie ‘n genoegsame antwoord nie. Want dit beteken dat Gods water maar oor Gods akker loop, en ek kan niks daaraan doen nie. Die lewe is maar net wat dit is. Jy moet maar net aanvaar wat met jou gebeur… 

Dit sou tog maar net ‘n halwe waarheid wees. Want in ons groot teleurstellings en onregte wat ons moet verduur, is die hand van die Almagtige aan die werk. God gebruik die “nee’s” van die lewe om op ‘n ander manier vir ons “ja” te sê. Hy gebruik ons gebrokenheid om tot sy heerlikheid te wees. 

Dink net daaroor: sou die verhaal van Josef so aangrypend gewees het, as Jakob die Farao se goeie vriend was en vir Josef ‘n plekkie in die kabinet gereël het? So is ook elkeen van ons se lewe uniek en kosbaar, want God is al die tyd daarin aan die werk. Daarom kan ons berus by die goeie en die slegte van die lewe, want God beskik oor al hierdie dinge. In sy voorsienigheid sien Hy vooruit en voorsien Hy in die toekoms. 

Daarom kan ons met vrede en gerustheid en geloofsvertroue bid: Laat U wil geskied, soos U dit wil in die hemel, dat U dit mag uitvoer in my lewe hier op aarde. 

Lourens (vdm) 

 Die Here bewaar

 Die Here bewaar jou uitgang en jou ingang (Ps121) 

 Die afgelope week was vir ons as gemeente een van baie hartseer. Binne 24 uur word drie lidmate skielik uit ons midde weggeruk en dan boonop is daar nog die talle siekes waarvan sommige baie ernstig is. 

Nie alleen is daar Sondag twee lidmate wat met hartprobleme sterf nie, maar Maandagoggend sterf die jonge suster Melinda op haar verjaarsdag in ‘n motorongeluk en haar man Liam Pilkington beland in ‘n kritieke toestand met veelvuldige kop en rugbeserings, in die hospitaal. Om die donker prentjie nog te vererger begrawe ds Lourens sy oom die afgelope week nadat hy deur ʼn vragmotor in Pretoria omgery is! 

En tog sien ons dat die digter van Ps 121 bely dat dit alles nie toevallig plaasgevind het, omdat die Here dalk sou slaap of sluimer nie. Nee, Hy is soos die skadu aan ons regterhand. 

Hy bewaar ons nie maar net VAN die dood nie maar ook IN die dood. Hy, die Bewaarder van Israel, laat niks toevallig oor ons kom nie. 

So skryf die digter dat God ons uitgaan en ingaan beheer. Eerstens dui dit gewoon op ons daaglikse lewensgang – jy gaan uit om te werk of te leer, en keer weer terug huistoe na ‘n bepaalde tyd. En Hy, die almagtige God en Here, Hy sorg vir jou. 

Maar as ons na die volgorde van die twee woorde kyk, dan sien ons dat die Here ook in ons UITGAAN uit hierdie lewe die enigste sê het, en dat juis Hy bepaal wat daarna, dws in die dood, met ons gebeur. 

Jesus se ‘uitgang‘ wat Hy in Jerusalem kom voltooi het (Luk 9:31), kom gee aan ons uitgang uit die lewe sin, sodat ons nou kan ‘ingaan’ in die hemelse heerlikheid. 

So bewaar Hy ons uitgaan én ons ingaan, om ewig by die Vader te wees. En so word die hartseer van die afgelope week, beperk deur die heerlike wete dat ons verlies hul wins is. 

Mag die Here wat die dood oorwin het, uit die hoë hemel deur die Heilige Gees aan elke bedroefde hart sy lieflike troos en bystand gee. 

Ds Maarten 

EINDE 2024

Ons het sowaar by die laaste nuusbrief van die jaar gekom. ‘n Jaar met sy eie dinge, maar voorwaar nog ʼn jaar geseën deur ons troue Here en groot Herder. Ons dank Hom vir genade op genade. 

Ons sluit nou die jaar se verrigtinge af met die beste wense vir almal in hierdie feesgety en met die bede dat u mag rus en uitrus in die vrede van God. As u dalk op reis gaan bid ons julle ‘n veilige en voorspoedige reis toe. Mag u elkeen die nabyheid van die Here op ‘n besondere manier ervaar. 

Volgende jaar se uitsig is die groot feesviering van ons gemeente se Jubeljaar. Ons roep vyftig jaar se genade in herinnering en beplan vir die groot naweek van 1 Junie 2025. Ons hoop en glo dit gaan in baie opsigte ‘n baie spesiale jaar wees onder liefdevolle hand van die Here se seën. 

Al ons lof en eer en dank aan Hom wat kan doen vér bo dit wat ons bid of dink. Aan Hom die heerlikheid tot in ewigheid. 

Vergun my om namens u leraars en die kerkraad u elkeen ʼn vreugdevolle Kerstyd en vakansie toe te wens. Mag dit vir ons almal ʼn ware herinnering wees aan die grootste gawe van God en laat ons nie ophou om Hom daarvoor te loof en te dank nie. 

Ds Maarten 

Handelinge 29? 

Aangesien die boek Handelinge nie soos die ander Nuwe-Testamentiese boeke met “Amen” eindig nie, is kommentatore van mening dat die boek onvolledig is. Daar is ook die oorlewering dat die boek wel ‘n laaste hoofstuk gehad het wat dan verlore gegaan het. Sou jy dus op Google gaan soek dan vind jy jou werklikwaar daardie hoofstuk! U kan dit lees by die Google skakel https://rejectedscriptures.weebly.com/acts-of-the-apostles-chapter-29.html, en u sal verras wees hoe anders die boek Handelinge oorkom as dit sy einde moes wees. 

Die Bybel is egter nie ‘n storie of lewensverhaal van mense soos Paulus of Petrus nie maar die openbaring van die woorde en werke van God in die daarstelling van sy koninkryk deur Jesus Christus. Daarom het die boek Handelinge letterlik ‘n veelseggende “oop” einde (28:31). 

Van hierdie oorlewering oor die laaste moontlike hoofstuk lees ons in die Sonnini’s Travels in Turkey and Greece

Die Sonnini-manuskrip bevat die verslag van Paulus se reis na Spanje en Brittanje. Die dokument, wat na bewering die slotgedeelte van die “Handelinge van die Apostels” is, dek ‘n gedeelte van die tydperk ná Paulus se twee jaar gedwonge verblyf in sy eie huurhuis, in Rome. Dit is geskryf in die styl van die boeke Handelinge en lees nogal soos ‘n voortsetting. 

Die manuskrip is ingevleg gevind in ‘n kopie van Sonnini se Reise in Turkye en Griekeland en is gekoop by die verkoop van die biblioteek en besittings van wyle Regse eerbare sir John Newport Bart, van Ierland. Sir John se familiewapen is op die omslag van die boek gegraveer. Dit was al meer as dertig jaar in sy besit. 

By die boek was ‘n dokument van die Sultan van Turkye, wat aan C.S. Sonnini toestemming verleen om in alle dele van die Ottomaanse heerskappye te reis. Die dokument is vertaal deur C.S. Sonnini uit ‘n oorspronklike Griekse manuskrip wat in die Argief in Konstantinopel gevind is, en aan hom voorgehou deur die Sultan Abdoul Achment

Ds Maarten 

Dissiplines van ‘n Nuwe Lewe in Christus

Vir die laaste paar weke het ons gefokus op hoe ‘n nuwe lewe in Christus lyk. Wanneer jy ‘n nuwe mens is, wat in Christus vrygemaak is van die bande van die sonde en die dood, dan lyk jou lewe anders. Hierdie dissiplines is nie ‘n voorwaarde van verlossing nie, maar eerder ‘n sigbare kenmerk van ware gelowiges wat in Christus verlos is. 

Kom ons noem dit “kenmerke” van ‘n ware gelowige. Daar is baie van hierdie kenmerke, soos ons belydenis dit ook aantoon in die NGB art. 29. Dit is nie net die ware kerk wat kentekens het, maar so ook ware gelowiges. 

Vervolgens aangaande hierdie lidmate van die kerk: ons kan hulle maklik uitken aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. 

Ten spyte van baie swakhede, en tekortkominge, bly gelowiges volhard en neem altyd hulle toevlug in Jesus Christus. Die groot vraag is altyd: Maar hoe doen mens dit? 

Deur TYD te maak… om God te KEN… uit Sy WOORD… in GEBED… 

en AANBIDDING… in GEMEENSKAP met God en sy kinders 

in die EREDIENS… 

en daarbuite. 

‘n Gesonde geestelike ingesteldheid fokus op huisgodsdiens, stiltetyd, diensbaarheid, Bybelstudie, getuienis/belydenis, offervaardigheid, mentorskap, feesviering, blydskap in die Here, vas, evangelisasie. 

Dit gaan nie net daaroor om te doen wat Jesus gedoen het nie, maar meer nog om te word soos Hy. Dissipelskap beteken om ‘n volgeling te wees. Om HEILIG vir God te wees. Om jou voor te berei vir die hemel. 

Oefen jou dan in die godsaligheid, dit is baie nuttig, want dit hou die belofte in nie net van die teenwoordige nie, maar van die ewige. 

Lourens (vdm) 

Hervorming: Luther se 95 Stellings

Op 31 Oktober 1517 het dr Martin Luther, ‘n Duitse teoloog en hervormer, sy 95 stellings op die deur van die Kasteelkerk in Wittenberg, Duitsland se deur vasgespyker. Hierdie dapper daad het die Protestantse Hervorming ontketen en die Katolieke Kerk se praktyke en leerstellings uitgedaag. 

Luther se stellings het die Katolieke Kerk se verkoop van aflate gekritiseer, wat vergifnis van sondes in ruil vir geld belowe het. Hy het aangevoer dat: 

  1. Geloof, nie finansiële transaksies nie, tot verlossing lei. 
  2. Die Kerk het geen gesag gehad om vergifnis te verkoop nie. 
  3. Die praktyk het die armes uitgebuit en ware bekering ondermyn. 

Luther het individuele geloof en Skrif bo kerklike tradisie beklemtoon. Hy het die pous se gesag en die konsep van pouslike onfeilbaarheid uitgedaag. Die stellings het gevra vir teologiese debat en hervorming binne die kerk. 

Die 95 stellings het vinnig versprei en ontevredenheid met die kerk aange-wakker. Luther se idees het ander hervormers, soos Johannes Calvyn en Zwingli, geïnspireer. So ontstaan die Protestantisme van die 16e eeu. Luther se stellings was ‘n groot draaipunt in die Christelike kerkgeskiedenis en het Reformasie op nie alleen kerklike gebied nie maar ook in die politiek, kultuur en taal bevorder. 

Die vyf solas van die Reformasie is: 

  • Sola Scriptura (Alleen die Woord van God), 
  • Sola Gratia (Uit genade alleen), 
  • Sola Fide (Slegs deur die geloof ), 
  • Solus Christus en 
  • Soli Deo Gloria. 

Ds Maarten 

Lees gerus die 95 Stellings: https://proregno.com/2017/07/19/die-95-stellings-van-maarten-luther-in-afrikaans/ 

« Older posts Newer posts »