Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 19 of 40)

Die vrug van die Gees!

2022 
Gal 5:22,23 

“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelik-heid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.” 

Ons begin elke jaar met goeie voornemens. Ons het planne, drome en verwagtings van elke nuwe jaar. Dit is wonderlik hoe die Here ons in staat stel om nuut te dink en te beplan. Elke jaar ‘n vars voorneme, ʼn lewe toegewy aan God! 

Hierdie jaar het Centurion gemeente die tema gekies met ‘n doel. Die doel is om te groei in ons geloof. Hierdie is ‘n proses wat geen mens op sy eie kan doen nie. Soos wat ‘n gelowige boer in die geloof die grond bewerk en plant, so moet elke Christen elke jaar in geloof die jaar begin. Om die grond vir ons geloof opnuut voor te berei, is om biddend voor God te buig en te vra dat Hy ons sal lei, behoed en bewaar en ons harte sal reinig, sodat ons vrugbaar kan wees. 

Psalm 1:1 stel dit duidelik dat die mens wat in die Woord van die Here sy vreugde vind, is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is. Die mens se groei kom uit die Woord. Die vrugte wat ons dra kom vanweë die regte bemesting, die Woord en die Heilige Gees wat ons lei om met wysheid uit die Woord te leef. 

Hierdie vrug wat ons moet dra het nege segmente. Dit is soos ‘n nartjie, een vrug, maar dit bestaan uit ‘n klompie segmente, skyfies. Elke mens moet biddend daarna strewe om al nege hierdie segmente in sy of haar lewe te openbaar. As ons dit bid-dend nastreef, sal God ons vernuwe. Ons sal die diepe besef van sondevergifnis deur Jesus Christus ontvang. Ons sal die leiding van die Heilige Gees ontvang. Ons sal dan vreugde en vrede in ons Here Jesus Christus beleef. 

Kom ons pak die nuwe jaar aan met die vaste voorneme om die vrug van die Geeste dra en God al meer en meer te verheerlik. 

Ds. Gerrit 

Begin en Einde

Open 21:6
“…Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde….”

Vir elke mens is daar ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterwe, behalwe vir Henog en Elia. Selfs na sy mensheid was daar vir Jesus ’n geboortedag en ’n sterfdag. Dit is weer die einde van nog ’n jaar. ’n Jaar waar ons terugkyk en ook die geweldige impak sien wat dit op ons en die hele wêreld gehad het. Maar die einde van die jaar is dit ook ’n tyd van dankbaarheid. ’n Tyd van dankbaarheid dat ons nog ’n jaar kon leef tot eer van God. Ja en selfs waar ons nie tot Sy eer geleef het nie, het God dit so gemaak dat ons wel tot sy eer kon leef in en deur Jesus Christus se versoeningswerk. 

  • Vir ons as mense is daar in alles ’n begin en ’n einde. 
  • Vir Jesus Christus is daar net ’n ewigheid. 

As Jesus homself openbaar as die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde, dan beteken dit Hy is aan die begin reeds daar gewees. Aan ons einde is Hy steeds daar en sal altyd daar wees. Want Jesus Christus het nie ’n begin en ’n einde nie, maar Hy IS die Begin en die Einde, die Alfa en die Omega. 

So vier ons weer Chrisus se geboorte op aarde. Vir ons is dit die begin van Sy lewe op aarde, ja natuurlik as ’n mens, maar Hy is God van ewigheid af. So by God is daar nie’n begin en ’n einde nie, maar ’n Ewigheid. Dit is ons groot troos. Dit is wel die einde van 2021, maar dit is deel van die ewigheid van God. 

  • Kom ons bly dus glo en bly in vreugde God dien. 
  • Kom ons geniet ook nog ’n jaar wat God aan ons gegee het. 

 Weet dat ons nog in vreugde sal leef op aarde totdat God die einde daarvan bepaal het, maar dit is dan die begin van ’n ewigheid by God. 

Geniet die rustyd van die einde van die jaar. Mag ons met vreugde ook weer uitsien na die begin van die nuwe jaar. 

Geseende Christus fees vir almal toegebid. 

Ds. Gerrit 

‘n A-normale jaar snel ten einde

Psalm 139:1-24 

‘n Jaar vol van trauma en onvrede en a-normale sake snel ten einde. ‘n Jaar wat weereens nie normaal kon begin en verloop nie. ‘n Jaar waarin ons weereens nie as gemeente elke Sondag bymekaar kon kom nie. ‘n Jaar wat ons aste ware, dag vir dag moes leef. En tog is God altyd in beheer. Niks het gebeur wat God nie van geweet of toegelaat het nie. God was nie net in beheer nie, maar God het ook geweet, toegelaat en bepaal wat met elkeen van ons gaan gebeur. So het God ons steeds van alle kante omsluit. Juis in Psalm 139 leer ons van hoe God ons van alle kante omsluit en ken. 

Hy is: 

– Alwetend Ps 139:1-6 

– Alomteenwoordig Ps 139:7-12 

– Skeppingsmagtig Ps 139:13-18 

– God laat nie met Hom spot nie Ps 139:19-22 

– ‘n Bede vir leiding van God. Ps 139:23-24 

Ons kan so maklik dink dat God ons vergeet het. Of ons kan wonder hoekom dinge so snaaks en skeef en a-normaal verloop. En tog moet ons nooit vergeet dat God van ewigheid tot ewig-heid nie net daar is nie, maar alles weet en Hom elke dag met ons bemoei. Inteendeel Hy het ons so lief dat Hy sy eie Seun Jesus Christus gestuur het om vir ons sondes te sterf. Juis dit het ons gedra. Want ook in 2021 was, is en sal God elke dag by ons wees. Ons moet nie vra, hoekom het dinge so of so verloop nie, ons moet eerder vra en bid dat God ons op die regte pad sal hou. Want dit is ons hele lewe, dat God ons deur Jesus Christus se soenverdienste, onder leiding van die Heilige Gees sal lei en bewaar. Die doel is ook nie vir ons om ons norma-le lewe te lei wat ons dink normaal is nie, maar dat ons werklik altyd tot Sy eer en verheerliking sal lewe. Want die doel van ons lewe is om God te eer en te verheerlik. Dit doen ons deur DIE GROOT GEBOD van liefde vir God en ons naaste en DIE GROOT OPDRAG, om die evange-lie van God uit te dra. Mag daarom almal wat werklik erns maak met hulle Christenskap die bede bly bid tot eer van God en tot versterking en behoud van ons elkeen: 

Psalm 139:23,24 

23 “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. 

24 Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” 

Ds. Gerrit Kruger 

Herinnering

“Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor. So sê die Here: Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het, toe jy My die woestyn in gevolg het, in ‘n wêreld waar niks geplant word nie.” JEREMIA 2:2 

Die Here God roep die volk tot herinnering van hulle toewyding in die verlede. Toewyding wat blykbaar verslap het en so kry die Here nie die eer wat Hom toekom nie. 

Ongelukkig is dit waar dat ons sukkel met volharding in toewyding. Dit wil voorkom of oorgawe en toewyding nie maklik van een geslag na die volgende oorgedra word nie. Die opwinding van ‘n jong geloof taan maklik, en die vreug-de van die godsdiens verflou sommer gou. Die eerste liefde wat verlaat word omdat die self en die eie-ek tog so ‘n groot rol in ons voortbestaan speel. Die Kategismus draai nie doekies om nie as dit stel dat “ons van nature geneig is om God en ons naaste te haat”. 

Die Here roep sy volk en kerk om sy groot dade in herinnering te roep. Ook die sonde-verlede waaruit jy gered is. Onthou wie jy was. Onthou wie jy was, sonder Christus! En roep in herinnering die groot dade van God. Maak sy Naam aan die mense bekend. Laat die nasies hoor en laat hulle jou liefde, oor-gawe en toewyding sien. 

O kerk van Christus, onthou die toewyding van jou Verlosser. Hy wat jou bruidegom met volle oorgawe is en jou met sy dure bloed gekoop het. Kom vandag weer aan sy tafel en roep in herinnering wat Hy vir jou gedoen het, en laat ons, Hom weer met oorgawe dien en eer. 

“Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!” (1 Tess 5:23) 

Ds Maarten 

Verbly jou in die Hoop

Solank daar hoop is, is daar lewe… Want hoop is baie meer as net om te wens. Natuurlik is daar niks fout om te wens nie! Ons wens vir ‘n mooi dag of wens om weer geliefdes te sien. Dit is ‘n diep en egte menslike verlange. 

Hoop is nog baie meer as dit. Om te hoop beteken dat daar by jou ‘n verwagting is. Dit word in Hebreeus selfs vertaal met vertroue… Om te hoop is om te vertrou in jou verwagting. Dit word ook so beskryf in die Hebreërbrief met betrekking tot geloof: 

Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. 

Om te hoop is om te vertrou, om te glo. In die Bybel gaan dit altyd om die beloftes van God. Dat ons kan vertrou dat God sy beloftes getrou sal nakom. En Hy het. Deur Jesus Christus sien ons hoe die beloftes van God op geldige gronde wettiglik vervul word. 

So word ons Hoop ‘n uitkoms van seën wat gefundeer is op die verlossing en verdienste van Jesus Christus. Die Here Jesus is ons Hoop. Hy is ons verwag-ting. Hy gee ons ‘n rede om uit te sien na more, en oormore. 

Daarom kan ons bly wees oor ons verwagting. Die Here gee ‘n rede om bly te wees oor dit wat Hy beloof… 

As jou moed jou wil begewe en die verlange jou bemoei, as die druk jou oorweldig en die onsekerheid jou onderkry onthou dan die woorde: 

Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed. 

Lourens (VDM) 

EENSGESIND VOOR GOD!

Rom 15:5 

“En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê.” 

Ons het die groot vreugde dat ons weer as gemeente gesamentlik God kan dien. Wat ‘n vreugde om in eensgesindheid in liefde die Here te kan aanbid, in ‘n erediens, om van harte tot lof van God te kan sing en God te kan dien en eer. Dit vra steeds van ons dat ons minder sal word en God meer sal word. Dit vra dat ons elkeen onsself sal verloën en God en ons naaste eerste sal stel. Daarom dat ons ook met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid die eredienste en kerkbywoning so wil inrig dat elkeen gemaklik, veilig en opreg die Here kan dien. Ons vra daarom dat ons mekaar in hierdie tyd sal verdra. 

Die rye stoele in die saal is juis verder uitmekaar geplaas vir afstand-doeleindes. In die kerkbanke vra ons dat die lidmate sover moontlik afstand van mekaar sal hou, sal maskers bly dra en protokol sal nakom om vir almal die geleentheid te bied om in rustigheid en vrede saam te kan kom in die eredienste. 

Ons verwag dat daar tydens die Nagmaalsdiens van 21 Oktober dalk meer mense die erediens sal bywoon. Daarom het ons ook gereël dat daar ‘n Groot Skerm op die stoep sal wees met ‘n klomp stoele om ook op die stoep te sit en so deel te wees van die nagmaal. Daar sal ook ‘n predikant teenwoordig wees om die nagmaal te bedien. Daar sal ook weer die geleentheid wees om voor aan die tafel te gaan sit, waar kelkies gebruik kan word of die beker, maar elke gesin of individu sal alleen uit ‘n beker kan drink. Ons vra dus in groot liefde dat ons mekaar sal verdra in ‘n eensgesindheid wat tot eer van God sal wees. Daar sal dan ook drie geleenthede wees om die nagmaal te gebruik: tydens die Afrikaanse diens om 09:00, tydens die Engelse diens wat spesiaal tweetalig sal wees om 11:00 en ook tydens die Afrikaanse aanddiens om 18:00. Ons vra die lidmate om vrymoedigheid te neem om twv die druk, te oorweeg om nagmaal te gebruik tydens die Engelse diens of die aanddiens. 

Mag ons almal met groot eensgesindheid en vreugde, nie net in die eredienste vergader nie, maar ook die nagmaal gebruik tot eer van God ons Hemelse Vader. 

Ds Gerrit 

« Older posts Newer posts »