Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 13 of 43)

Die Apostolicum 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis rangskik die noodsaaklike waarhede van die Christelike geloof in terme van ‘n natuurlike en logiese vooruitgang. Die orde van die Goddelike openbaring, gebou op die fondament van die Drie-eenheid, word getrou gevolg. Die belydenis beweeg van God die Vader en sy skepping na die persoon en werk van Jesus Christus – sy bonatuurlike geboorte, lewe, dood en opstanding. Daarna kom ons by die Heilige Gees, die kerk en ander toekomsgebeure. [Die Belydenis van Nicea volg dieselfde orde.] 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis is nie ‘n logiese beskrywing van abstrakte leerstellings nie, maar ‘n belydenis van feite wat leef en red. Augustinus het na die belydenis verwys as “a brief and grand regulator of true faith”. Luther glo dat die Christelike geloof nie in ‘n korter en duideliker manier gestel kan word nie. Calvyn noem dit ‘n korrekte opsomming van die Christelike geloof. 

Hierdie belydenis is nie deur die apostels geskryf nie, maar dit verteenwoordig ‘n ware en getroue raamwerk van dit wat die apostels verkondig het. Waarskynlik is vroeë belydenisse by die doop van gelowiges gebruik. Die vroegste belydenis was kort en eenvoudig: Jesus is die Here. Hierdie vroeë en kort belydenisse word uitgebrei om die implikasies duidelik uit te bring. Ons weet ook dat die kerke in die vierde eeu almal stellings en belydenisse gebruik het om te verduidelik wat hulle geglo het. Hierdie belydenisse was almal feitlik identies. 

Drie eienskappe van die Apostoliese Geloofsbelydenis 

• Die belydenis beklemtoon dat geloof primêr vertroue in die lewende en ware God is: Ek glo in God die Vader, die Almagtige … En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun … Ek glo in die Heilige Gees. Die belydenis sê nie dat ek dit of dat glo nie – ek glo in. 

• Die belydenis in primêr ‘n ware geskiedkundige verhaal. Kyk net na die name wat gebruik word: Maria Pontius Pilatus, Jesus. Dit verwys ook na spesifieke gebeure in die geskiedenis – Jesus se dood, begrafnis en opstanding. Dit berus op werklike geskiedkundige gebeure. Die belydenis is nie abstrakte teologie nie, maar goeie nuus. 

• Die belydenis praat van die Drie-eenheid lank voor ‘n kerkvergadering hierdie leer bespreek het. 

Alle kerke behoort die belydenis te gebruik, maar dan nie as ‘n gewoonte nie, maar as ‘n uitdrukking wat ons geloof bevestig. (Oorgeneem.) 

Ds Maarten 

Opus Dei 

Hierdie Latynse woorde beteken “die werk van God”. Ons kan dit ook beskryf as die “heilige dienswerk aan God”. Die erediens en die heiligheid van God moet nie net in die “kerkdiens” wees nie, maar dit omvat die volheid van ons lewe. 

Die lewe is ‘n erediens. Ons ganse bestaan moet in die heiligheid van God wees. Om egter in die erediens God te ontmoet, is uitsonderlik. Dit is ‘n heilige ervaring. Daarom mag ons nie maar net “opdaag vir kerk” omdat ons gewete aangespreek voel nie. Ons moet onsself geestelik voorberei. Ons moet daarna uitsien, en opgewonde raak oor die teenwoordigheid van God onder sy kinders. 

Deur die eeue is daar geworstel en gesoek na wat die ontmoeting van die heilige God in die erediens behels. In die ou bedeling was die erediens afgesonder vir die priesters en Leviete. Dit het hoofsaaklik gehandel mbt die offerdiens. God was as te ware “toegemaak” en bedek in die tabernakel se allerheiligste. Hy was die verborge God wat nie in sy heiligheid deur sondaars genader kon word nie. En tog het Hy ge-tabernakel onder sy volk. 

Daarvoor moes die weg na die allerheiligste eers oop gebaan word. Dit kon die priesters uit die Aäronitiese orde nie vermag nie. Hulle kon ook net vir hulle eie sonde versoening doen en nie self betaal vir die sondes van die volk nie. 

As die Sondelose Lam geslag word, op die altaar voor God in die hemel, dan is Hy alleen waardig. Vir sy verlossing moet Hy geloof en geprys word. Nie net op ‘n dag in die week nie, maar elke dag van ons hele lewe. Hy het immers die voorhangsel middeldeur laat skeur om ons toegang tot die allerheiligste God in die hemel moontlik te maak. So word die Here ons geregtigheid. Hy herstel ons lewende verhouding met die Almagtige. 

Nou kan ons ‘n nuwe lied sing: 

Aan U o Lam van God, kom die lof en aanbidding vir ewig. 

Lourens (vdm) 

JESUS OF APHRODITE 

Dit is nie om dowe neute dat ons die mooiste hoofstuk oor die liefde in die boek Korintiers aantref nie (1 Kor 13). In die antieke Griekse wêreld het elke stad spesifiek een van die griekse gode aanbid en gesien as die beskermgod van daardie stad. In Korinte was dit Aphrodite. Sy was die godin van die liefde en skoonheid en verleiding. As ons egter beskou wat haar idee van die liefde was en hoe hulle in praktyk haar aanbid het, dan besef ons dat dit nogal vér verwyder is van die goddelike of Bybelse verstaan daarvan. God se liefde word gewoonlik uitgedruk in die selfverloënende begrip van “agape”. Ons sien sy liefde in die offergawe van sy eniggebore Seun, ons Here Jesus Christus. 

Aphrodite het egter die woord ‘eros’ gekies as haar beskrywing van die ware liefde. Eros het oorwegend die betekenis van die liefde vir die bevredigng van die eie lus en begeertes. Ek het jou lief vir wat jy vir my doen en beteken. Ek het jou lief vir jou geld of jou status of veral vir hoe ek seksueel bevredig kan word. Die afgod Eros staan haar dan ook by in haar optrede. Geen wonder nie dat die mense gedink het dat hulle haar dien in ware liefde as daar orgies en promiskuïteit plaasvind nie. ‘Porneia’ of pornografie is ook deel van die opwekking van die liefde waarvoor Aphrodite staan. Gevolglik word sy gesien as die godin van vrugbaarheid en was tempelprostitusie een van die bedrywe wat by haar afgodery plaasgevind het. In Korinte is daar destyds drie tempels aan hierdie afgodery gewy en met meer as 1000 tempelprostitute is die stad dikwels die ‘Amsterdam van die antieke wêreld’ genoem. Die heidene het selfs skaamtelose openbare seks voor haar beeld beoefen. 

Daarteenoor kom Paulus en leer die gemeente van Korinte dat ware liefde nie op die self gerig is nie. En uiteindelik beskrywe Paulus deur die Heilige Gees dat die christelike en heilige liefde wat van God kom, altyd op die opbou van die ander en die eer van God gerig is: “Die liefde is geduldig, vriendelik, nooit jaloers of verwaand nie. Dit is bly oor die waarheid en bedek alles, glo alles en hoop alles. Hierdie liefde vergaan nooit” (1 Kor 13). 

Wie dus kies om die Here Jesus te aanbid en te dien, kies ook om afstand te doen van die ponografiese en skaamtelose selfbevredigende liefde. Ook vandag nog met al die versoekings op die internet en sosiale media, moet ons maar elke dag weer kies om die Here Jesus te dien. Hy is immers alleen God. En God is liefde. En Hy het sy liefde deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort! Dien mekaar dan in hierdie liefde van God. 

Ds Maarten 

Bekyk die stad van God – Ps 48:13 

“Gaan om die stad Sion, trek reg rondom, tel sy torings, bewonder sy mure, bekyk sy versterkings” – Ps 48:13 

As ‘n mens na Israel gaan toer en as hoogtepunt op die Olyfberggaan staan en die berg Sion bekyk met die ou stad Jerusalem, dan speel die geskiedenis van die stad van Dawid en die bou van die tempel en die verwoesting daarvan voor jou geestesoog af. Jy sien die ontsaglike mure en fortifikasies en dan word jou gees weggevoer na die nuwe stad Jerusalem (Openb 21 en 22). 

Dit vra egter dat die toerleier jou help om nie by die uiterlike stad stil te staan nie… Jy word herinner dat die kerk/gemeente van God die eintlike stad van God is. 

Die kerk van vandag is die ou Jerusalem, vol gebrokenheid en sonde. Daardie kerk se toekoms is om deur die heiligmaking en groei van die geloof uiteindelik die ware Jerusalem te word: geheilig in die bloed van Christus, skoongewas soos ‘n bruid wat vir haar man versier is (Op 21:2). 

Kyk dan na die kerk van vandag en sien haar skanse en toringtranse: ‘n vestingstad vir die kinders (volk) van die Here; ‘n skuilplek in ‘n wilde en wrede wêreld. Die aanslae is groot en die versoekings geweldig. In die kerk is daar skuilplek teen die bose en sy aanvalle. 

Bekyk dan Jerusalem se mure (skanse) en torings en paleise: Elke huwelik en gesin is ‘n pragpaleis en fort waarin ons, ons veiligheid en krag en vrede vind. Daarom moet u en ek ons huise en huwelike met alle mag teen die vernietigende krag van die bose beskerm. Daar is skuilplek in die kerk en sy bediening. Elke Bybelstudie en Bybelskool en kleingroep en huisgodsdiens en huisbesoek is ‘n vesting om na toe te vlug, waar ons weer krag by die Here kan vind. Die heilige eredienste en kategese is soos ‘n versterkende besoek aan die tempel waar die Here onder sy volk woon. Jou geestelike vriende en broers en susters is jou stuwalle en fortifikasies waardeur ons weerstand teen die bose opgebou word. 

Gaan deur die gemeente van Centurion, bekyk wat die Here gedoen het vir hierdie gemeente en wees bewus van die wonderlike genadegawes wat die Here aan ons elkeen gegee het. Bewaar jou lidmaatskap (attestasie) met ‘n heilige erns deur nie net ‘n meeloper en toeskouer te wees nie, maar deur jou gawes tot nut en voordeel van die liggaam van Christus aan te wend. 

Bekyk hierdie stad as heilige vesting. Doen dit biddend. Dankend. Bid vir jou ampsdraers en leraars en medegelowiges. Dra die bediening op in gebed en weet dat ook gelowiges van die breër kerkverbande saam met ons in dieselfde stryd (en belydenisse) staan as medewerkers en mede-arbeiders en medestryders in die koninkryk van God. 

Laat Sionsberg weerklink van vreug! 

“Aanskou die stad met skanse, 
Paleise, toringtranse – 
hoedat hul pryk met nuwe prag. 
En meld dit aan die jong geslag…” 
(Ps 48:5 berymd) 

Ds Maarten 

“’n Lewendige hond is beter as ‘n dooie leeu” 

Hierdie woorde uit Prediker 9:4 laat ‘n mens diep nadink oor die lewe en al die uitdagings wat dit daagliks bring. Vir ons wat in Afrika woon en bekend is met leeus, is hierdie beeld duidelik. Dit is egter die ander helfte van die versie wat perspektief bring: “Want solank iemand by die lewendes behoort is daar hoop”. Dit is waaroor die Nagmaal gaan, oor hoop! Oor ons verwagting van die toekoms. 

Ek deel graag hierdie gedig van Marno Hermann, na aanleiding van ons afgelope koningskinders kamp. Mag die Here ook vandag weer nuwe hoop gee deur sy genade. 

Waarvoor dank ons God? 
Dryf ons met sy genade spot? 
Om die evangelie te hoor weergalm, 
kinders sing saam ‘n lofpsalm. 

So roep ons op groot en klein, 
om te sing van God’s liefde refrein. 
Ons deel in ‘n enkele doel, 
om saam te werk en te woel, 
sodat kinders die liefde van hul Vader kan voel. 

Daar in jou midde staan tien talle gesigte, 
klein en onseker deel hulle aaklige berigte. 
Hoe hanteer ons dit? 
Ons worstel en vra en bid… 
En wag op die Koning wat in die hemele sit. 

Ons oë gaan oop, 
vir nuwe lewe nuwe hoop. 
Die werk is groot maar God het beloof, 
hou vas aan my beloftes deur geloof, 
ek is met jou! Niemand sal jou die kroon beroof. 
Laat ons dan met saamgevoegde hart die wedloop loop, 
geduldig in lydsaamheid die tyd uit koop. 

Laat ons Hom dank vir wie Hy is, 
en dat ons ewig saam met Hom mag rus. 

Ds Lourens(vdm) 

DINK AAN MY, MY GOD

Nehemia is bekend daarvoor dat hy op ‘n merkwaardige wyse die mure van Jerusalem kom help herbou het. Na die terugkeer uit Babel se ballingskap, was die herstel maar baie stadig. Onder Serrubabel het die ballinge stadig gevorder met die herstel van die tempel. Deur die aanmoediging van Haggai en Sagaria het dinge weer gevorder, veral onder leiding van Esra die priester.

Maar die stadsmure het steeds stukkend gelê bykans 50 jaar na die terugkoms. As Nehemia inspring en leiding neem, dan word die mure in ‘n rekordtyd van 52 dae herstel, sodat selfs Nehemia se vyande erken: dit was ‘n werk van die Here.

Min mense besef egter die belangrike sosiale herstel wat Nehemia gebring het. Die uitbuiting van die armes deur die ryk en adelike mense is weer reggestel. Die priesters en leviete is weer in hulle poste terug herstel en die tiendes weer ingevorder.

As Nehemia noodgedwonge terugkeer na Babel, waar hy as skinker van die koning opgetree het, dan is die verval net so vinnig. Ons lees dan in die laaste hoofstuk, as Nehemia weer terugkom na Jerusalem, dat hy weereens die volk moet suiwer van hulle verval.

Weer moet hy begin by die tempel en die priesterlike diens waar daar spesiale voordele aan sommige gegee is. Tobia word met al sy huisraad uit die voorraad kamers gejaag en die tiendes weereens herstel.

Alle handel word verbied op die Sabbat en die poorte van die stad word gesluit. As die handelaars opdaag om op die Sabbat hulle goedere te verkoop, word hulle weggejaag.

So ook word die ondertrouery met die heidense volkere verbied en die vreemdes word weggejaag. As Nehemia vermeld dat die kinders so vervreemd geraak het deur hierdie ondertrouery dat hulle nie eers meer Joods kon verstaan nie, sê hy: “Daarom het ek met hulle getwis en hulle gevloek, en sommige van hulle geslaan en die hare uitgepluk en hulle by God besweer: Julle mag nie julle dogters aan hulle seuns gee nie…” Neh. 13:25

Telkens, by hierdie hervormings pleit Nehemia: Dink aan my, my God! Nehemia verstaan iets wat ons baie maal vergeet: Hoe geduldig God met ons sondes is. Hoeveel keer moet ons nie van ons sondes bekeer en weer afsien van ons sonde nie! Hoeveel keer verval ons nie maar net weer terug in die gewoontes van die verkeerde nie.

Maar meer nog: hoeveel van ons is werklik besig met die werk van die koninkryk. Ons sal eerder pleit, Here moet tog nie aan ons verkeerde dade dink nie. So kan ons ook leer om ons geloofsarbeid aan die Here op te dra. Die Here vergeet nie die goeie werke van die gelowiges nie, nee, dit het ewigheidswaarde. (Op. 14:13)

Ds Lourens (vdm)

« Older posts Newer posts »