Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Kategorie: Predikante Skryf (Page 13 of 42)

Bekyk die stad van God – Ps 48:13 

“Gaan om die stad Sion, trek reg rondom, tel sy torings, bewonder sy mure, bekyk sy versterkings” – Ps 48:13 

As ‘n mens na Israel gaan toer en as hoogtepunt op die Olyfberggaan staan en die berg Sion bekyk met die ou stad Jerusalem, dan speel die geskiedenis van die stad van Dawid en die bou van die tempel en die verwoesting daarvan voor jou geestesoog af. Jy sien die ontsaglike mure en fortifikasies en dan word jou gees weggevoer na die nuwe stad Jerusalem (Openb 21 en 22). 

Dit vra egter dat die toerleier jou help om nie by die uiterlike stad stil te staan nie… Jy word herinner dat die kerk/gemeente van God die eintlike stad van God is. 

Die kerk van vandag is die ou Jerusalem, vol gebrokenheid en sonde. Daardie kerk se toekoms is om deur die heiligmaking en groei van die geloof uiteindelik die ware Jerusalem te word: geheilig in die bloed van Christus, skoongewas soos ‘n bruid wat vir haar man versier is (Op 21:2). 

Kyk dan na die kerk van vandag en sien haar skanse en toringtranse: ‘n vestingstad vir die kinders (volk) van die Here; ‘n skuilplek in ‘n wilde en wrede wêreld. Die aanslae is groot en die versoekings geweldig. In die kerk is daar skuilplek teen die bose en sy aanvalle. 

Bekyk dan Jerusalem se mure (skanse) en torings en paleise: Elke huwelik en gesin is ‘n pragpaleis en fort waarin ons, ons veiligheid en krag en vrede vind. Daarom moet u en ek ons huise en huwelike met alle mag teen die vernietigende krag van die bose beskerm. Daar is skuilplek in die kerk en sy bediening. Elke Bybelstudie en Bybelskool en kleingroep en huisgodsdiens en huisbesoek is ‘n vesting om na toe te vlug, waar ons weer krag by die Here kan vind. Die heilige eredienste en kategese is soos ‘n versterkende besoek aan die tempel waar die Here onder sy volk woon. Jou geestelike vriende en broers en susters is jou stuwalle en fortifikasies waardeur ons weerstand teen die bose opgebou word. 

Gaan deur die gemeente van Centurion, bekyk wat die Here gedoen het vir hierdie gemeente en wees bewus van die wonderlike genadegawes wat die Here aan ons elkeen gegee het. Bewaar jou lidmaatskap (attestasie) met ‘n heilige erns deur nie net ‘n meeloper en toeskouer te wees nie, maar deur jou gawes tot nut en voordeel van die liggaam van Christus aan te wend. 

Bekyk hierdie stad as heilige vesting. Doen dit biddend. Dankend. Bid vir jou ampsdraers en leraars en medegelowiges. Dra die bediening op in gebed en weet dat ook gelowiges van die breër kerkverbande saam met ons in dieselfde stryd (en belydenisse) staan as medewerkers en mede-arbeiders en medestryders in die koninkryk van God. 

Laat Sionsberg weerklink van vreug! 

“Aanskou die stad met skanse, 
Paleise, toringtranse – 
hoedat hul pryk met nuwe prag. 
En meld dit aan die jong geslag…” 
(Ps 48:5 berymd) 

Ds Maarten 

“’n Lewendige hond is beter as ‘n dooie leeu” 

Hierdie woorde uit Prediker 9:4 laat ‘n mens diep nadink oor die lewe en al die uitdagings wat dit daagliks bring. Vir ons wat in Afrika woon en bekend is met leeus, is hierdie beeld duidelik. Dit is egter die ander helfte van die versie wat perspektief bring: “Want solank iemand by die lewendes behoort is daar hoop”. Dit is waaroor die Nagmaal gaan, oor hoop! Oor ons verwagting van die toekoms. 

Ek deel graag hierdie gedig van Marno Hermann, na aanleiding van ons afgelope koningskinders kamp. Mag die Here ook vandag weer nuwe hoop gee deur sy genade. 

Waarvoor dank ons God? 
Dryf ons met sy genade spot? 
Om die evangelie te hoor weergalm, 
kinders sing saam ‘n lofpsalm. 

So roep ons op groot en klein, 
om te sing van God’s liefde refrein. 
Ons deel in ‘n enkele doel, 
om saam te werk en te woel, 
sodat kinders die liefde van hul Vader kan voel. 

Daar in jou midde staan tien talle gesigte, 
klein en onseker deel hulle aaklige berigte. 
Hoe hanteer ons dit? 
Ons worstel en vra en bid… 
En wag op die Koning wat in die hemele sit. 

Ons oë gaan oop, 
vir nuwe lewe nuwe hoop. 
Die werk is groot maar God het beloof, 
hou vas aan my beloftes deur geloof, 
ek is met jou! Niemand sal jou die kroon beroof. 
Laat ons dan met saamgevoegde hart die wedloop loop, 
geduldig in lydsaamheid die tyd uit koop. 

Laat ons Hom dank vir wie Hy is, 
en dat ons ewig saam met Hom mag rus. 

Ds Lourens(vdm) 

DINK AAN MY, MY GOD

Nehemia is bekend daarvoor dat hy op ‘n merkwaardige wyse die mure van Jerusalem kom help herbou het. Na die terugkeer uit Babel se ballingskap, was die herstel maar baie stadig. Onder Serrubabel het die ballinge stadig gevorder met die herstel van die tempel. Deur die aanmoediging van Haggai en Sagaria het dinge weer gevorder, veral onder leiding van Esra die priester.

Maar die stadsmure het steeds stukkend gelê bykans 50 jaar na die terugkoms. As Nehemia inspring en leiding neem, dan word die mure in ‘n rekordtyd van 52 dae herstel, sodat selfs Nehemia se vyande erken: dit was ‘n werk van die Here.

Min mense besef egter die belangrike sosiale herstel wat Nehemia gebring het. Die uitbuiting van die armes deur die ryk en adelike mense is weer reggestel. Die priesters en leviete is weer in hulle poste terug herstel en die tiendes weer ingevorder.

As Nehemia noodgedwonge terugkeer na Babel, waar hy as skinker van die koning opgetree het, dan is die verval net so vinnig. Ons lees dan in die laaste hoofstuk, as Nehemia weer terugkom na Jerusalem, dat hy weereens die volk moet suiwer van hulle verval.

Weer moet hy begin by die tempel en die priesterlike diens waar daar spesiale voordele aan sommige gegee is. Tobia word met al sy huisraad uit die voorraad kamers gejaag en die tiendes weereens herstel.

Alle handel word verbied op die Sabbat en die poorte van die stad word gesluit. As die handelaars opdaag om op die Sabbat hulle goedere te verkoop, word hulle weggejaag.

So ook word die ondertrouery met die heidense volkere verbied en die vreemdes word weggejaag. As Nehemia vermeld dat die kinders so vervreemd geraak het deur hierdie ondertrouery dat hulle nie eers meer Joods kon verstaan nie, sê hy: “Daarom het ek met hulle getwis en hulle gevloek, en sommige van hulle geslaan en die hare uitgepluk en hulle by God besweer: Julle mag nie julle dogters aan hulle seuns gee nie…” Neh. 13:25

Telkens, by hierdie hervormings pleit Nehemia: Dink aan my, my God! Nehemia verstaan iets wat ons baie maal vergeet: Hoe geduldig God met ons sondes is. Hoeveel keer moet ons nie van ons sondes bekeer en weer afsien van ons sonde nie! Hoeveel keer verval ons nie maar net weer terug in die gewoontes van die verkeerde nie.

Maar meer nog: hoeveel van ons is werklik besig met die werk van die koninkryk. Ons sal eerder pleit, Here moet tog nie aan ons verkeerde dade dink nie. So kan ons ook leer om ons geloofsarbeid aan die Here op te dra. Die Here vergeet nie die goeie werke van die gelowiges nie, nee, dit het ewigheidswaarde. (Op. 14:13)

Ds Lourens (vdm)

Ons is almal onderling verantwoordelike vir mekaar 

Hand 2:36-47

As gemeente van gelowiges in ons Here Jesus Christus, het ons ’n groot verantwoordelikheid. Hierdie verantwoordelikheid behels of beteken dat ons aan mekaar verbonde is. Ons is aan mekaar verbind deur ons geloofsband in Jesus Christus. Ons is een groot geestelike gesin, een groot geestelike familie, een voor God in en deur Jesus Christus. Daarom kan niemand homself maar afsonder en op sy eie lewe, los van die ander “gesinslede” nie. Ons is gesamentlik verantwoordelik vir mekaar. 

Juis in die moderne eeu raak hierdie waarheid al hoe belangriker. Almal raak meer individualisties en die moderne mens wil as ’n ware “anoniem” op sy eie voortleef. Ons sit heinings om ons huise, bly agter mure en toe deure, weens veiligheid en elkeen is individueel met homself besig. Dit is nie hoe God dit bestem het nie. 

Die beeld van 1 Kor 12 is duidelik dat elkeen van ons ’n gawe van God ontvang het. Ons is elkeen maar ’n ledemaat van die liggaam. Elke ledemaat van die liggaam is belangrik om die liggaam ten volle te laat funksioneer. Daarom is dit nie van belang of jy die oog of oor of hand of tand is nie. Van belang is dat jy jouself gee aan God en aan die gemeente tot voor-deel en uitbreiding en uitbouing van die gemeente en die koninrkyk van God. 

Om dit te kon uitleef het Petrus aan die gemeente geleer in Hand 2 dat hulle hulle moet bekeer, laat doop, laat onderrig in die Bybel en dan saam eet en bid. Dit wys duidelik op die “koinonia” die saamleef in ’n eenheid voor God. Daarom is dit so belangrik as gemeente om saam die Here te dien, om mee te leef en elkeen op sy gebied met die gawes wat God aan jou gegee het, die Here te dien. 

Mag ons almal saam die Here aanbid en die Here dien, tot eer en verheerliking van God en tot opbou van Sy kerk en Sy koninkryk. 

Ds. Gerrit 

Die huwelik in die lig van die Woord. 

Ef. 5:21-33 

Naas jou verhouding met God is jou verhouding met jou huweliksmaat sekerlik die belangrikste samelewingsverband waarin ’n man en vrou kan staan. God het die huwelik ingestel. God het dit so gewil dat ’n man en ’n vrou met mekaar trou, maar nie enige man met enige vrou nie, maar dié man of dié vrou wat God vir jou uitgekies het. 

Dit is ’n baie belangrike en uiters verantwoordelike keuse om te bepaal wie is die regte man of die regte vrou vir jou. Dit vra juis dat jy biddend en ernstig en opreg voor God sal wees oor jou huwelikskeuse. Die beste keuse is sekerlik dat jy met ’n mede-christen trou, wat net so ernstig soos jy is oor jou verhouding met God. Jou huwelik moet gebou wees op die Rots van Jesus Christus. Dan kan daar maar enige aanslae kom en jou huwelik sal dit weerstaan. Om Jesus Christus te ken en die Woord te ken, is om jou huwelik in te rig volgens God se plan. 

Liefde is sekerlik die grondslag van die huwelik. Maar nie ’n liefde wat alleen op wêreldse romantiese idees geskoei is nie, maar liefde wat werklik van God af kom. Dit is daarom dat Paulus die verhouding van die man en vrou vergelyk met die liefde van Jesus Christus en wat Hy vir die Kerk, sy bruid, (Open 19:5-10) gedoen het. 

  • Die vrou se onderdanigheid (vgl. Ef 5:21) word vergelyk met die kerk se onderdanigheid aan Jesus Christus. (v22) 
  • Die mans se liefde vir hul vrouens word vergelyk met Jesus se liefde vir sy kerk. (v25) 

Die eenheid van die liefde word dan ook bewys, deurdat ’n man en vrou hul ouerhuise verlaat en saam gaan bly onder een dak. Die liefde is dan gesetel in ’n onvoorwaardelike, “agape” liefde soos wat ons in 1 Kor 13 van lees. Liefde is ’n werkwoord. Liefde moet letterlik geleef word, bewys word en gedoen word, teenoor mekaar. Liefde word vergelyk met Jesus wat sy Bruid, (die Kerk) so liefgehad het dat Hy sy lewe vir haar afgelê het. 

Leef jou huwelik dan in opregtheid voor God. Wees eerlik en getrou aan mekaar. Wees opreg en dra mekaar op die hande. Die huwelik is die grootste geskenk, naas jou geloof, wat jy van God ontvang het. 

Ds. Gerrit 

Koningskinders: Die huis op die Rots 

Eerskomende Woensdag vertrek ons gemeente op ons tweede koningskinderskamp na Udolpho Rivierplaas. Ons het ongeveer 100 kinders genooi uit ons gemeenskap hier in Centurion vanuit die verskillende laerskole. 

Vir baie van hierdie kinders is dit die eerste keer in hulle lewe wat hulle op ‘n kamp gaan. Die laaste drie jaar het ‘n nog swaarder las op baie gesinne geplaas wat dit glad nie kan bekostig om enigsins van die huis af weg te kom nie. 

Daar is ongeveer 50 lidmate uit ons gemeente wat saam op die kamp gaan as groepleiers, kosspan, triekfabriek en sommer net algemene hulp. Daarby het nog tientalle lidmate gehelp om al die middele in te samel wat ons nodig het om hierdie kamp moontlik te maak. 

Daar is sjampoe in botteltjies afgemeet, lekkergoed pakkies gepak, handpoppies gemaak en koekies en beskuit gebak. Daar is te veel om op te noem om te kan dankie sê. Vir elke lidmaat wat hand uitgereik het, ons innige dank. Maar dan moet ons ook dit sê: hoe sê ons dankie as ons doen wat ons as gelowiges moet doen. Dit is tog ons roeping om die evangelie uit te dra. 

Daarom gaan ons ook vir elkeen wat nie ‘n Bybel het nie, hulle eie Bybel gee. Ons tema hierdie jaar is: die huis op die Rots gebou. Ons gaan vanuit God se Woord ondersoek hoe ‘n huis lyk met goeie fondamente en wat gebeur met ‘n huis wat nie goeie fondamente het nie. 

Dit geld ook vir ons gemeente en ons elkeen se eie lewe. Ons moet lewende stene wees gebou op die fondament, die Hoeksteen, Christus. As die Here wil sal ons volgende Sondag, almal saam hier die erediens bywoon, as die hoogtepunt van ons kamp. 

Mag die samekoms van die gelowiges, ook vir jou die hoogtepunt wees waar elke nuwe week begin, om jou huis op die Rots te bou. 

Lourens (vdm) 

« Older posts Newer posts »