In die bergpredikasie, sê Jesus: “Gelukkig is die wat dors na geregtigheid” Matt 5:6. Hy dra ons ook op, in Matt 6:33, om eers die koninkryk van God en sy geregtigheid te soek. Wat beteken God se geregtigheid?
Geregtigheid gaan oor verhoudings tussen mense maar meer belangrik oor die verhouding tussen God en die mens. God se geregtigheid is een van sy wesens-eienskappe wat Sy verhouding met ons beheers.
Hierdie eienskap behels dat Hy volmaak regverdig en billik is en altyd so teenoor ons optree. Hy lê reëls neer vir die mens en ongehoorsaamheid daaraan straf Hy met die dood (Gen 2:16–17). Elkeen van ons moet elke dag die erns van ons daaglikse ongehoorsaamheid besef – ons is almal skuldig tot die dood. Lees maar weer Rom 3:10–20.
God se geregtigheid sluit genadiglik ook in dat hy deur Jesus Christus ons sondes volkome vergewe. In 1 Johannes 1: 8 – 9 lees ons dat as ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie, maar as ons ons sonde bely – Jesus Christus is getrou en regverdig, Hy vergewe ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Joh 1).
Die sleutel tot hierdie vergifnis en die ware en ewige lewe lê in geloof in Christus. In Rom 1:17 sê die Heilige Gees deur Paulus dat elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo sal lewe. Die geregtigheid wat ek, sondige mens, nodig het, lê in die Evangelie van Christus. Christus is sentraal in God se geregtigheid – nie die wet, goeie werke of enige iets anders nie.
Wat ons benodig is ware geloof wat sigbaar moet word in ons daaglikse lewenswyse. In Jak 2:14 ev word ons aangemoedig om ons geloof uit ons dade te wys.
Ons jubel ook, Jak 1:4 ev, in God se geregtigheid wat Hy in Christus aan ons geopenbaar het.
Oudl. Koos Pretorius