Die Jubeljaar in Bybelse konteks is ‘n tyd van herstel, dankbaarheid en aanbidding – ‘n tyd waarin God se voorsiening en genade gevier word.
Die vyftigste bestaansjaar van ons gemeente is ‘n kosbare geleentheid om die grootheid en getrouheid van God oor vyf dekades te erken.
In Judas 1:24-25 word ‘n lofprysing aan God gerig waarin ons ook kan meedoen met hierdie viering omdat dit fokus op God wat ons oor ‘n tydperk van vyftig jaar behoed en bewaar het. Dit is nie ons pogings nie maar die grootheid en genade van God wat ons beskerm en gelei het.
Die lied “Hoe groot is U” dien as gepaste loflied om ook God skeppingsmag te eer en die fokus te plaas op Christus se offer aan die kruis wat die kern van ons verlossing en jubeling is. Dit pas by die jubeljaar se tema van herstel en genade.
Saam met Judas 1:24-25 roep ook hierdie lied ons gemeente op om te erken dat God oor vyftig jaar getrou was en dat Sy mag en heerlikheid tot in alle ewigheid bly. Hierdie teks en lied herinner ons ook aan die bron van ons bestaan en groei – God self – en inspireer ons om die toekoms met geloof, vreugde en vertroue tegemoet te gaan.
Die jubeljaar is dus nie net ‘n viering van die verlede nie maar ook ‘n uitnodiging om in aanbidding te staan en soos Judas 1:25 te verklaar: “Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor Sy heerlikheid te stel, aan die enigste God, ons Verlosser, deur Jesus Christus ons Here, behoort die heerlikheid, majesteit , krag en mag – van voor alle tye, en ook nou, en tot in alle ewigheid. Amen.”
Oudl Louis Trichardt