Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: Johan Hoogenboezem (Page 2 of 2)

Mootkamp Tieners 2017

Moot٠kamp S.nw [-e] 1. ‘n Plek waar jong gelowiges saamkom om hul geloof uit te leef en te versterk. ‘n Plek van groei en heelmaking. 2. Hope pret en mal studente. 3. Hegte vriendskapsbande wat ‘n ewigheid hou. 4. Die plek waar die onsigbare Kamoewe wei. ‘n Mootkamp is hoogs verslawend.

Mootkamp 2017 was waarlik ‘n onvergeetlike ervaring. Saam is daar gelag, gehuil, gesing, gebid en gegroei. Elke dag was ‘n dag met nuwe verwagtinge en uitdagings. Die ondeunde groepleiers het gesorg vir hope pret en het seker gemaak dat die lagspiere ordentlik ontwikkel. Dit was ’n kamp soos geen ander nie. Opwindende aktiwiteite het verseker dat geen kind ooit verveeld was nie – van Volleyball tot boeresport en ‘n lekker moelasse-smeersessie. Dan word daar nog nie eens gepraat van die smullekker kos nie! Dit is een kamp waar jy nie na jou ma se kos hoef te verlang nie. Die laaste aand se dinee was een van die vele hoogtepunte van die kamp. Met ons magies vol van die lekker spitbraai is daar ’n vermaaklike talent aand gehou. Daarna is daar natuurlik lekker geskoffel op die dansbaan en ook gekuier by die rustige geknetter van ‘n gesellige vuurtjie.
Saam met die lekker lag en speel was daar ook tyd vir stil word voor die Here en Sy almag. Ons het die voorreg gehad om God se wonderlike openbaring in Sy woord en ook in die skepping te ervaar. Saam het ons deur die bedes van die Onse Vader gewerk en God se heerlikheid ervaar. Nie net het die kamp geleentheid gebied om as medegelowiges saam in God se Naam te groei nie, maar ook om persoonlik tyd saam met Hom te spandeer en Sy wil te leer ken. Dit wat daar by die Mootkamp geleer word, is iets wat elkeen vir die res van hul lewens met hul kan saamdra en deel van hul lewenspad kan maak. Elkeen van ons kan nou met oorgawe saam met Romeine 11: 36 bely: Uit Hom en tot Hom en deur Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Newer posts »