Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 97 of 343)

Amper Christenskap 

Skriflesing: Handelinge 26:1-32 (2020)
Teksvers: Handelinge 26:15-18
HK: Sondag 13

Nie minder as drie maal word die bekering van Paulus in die boek Handelinge beskryf . 

Die eerste keer is die beskrywing van sy bekering, en die ander twee geleenthede is waar Paulus self verduidelik of getuig van sy bekering. 

In hierdie geval, voor koning Agrippa, en daarvan sê die koning: Jy het my amper oortuig om ‘n Christen te word. 

Ons staan stil by hierdie getuienis van Paulus waarin hy erken dat Jesus Christus die Here is. 

Wie van harte bely sal gered word 

Skriflesing: Romeine 10:1-21 (1953)
Teksvers: Romeine 10:6-10

Hoe heerlik as mense saam in eenheid en liefde lewe. Meer nog as dit gebaseer is in een en dieselfde geloof en die belydenis daarvan. Daarom is die volgende hoogtepunt in die erediens-liturgie die gemeenskaplike Geloofsbelydenis. 

Ek onthou dat ek en my skoonseun op 31 Oktober 2017 in die Luther-kerk in Wittenberg in ‘n erediens was (presies 500 jaar na die begin van die Groot Hervorming!), en daar doen hulle toe die Twaalf Artikels in Duits… en ons twee doen dit toe kliphard in Afrikaans… en die vreugde-trane rol, want daardie liefdevolle geloofsbande oor eeue en tale heen het ons onmiddelike eenheid en liefde laat belewe. 

So kan dit elke Sondag in die erediens saam met al u medegelowiges in hierdie gemeente in Centurion gebeur. 

Die Apostolicum 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis rangskik die noodsaaklike waarhede van die Christelike geloof in terme van ‘n natuurlike en logiese vooruitgang. Die orde van die Goddelike openbaring, gebou op die fondament van die Drie-eenheid, word getrou gevolg. Die belydenis beweeg van God die Vader en sy skepping na die persoon en werk van Jesus Christus – sy bonatuurlike geboorte, lewe, dood en opstanding. Daarna kom ons by die Heilige Gees, die kerk en ander toekomsgebeure. [Die Belydenis van Nicea volg dieselfde orde.] 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis is nie ‘n logiese beskrywing van abstrakte leerstellings nie, maar ‘n belydenis van feite wat leef en red. Augustinus het na die belydenis verwys as “a brief and grand regulator of true faith”. Luther glo dat die Christelike geloof nie in ‘n korter en duideliker manier gestel kan word nie. Calvyn noem dit ‘n korrekte opsomming van die Christelike geloof. 

Hierdie belydenis is nie deur die apostels geskryf nie, maar dit verteenwoordig ‘n ware en getroue raamwerk van dit wat die apostels verkondig het. Waarskynlik is vroeë belydenisse by die doop van gelowiges gebruik. Die vroegste belydenis was kort en eenvoudig: Jesus is die Here. Hierdie vroeë en kort belydenisse word uitgebrei om die implikasies duidelik uit te bring. Ons weet ook dat die kerke in die vierde eeu almal stellings en belydenisse gebruik het om te verduidelik wat hulle geglo het. Hierdie belydenisse was almal feitlik identies. 

Drie eienskappe van die Apostoliese Geloofsbelydenis 

• Die belydenis beklemtoon dat geloof primêr vertroue in die lewende en ware God is: Ek glo in God die Vader, die Almagtige … En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun … Ek glo in die Heilige Gees. Die belydenis sê nie dat ek dit of dat glo nie – ek glo in. 

• Die belydenis in primêr ‘n ware geskiedkundige verhaal. Kyk net na die name wat gebruik word: Maria Pontius Pilatus, Jesus. Dit verwys ook na spesifieke gebeure in die geskiedenis – Jesus se dood, begrafnis en opstanding. Dit berus op werklike geskiedkundige gebeure. Die belydenis is nie abstrakte teologie nie, maar goeie nuus. 

• Die belydenis praat van die Drie-eenheid lank voor ‘n kerkvergadering hierdie leer bespreek het. 

Alle kerke behoort die belydenis te gebruik, maar dan nie as ‘n gewoonte nie, maar as ‘n uitdrukking wat ons geloof bevestig. (Oorgeneem.) 

Ds Maarten 

Wie sê julle is Ek? 

Skriflesing: Matteus 16:13-23 (1983)
Teksvers: Matteus 16:16,17
HK: Sondag 12

Die monogram van die belydenis van Christus as ons Verlosser is redelik bekend in die vorm van ‘n VIS. Die ware monogram is egter die een wat hierbo verskyn en waarin die letters van die belydenis dat Jesus die Christus en Verlosser is, saamgevat is. Die eerste letters van die Griekse woorde vir Jesus Christus Seun van God ons Verlosser vorm saam die woord IXTHUS, in Afrikaans VIS. 

Waarskynlik het die Ichthus-belydenis sy oorsprong in die belydenis van Petrus in ons teksvers en uiteindelik sal dit in die geskiedenis uitloop op die 12 Artikels van ons Christelike en apostoliese geloofsbelydenis. 

Kom ons antwoord vanaand met Sondag 12 op die vraag van Jesus in Matteus 16:16 en bely dat Jesus die lank-beloofde Christus is, ons Koning en ons Verlosser. 

Die Lam is Lofwaardig 

Skriflesing: Openbaring 4:1-5:14 (2020)
Teksvers: Openbaring 5:11-13

Musiek ontroer die siel. Dit streel die snare van die hart. Maar wat is dit tog om musiek te maak of ‘n lied te sing wat nie tot lof van God die Almagtige is nie? Aan die ander kant is die vraag: wat is die reaksie op die ontmoeting van die kerk met die Almagtige? Deur die eeue heen hoor ons hoe mense spontaan in lofliedere uitjubel oor die groot en magtige werke van die Here. 

So kan die kerk ook in die erediens sing! Ons kan die lof van God besing. Lofwaardig is die Lam. 

« Older posts Newer posts »