Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 82 of 343)

TRIOMF IN CHRISTUS

Om te triomfeer is meer as om te wen. Soms kan ‘n mens wen, sonder om te triomfeer. As jou lewe daarop gerig is om in alles wat jy doen eerste te wees, of om te wen, kan dit baie negatiewe gevolge hê. Dink maar aan jou huwelik, jou gesin, jou werk. Jy kan nie “wen” in die huwelik nie. Daar is nie ‘n eerste plek in ouerskap nie. In ‘n huisgesin kan jy nie die beste familielid wees nie. Want waaraan sal jy dit tog kan meet? 

By die werk gaan jou kollegas verbitter raak teenoor jou as jy die heeltyd ten alle koste wil wen of die beste wil wees. Jy gaan dalk eerste kom, maar jy gaan laaste wees… Dit is presies wat Jesus ons leer dat ons oorwinning nie in wêreldse terme bepaal word nie. Want ons oorwinning is nie aan ons self gekoppel nie. Ons oorwinning is deur die geloof in Christus. Elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor, maar elkeen wat sy lewe om Christus wil verloor, sal dit vind. 

Aan God kom toe al die dank en die lof en die eer en die verheerliking, wat ons altyd in Christus laat triomfeer. Ons is nie wenners in Christus nie, maar oorwinnaars. Paulus skryf hierdie woorde met die agtergrond van swaar beproewinge. Hy en sy metgeselle het getwyfel of hulle gaan oorleef. Die enigste hoop wat hulle gehad het, was die opstanding uit die dood. 

Deur die genade van God, in geloof, is hulle bewaar, en het hulle oor al hierdie omstandighede getriomfeer. God het uitkoms gebring. Hulle het nie “gewen” nie, hulle het oorwin. Hulle het deur die dal van doodskaduwee moes gaan, en het behoue, deur God se genade ander kant uitgekom. 

Soms gaan ons deur swaar beproewinge. Finansies druk, die werk se vereistes raak al moeiliker, jou geduld word al minder, jou huwelik begin skade lei. Jy vind uit jou spanning veroorsaak gesondheidsprobleme. Depressie, kanker, uitputting, maagsere. Jou vriende is skielik besig en afwesig, jou ouers het probleme, ‘n geliefde sterf. 

Teen hierdie elemente kan jy eintlik wen nie, maar jy kan in Christus, deur die geloof, oorwin. Jy kan aan die ander kant uitkom. Dalk nie soos jy gedink het nie, maar soos God dit beplan het. Jy is egter nie ‘n toeskouer nie, maar ‘n medewerker in die triomf van Christus. Jy is ‘n medewerker in gebed (2 Kor. 1:11) en ‘n medewerker aan blydskap (2 Kor. 1:24) saam met die medewerkers wat die evangelie verkondig in hulle swaarkry en vertroosting. 

So word ons medewerking en ons oorwinning deel van die triomf van Christus! 

“Wie sal ons skei van die liefde van Christus: verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? Soos geskrywe is: “Om U ontwil word ons die hele dag gedood, ons is gereken as slagskape. Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefgehad het.”” Rom. 8:35-37 

Lourens (vdm) 

Hoe sien jy jou dankie?

Skriflesing: 1 Korintiërs 1:1-8
Teksvers: 1 Korintiërs 1:4-8
HK: Sondag 32

Van kleins af leer ons kinders om “asseblief” en “dankie” te sê. Nie net is dit goeie maniere nie, dit wys op ‘n innerlike ingesteldheid. Iemand wat dankie sê, is dankbaar. 

Een van die dinge wat ‘n mens geweldig kan ontstel is wanneer iemand bv kos bedel, maar dan daardie kos in die asblik gooi. 

Dit is egter presies wat ons ook in ons geestelike lewe doen. So maklik word ons bedelaars van God se genade, maar gooi in die asblik wat God aan ons gee, sonder dankie. Of dat ons dink dat ons sekere dinge verdien. Dan is daar ook geen dankie nie. 

Ons staan vanaand stil by die eerste woorde aan die Korintiër gemeente met die oog op die rede waarom ons goeie werke moet doen, met die vraag: hoe sien jy jou dankie? 

God bemoedig ons deur Christus sodat ons ander kan bemoedig

Christus bemoedig ons oorvloedig 

Skriflesing: 2 Kor 1:1-11
Teksvers: 2 Kor 1:1-11

Die lewe is nie altyd maklik nie. Daar is talle uitdagings vir elke mens, persoonlik, in familieverband, in werksverband of skoolverband. Daar is ook uitdagings in jou geloof, in jou diens aan God. Hoe kan jy daarmee saamleef en hoe moet jy dit hanteer? Paulus begin dadelik en stel dit duidelik dat God, die Vader van ons Here Jesus Christus, sy kinders bemoedig, dit is vertroos en dra. Duidelik stel Paulus dit dat God ons in elke omstandigheid, in elke moeilikheid, in elke swaarkry bemoedig. En dit is vanweë God se bemoediging dat ons ook ander kan bemoedig. 

  • Wat God vir ons is.
  • Wat God vir ons doen.
  • Wat God deur ons doen. 

Bemoediging

Die nuwe jaar het begin en daar is alreeds vir elkeen van ons uitdagings. Die skole het begin. Die daaglikse arbeid het begin. En vir almal is daar alreeds uitdagings. Daar is besluite wat geneem moet word en daar is reeds spertye en harde werk. 

Hoe gaan ons die jaar deursien? Dit is juis vir ons as christene nie ’n krisis nie omdat ons die wonderlike bemoediging en genade, van God, ons Hemelse Vader ontvang. God is in beheer. God regeer. God het ons met Homself versoen deur Jesus Christus. Daarom is ons “Nuwe mense” in en deur Jesus Christus. Hy is ons Trooster. Omdat Hy ons bemoedig kan ons ander bemoedig. 

Daarom is dit so ’n wonderlike voorreg om deel van ’n gemeente te wees. Ja nie net aan ’n gemeente te behoort nie, maar om deel van ’n gemeente te wees. Omdat ons deel van die gemeente is, met Jesus Christus as ons Hoof, is daar vir ons oorvloedige vertroosting. Deur Jesus Christus weet ons dat ons alreeds God se kinders is, dat God alreeds en steeds ons versorg en elke dag by ons is en sal wees. 

Wat dan van die oorloë en aanslae van die Satan en die wêreld en ons eie vlees elke dag? Ons hoef nie bang te wees nie, want in en deur Jesus Christus is ons meer as oorwinnaars. 

Kom ons leef daarom ’n opregte, eerlike en dankbare lewe voor God. God bemoedig ons, maar kom ons bemoedig mekaar uit die Woord, deurdat ons ons lewe totaal aan God toewy. Alles wat ons dink en doen sê, kom ons doen dit tot eer van God. God se bemoedig uit sy Woord is so groot, maar kom ons maak dit ons eie deur in toewyding en gehoorsaamheid, aan God al die lof en al die eer en al die heerlikheid toe te bring. 

Om so te kan leef is die meelewing in die gemeente van kardinale belang. Dit is hier waar ons mekaar bemoedig en vermaan en versterk deur gebede, deur mekaar se hande vas te hou en deur mekaar aan die Here op te dra. 

Mag ons ’n geseënde en vrugbare jaar beleef, tot eer van God! 

Ds. Gerrit Kruger 

« Older posts Newer posts »