Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 67 of 343)

Die Weg van Verlossing

Die Prediker is bekend daarvoor dat hy alles op die aarde op die proef gestel het, en bevind het dat alles ‘n gejaag is na wind. Tog is daar sekere dinge wat die Prediker erken wat ‘n misterie bly en kom sy oproep: “Soos jy nie weet wat die weg van die wind is, of hoe die gebeente in die skoot van ‘n swangere is nie, net so weet jy nie die werk van God wat alles doen nie.” Prediker 11:5 

Net so beskryf die Dordtse Leerreëls dat ons nie met nuuskierigheid moet probeer uitvind oor wat die dinge is wat God in sy almag beskik nie. Daar is sekere dinge in die lewe wat God se geheimenis bly. Dit leer die Skrif ons. Maar die Skrif maak ook duidelik aan ons ander dinge bekend wat ons mag en moet weet. 

Dit is in hierdie verband wat ons ondersoek instel na die weg van ons verlossing. Of die Heilsorde. Ons lees gereeld in die 10 gebooie hoe die Here sy volk gered het uit Egipte en hulle gelei het na die beloofde land. Die wyse waarop God sy volk red, word ook aan ons beskryf bv. deur die 10 plae. 

So kan ons ook die werk van God in ons eie lewe ken. Sommige van ons was in die Egipte van die sonde waaruit God ons gered het. Ander weer is kinders van die belofte wat oppad in die woestyn gebore is. Ander weer het die voorreg om nog altyd die beloofde land te ken. 

Die wonder van God se verlossing, is nie vir een van sy kinders minder merkwaardig maak nie. Hy red elkeen op presies dieselfde wyse nl, deur Jesus Christus sy geliefde Seun. Die verskil kom egter, waar op ons lewenspad ons bewus raak hiervan. Vir daardie man aan die kruis, was dit op sy sterfbed. Vir ‘n ander is dit ‘n ernstige siekbed of ‘n groot skrik in die lewe. 

Vir baie van ons was dit nog altyd deel van ons lewe. Miskien kan jy ook nie onthou wanneer jy “gered” is, jou dag en datum nie, omdat jy nog altyd in die Vaderhande behoue was. 

Kom reis saam met ons deur die weg van verlossing tydens die aanddiens, en ontdek weer hoe heerlik jou redding is. 

Lourens (vdm) 

Volg My!

(Last updated on Augustus 5th, 2024)

Skriflesing: Matteus 9:9-13 (2020) 
Teksvers: Matteus 9:9 

Roeping, roep, geroep, beroep, aanroep, uitroep, oproep, inroep. Die begrip roep of roeping is nie vir ons vreemd nie. Die meeste mense sal met oortuiging kan antwoord dat hulle ‘n lewensroeping het. Dit word dan beskryf as ‘n innerlike gevoel of drang om diensbaar te wees vir ‘n groter doel. Vir baie mense is hierdie roeping dit wat hulle sin en betekenis in die lewe gee. Maar dit is nie altyd so maklik om presies te weet wat daardie roeping in jou lewe is nie. 

Mense voel soms verward en onseker oor die verhouding tussen hierdie geestelike innerlike drang na ‘n doel of betekenis (vocatio), en hulle alledaagse bestaan en beroep (professio). Gevolglik is daar verskillende verstaan en begrip oor wat roeping werklik beteken. Vereis roeping ‘n geestelike element waar jou gewone werk (beroep) opgeoffer word om iets belangriker in die koninkryk van God te verrig? Of is jou beroep deel van jou roeping? Wat van geloof? Ons staan vanaand stil by die beweegrede as God tot ons spreek: volg My! 

Kom staan met leë hande voor jou Verlosser en word uit genade gered

Skriflesing: Lukas 23 Efesiërs 1:3,4 (1983) 
Dordtse Leerreëls: 1:1-6 
Teksvers: Lukas 23:42,43 

Dit sal nie verkeerd wees as jy die ergste dinge dink van die agtergrond van die twee manne aan die kruise langs Jesus, daardie dag buite die stadspoorte van Jerusalem nie. Hulle was regte misdadigers. Wrede en robuuste rowers en moordenaars. En dan eindig een van hulle nogal in die Paradys (die Hemel) saam met Jesus! 

Dit is ‘n pragtige illustrasie van verlossing deur genade alleen. Die Bybel noem dit uitverkiesing of voorbeskikking (predestinasie) waardeur God sy kinders in pure genade en barmhartigheid red. 

Vandag gaan ons na daardie vervloekte kruis in die middel kyk en sien hoe groot die genade van God werklik is, want daar is werklik geen onderskeid tussen die twee manne langs Jesus nie, behalwe die eerlike en erkenning belydenis van sonde… En dít met leë hande voor die troon van Jesus. 

Hoe staan jy elke dag voor jou Verlosser? 

DORDTSE LEERREËLS

Die beslissing van die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande, wat in die jare 1618 en 1619 in Dordrecht gehou is oor die bekende vyf leerstellings waaroor in die Gereformeerde Kerke van hierdie Verenigde Nederlande verskil ontstaan het. 

Hoofstuk 1: GODDELIKE UITVERKIESING EN VERWERPING 

1. Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: “die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom 3:19). Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Rom 3:23) en: “Die loon van die sonde is die dood” (Rom 6:23). 

2. Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (1 Joh 4:9; Joh 3:16). 

3. Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: “Hoe kan hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie?” (Rom 10:14,15). 

4. “Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ‘n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe“ (Joh 3:36; Mark 16:16). 

5. Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ‘n genadegawe van God. Soos geskrywe is: “Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God” (Ef 2:8), ook: “Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo” (Fil 1:29). 

6. Dat God aan sommige mense in die tyd die gawe van die geloof skenk en aan ander dit nie skenk nie, volg uit sy ewige besluit. Immers: “Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend (Hand 15:18), en Hy doen alles volgens die raad van sy wil” (Ef 1:11). Volgens hierdie besluit maak God genadiglik die harte van die uitverkorenes ontvanklik – hoe verhard hierdie harte ook al mag wees – en buig hulle om tot geloof. Hulle wat egter nie uitverkies is nie, laat Hy volgens sy regverdige oordeel in hulle boosheid en verharding bly. Hierin veral kom vir ons tot openbaring die diepe, barmhartige en tegelyk regverdige onderskeiding tussen die mense wat almal ewe verlore is. Dit is die besluit van die uitverkiesing en verwerping wat in die Woord van God geopenbaar is. Verkeerde, onreine en onstandvastige mense verdraai hierdie leer tot hulle eie verderf, maar aan die heiliges en godvresendes gee dit ‘n onuitspreeklike troos. 

« Older posts Newer posts »