Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 59 of 343)

Die nuwe lewe in Christus: (4) Die Lewe is Aanbidding

Skriflesing: Numeri 6:1-27 (2020)
Teksvers: Numeri 6:2-4

Sommige mense reken om te lewe is om alles te doen en alles te besit wat jou hart begeer. Op die oog af lyk dit begeerlik en op die oor klink dit reg, maar in die hart bly dit leeg. Indien jy egter nie van beter weet nie, sal dit nie ‘n slegte ambisie wees nie. 

Die Here se Woord leer ons egter dat die lewe baie meer is as wat ons besit. Dit gaan oor wie ons is. Dit is makliker gesê as om te doen. Om so te leef dat jou hele lewe aanbidding is. 

Daarvoor het die Here ‘n uitsonderlike gelofte toegelaat, die van Nasireërskap. ‘n Vrywillige toewyding aan die Here as voorbeeld van ‘n lewe van aanbidding. 

Die lewe is aanbidding

Vita Est Adoratio

Die lewe is aanbidding – dit is wat hierdie bekende spreuk beteken. Die hele lewe is om God te aanbid. Elke dag is soos ‘n erediens wat die hele bestaan van ons menswees omsluit. Ons aanbid God nie net op ‘n Sondag of as ons kerk toe gaan nie, maar in elke gedagte en woord en daad. Ons hele lewe is ‘n toewyding aan God. 

In ons Christelike dissipline van ‘n nuwe lewe in Christus word hierdie aspek die middelpunt wat ons hele lewe dryf. God wil hê dat ons hele lewe ‘n aanbidding moet wees van Hom. Dat Hy regeer oor alle sfere van die lewe. Natuurlik is die erediens sentraal in aanbidding, maar aanbidding strek baie verder as net die erediens. Dit is wat ons leef en beleef in die erediens wat ons help dat ons hele lewe aanbidding word. 

U weet mos wat soms gebeur met ons kinders en jongmense, dat hulle ‘n ikoon het wat hulle lewe inspireer. Dan sal jy sê jou kind aanbid die grond waarop daardie persoon loop. Dit beteken dat daardie persoon so groot invloed uitoefen dat jou kind se gedrag verander. 

Die Bybel leer ons dat ons God so moet aanbid. Ons moet in verwondering wees oor ons Maker. Jy moet Christus navolg in elke aspek van jou lewe. In jou stiltetyd en Bybelstudie, in jou gebed en gemeenskap van geloof sowel as in jou diensbaarheid en belydenis van geloof. Ons word wat ons aanbid. Dit verander jou menswees. Jou aanbidding heilig jou. As jy mammon aanbid, word dit jou lewe. As jy bachus aanbid lyk jou lewe naderhand so. Maar so ook as Jy die Drie-enige God aanbid, dan vertoon jy die beeld van God in sy geregtigheid en heiligheid en waarheid. Jy dra die vrug van die Gees. 

Onthou dan, jou liggaam is ‘n tempel, ‘n plek van aanbidding. Laat God jou verander deur die vernuwing van jou denke, sodat jy sy heilige wil mag volbring deur jouself te stel as ‘n lewende, heilige en welgevallige offer aan Hom, dit is ons redelike godsdiens. 

Lourens (vdm) 

Elke môre Nuut

Skriflesing: Klaagliedere 3:1-33 (2020) 
Teksvers: Klaagliedere 3:21-23 

Daar is daaglikse aanvegtinge wat ons gedurig moet oorkom. Soos Jeremia kan ons soms geweldig moedeloos en uitgeput raak, en opgee in die lewe. 

As ons op eie kragte moet steun, sal ons maklik verval in totale mislukking, soos Jesaja vermeld, selfs jong manne struikel en val in hulle fleur. Ons vertroue moet egter nie in onsself wees nie, maar in ons Maker. Daarin vind Jeremia hoop. Nie in sy eie behoud nie, maar in God se getrouheid. Dit is elke môre nuut! 

Dissiplines van ‘n heilige lewe: (3) Voortdurende gebed

Skriflesing: Matteus 7:7-11 (1983)
Teksvers: Matteus 7:7-11

Om in ‘n verhouding met die Almagtige te staan is natuurlik een massiewe groot voorreg. Net die feit dat Hy Homself aan ons bekend maak is al ‘n bonatuurlike wonder. Dat ons Hom mag leer KEN en dat Hy deur ons geKEN wíl wees is een en al genade. Daarom moet ons gereeld bid. 

Dis nie net ‘n voorreg nie. Dit is ook ‘n opdrag van God. Ons teks bied ‘n reeks van drie bevele (imperatiewe) rakende gebed. 

God wil dat ons met geestelike dissipline in gebed volhard en so hierdie intieme verhouding (verbond) van Vader en kind onderhou en uitleef. 

Vergenoegdheid

Tevredenheid/Contentment – (Josua17:14-18) 

Die gelese paragraaf gaan oor die families van Josef, die stamme van Manasse en Efraim, wat ONTEVREDE is met hulle lot. 

Josua moet die land verdeel en doen deur loting. Deur die gooi van die lot het die Here bepaal wat elke stam moet kry. Die nakomelinge van Josef is egter nie tevrede met hulle lot nie. Hulle kom kla by Josua. 

Ons ken mos die spul Israeliete van ouds. Kerm en kla was hulle gewoonte. 

Oppad uit Egipte, nog voor die deurtog deur die Rooisee, as die Farao hulle agtervolg, kla hulle alreeds. Deur die woestyn verlang hulle terug na die vleispotte van Egipte… en dan ken u die episodes met die kwartels en die waters van Meriba. 

Manasse en Efraim kla dat hulle nie genoeg grond gekry het nie. En heel vroom ook nog… “Ons is baie mense, want die Here het ons besonderlik geseën”. (14) 

Let nou goed op: Hulle kla eintlik teenoor die Here. 

Josua moes mos deur loting (werp van die lot) die land verdeel. So het die Here bepaal wat elkeen kry. Hulle is dus eintlik ONTEVREDE met God se besluit en toekenning. 

As ons nou so bietjie navorsing doen kom ons agter dat hierdie stamme nie regtig rede gehad het om te kla nie. Met die 2de Sensus, Moses se tyd (Num 26), sien ons dat hierdie Josef-stam (Efraim en Manasse saam) wel die grootste stam in Israel gevorm het. Die halwe Manasse-stam het egter Oos van die Jordaan reeds grond gekry. As ons dan die helfte van Manasse aftrek van die totale getal, vind ons dat die oorblywende Efraim en Manasse selfs minder in getal was as die kleinste stamme van Juda en Dan en Issaskar! Hulle het dus ‘n tweede deel ook gekry – Oos van die Jordaan! Daarom was hulle dus nou nie geregtig op meer as één werping van die lot nie! Hulle vroom praatjies was dus nie heeltemal so waar nie! 

Ja, so ken ons die mens! Ons sal selfs teenoor die Here loop en kla! 

Laat ons versigtig wees in ons gebede en in ons klagtes dat ons die Here wat ons alles uit genade gegee het, nie beledig en loop en verkla en aankla nie. Gebruik dit wat Hy jou gee tot die beste van jou vermoë en dank Hom in alles altyd vir sy genade! Sluit gereeld u gebed af met dié woorde van Jesus: “Nie my wil nie, maar laat U wil geskied”. 

Ds Maarten 

« Older posts Newer posts »