“Julle wat hier sit in die kerk, het my amper dood gemaak.” Dit is harde woorde van ‘n gerehabiliteerde straatbedelaar by ‘n kerkbyeenkoms waar hy sy getuienis gelewer het.
Ja, hy het ook ‘n verantwoordelikheid, maar elkeen wat sonder verantwoording geld in sy hand gestop het, was deel van sy probleem.
Barmhartigheid beteken betrokkenheid by die probleem totdat dit opgelos is. Barmhartigheid veroorsaak nie afhanklikheid van mense nie. Ons kan slegs afhanklik wees van God! Die Barmhartige Samaritaan (Lukus 10) het nie net die arme jong man ‘n paar munte in die hand gestop en gehoop hy help homself nie? Hy het werklik deel geword van die probleem tot by oplossing.
Daar is ongeveer 8000 straatbedelaars in Pretoria en Centurion omgewing, 99,9% van hulle het een of ander afhanklikheid – dwelms en/of drank. Hulle bedel/verdien daagliks ‘n gemiddeld van R300 tot R900 kontant. Soms met die mees hartroerende stories.
Daar is meer as 42 kosbedieningspunte in die area en ook verskeie organisasies wat help met straatbedelaars. Die geld wat hulle so bedel word primêr vir die koop van dwelms gebruik – kos kry hulle in elk geval. Selfs die kos, doeke en babamelk wat hulle bedel word verkoop. Hierdie is in baie gevalle die mense wat dwelms aan ons kinders verkoop.
Die gevaar bestaan dat jy nie deel is van die oplossing van die probleem nie maar van die oorsprong daarvan, deur die selfsugtige en onverantwoordelike uitdeel van geld en goed aan die mense wat uiteindelik gaan oor die gewer se “goedvoel” omdat hy/sy “gehelp” het.
Help eerder die wat reeds help en weet wat om dit te doen, of vra eerder hoe om te help.
Hippocrates het gesê: “maak ‘n gewoonte van twee goed, om te help, of om ten minste nie skade te doen nie.”
Oudl Anton Smith