Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 187 of 344)

Vriende van God (Joh 15:15)

Wat ‘n wonderlike genade dat ons kinders van God genoem word (1 Joh 3:1). Dit is wat ons is omdat God ons so noem. Sy eie Seun het dit moontlik gemaak. Sy Vader is nou ons Vader! En ons is dan die aangenome kinders van God. 

Net so aangrypend en wonderlik is die feit dat Jesus ons sy “vriende” noem. Van vyande tot vriende van die Here! En dat Hy die grootste liefde bewys deur sy lewe vir sy “vriende” te gee. En nou het Hy alles wat Hy van die Vader gehoor het aan sy vriende bekend gemaak (Joh 15:15). Hy is immers die openbaring van God die Vader. Deur Hom sien en ken ons die Vader! 

Ons lees dat Abraham ‘n vriend van God genoem word. In Jakobus 2:23 lees ons: “Abraham het in God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken. En hy is ‘n vriend van God genoem.” 

Die enigste direkte verwysing in die Ou Testament na Abraham as “vriend van God” vind ons in Jesaja 41:8: “…nageslag van Abraham, my vriend…”. Ook in die huweliksformulier praat ons van Abraham, Isak en Jakob as “vriende” van God. In Genesis 18 sien ons dat God sy hart met Abraham deel omdat God met hom en sy nageslag ‘n verbond gemaak het. Dan open-baar God wat Hy van plan is om met Sodom te doen. Ook met Moses het God gepraat” soos ‘n man met sy vriend praat”. 

Nou is dit wel belangrik om te verstaan dat as enige hooggeplaaste jou sy ‘vriend’ noem, hy dan nie noodwendig jou vriend word nie. So is dit dan dat jy nie van God as jou vriend of maatjie kan praat nie. Hy bly God. Jesus is nie jou vriend nie, maar jou Here. Jou God en Meester. Dit is egter ‘n buitengewone voorreg en genade dat Hy ons sy vriende en kinders noem! En dan gee Hy sy lewe vir sy vriende. 

As jy egter nie sy vriend is nie, dan is jy sy vyand. Jakobus skryf dit: “Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God” (Jak 4:4). Vyande van God wil ons nie wees nie. As vyand van God kom jy in die ewige oordeel. Dit is geen mooi vooruitsig nie. 

Jesus sê egter dat ons sy vriende is. Dit is as ons dan ook doen wat Hy wil. “Julle is my vrien-de as julle alles doen wat ek julle beveel” Joh 15:14) en sy gebooie is nie swaar nie. Laat ons dan dit doen wat God wil – al haat die wêreld ons as sy vriende. 

Laat ons dan die Here dank dat Hy ons sy vriende noem en laat ons aan Hom die eer gee wat Hom as ons Verlosser en heilige ewige God toekom. 

Ds M 

Slegs Jesus Christus kan red

Skriflesing: Matteus 7:1-29
Teksvers: Matteus 7:21-23
HK Sondag 11

Jesus Christus is die Enigste Verlosser. Maar nie elkeen wat vir die Here Jesus “Here” sê sal ingaan in die koninkryk van God nie.

Hierdie woorde is hard en voel koud. Nie alle mense sal gered word nie. Dit is natuurlik totaal in teenstelling met hoe Jesus se verlossing vandag voorgestel word. Ons hoor baie hoe goedkoop hierdie verlossing gemaak word deur mense wat beweer dat Jesus vir almal gesterf het. Of die uitdrukking: Jesus is lief vir almal.

Ons staan vanaand stil by ons belydenis rakende Jesus Christus as Enige en Ware Verlosser. Amen

Noag se ark is simbolies van die doop van God se genade

Skriflesing: 1 Petr 3:13-22
Teksvers: 1 Petr 3:20

Die simboliese betekenis van die ark wat Noag gebou het, is baie meer as net ‘n blote boot waarop diere en agt mense gered is van ‘n watermassa. Dit is ook ‘n teken van die doop. Die formuliergebed by die doop lui as volg: “U het volgens u streng oordeel die ongelowige en onboetvaardige wêreld met die sondvloed gestraf en die gelowige Noag met sy gesin – agt mense – deur u groot barmhartigheid gered en bewaar;…waardeur die doop afgebeeld is.”

Noag se ark was ….

  • ‘n gehoorsaamheidsdaad 1 Petr 3:20
  • ‘n waarskuwingsdaad 1 Petr 3:20
  • ‘n reddingsdaad 1 Petr 3:20
« Older posts Newer posts »