Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 186 of 344)

Calvyn kan nou Afrikaans ook praat…

Die meeste van ons ken die naam Johannes Calvyn. Indien iemand Calvyn aanhaal, is daar in die tradisionele gereformeerde kringe erkenning of aanvaarding van die standpunt, want, Calvyn het immers so gesê. Op ‘n sekere manier is Calvinisme die enigste vorm van -isme wat nie ‘n -isme is nie. 

Die interessante is dat nog bitter min van Calvyn se werke in Afrikaans beskikbaar is. En dat bitter min gewone lidmate ooit in hulle lewe, self die werke van Calvyn gelees het. Die meeste predikante het dus ‘n Engelse of Hollandse vertaling van Calvyn se werk. Met die gevolg dat die aanhalings wat u dus tot dusver gehoor het van Calvyn, niks anders is nie as die dominee se vertaling van die Engels of Nederlands, wat ‘n vertaling is van die Latyn of Frans. 

Ja, Calvyn het in Latyn geskryf, alhoewel hy ‘n Fransman was. Latyn was die algemene taal van die akademie. Omtrent soos Engels vir ons vandag. Baie van Calvyn se werke is dan ook in Frans vertaal vanuit die Latyn. 

Die grootste werk van Calvyn wat in Afrikaans beskikbaar is, is die bekende 4 blou bundels van die institusie wat deur wyle prof. Simpson direk uit die Latyn vertaal is vanaf 1984 tot 1992. Prof Fanus Postma het onderneem om hierdie werk voort te sit en het die eerste keer in 2008 ‘n kommentaar in Afrikaans die lig laat sien. Die Romeine kommentaar. Ek het die voorreg gehad om daardie bekendstelling by te woon, daar in Potchefstroom. 

Twee weke gelede het ek weer die voorreg gehad om by nog ‘n bekendstelling te wees na byna 13 jaar, waar 4 werke van Calvyn in Afrikaans bekend gestel by GK Wilropark. Hoewel prof. Postma nie meer met ons is nie, het hy die 4 kommentare wat oorspronklik in een bundel uitgegee is, vertaal nl. Galasiërs, Efesiërs, Filippense en Kolossense. 

Dit is ‘n wonderlike skat wat die besondere gawes van Calvyn soveel meer persoonlik aan ons in ons eie taal weergee. Hierdie werke is beskikbaar by ons GKSA Admin buro en is ‘n wonderlike aanwins vir ons in Afrikaans en in ons geloof en vir enige huis. 

Immers, nou kan Calvyn met ons ook in Afrikaans praat! 

Lourens (vdm) 

Gesalfdes van die Here!

Skriflesing: Psalm 133; Levitikus 8:1-12
Teksvers: Psalm 133:1-3
HK Sondag 12

Een van die kortste Psalms in die Bybel maar ‘n pragtige beeld. Die plek is die tabernakel. Paasfees. Die priesters moet hulle reinig en heilig voor die Here.

Die hoëpriester Aaron moet gereed maak om voor God te verskyn en die volk voor die Here te verteenwoordig. Die salwing. Salfolie. Geurig en ryk. Spesiaal net vir hierdie doel. Aan die Here gewy. Dit word op sy kop uitgegiet en deurtrek sy hare baard en klere soos dit afdrup en hom geheel en al aan God toewy. Gesalf in die Here se Naam!

Alles wys heen na Christus. Die Messias. Gesalfde (Annointed). Jesus Christus die Gesalfde van God!

Deur volharding in geloof word ons die koninkryk van God waardig geag

Skriflesing: 2 Tessalonisense 1:1- 2:17
Teksvers: 2 Tessalonisense 1: 3-5

Elke dag beleef ons uitdagings om nie moedeloos te word en handdoek in te gooi nie. Ons voel so magteloos teen al die reëls en regulasies en natuurlik die onsekerheid van die siekte. Baie mense is emosioneel uitgeput en gespanne. Niemand weet wat more inhou nie. Dit was eintlik nog altyd so. Nie op dieselfde manier nie, want daar was voorspelbare planne. Ons lewens was vooruit geskeduleer in ons dagboek.

Dit is juis wat geloof so kosbaar maak. Dat ons kan vashou aan die sekerheid van God se Woord, al val die wêreld rondom ons inmekaar. So het die gemeente in Tessalonika ook volhard in die geloof ten spyte van die teenstand en vervolging wat hulle ervaar het, en selfs vererger het.

Deur volharding in die geloof word ons geslyp en getoets sodat ons die koninkryk van God waardig mag wees. Amen

« Older posts Newer posts »