Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 184 of 344)

Is dit maklik om ’n christen te wees?

Hierop is daar nie ’n eenduidige, enkelvoudige antwoord nie. Aan die een kant ja, aan die ander kant nee. Daar is ’n eenvoudige antwoord: Joh 3:16 “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” 

En tog vra God ook dat ons Hom voluit moet dien. Pred 12:13 “Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word”. Maar ons glo en bely dat alles is net GENADE. Is dit dan nog maklik om ‘n christen te wees? Die probleem kom in as ek christenskap koppel aan… my verwag-tinge, my dade, my doen en late en werke. Want juis wat ék wil, strook nie altyd met wat God wil nie. God se raadsplan staan vas. En tog vra God net dat ons opreg en eerlik, vas en seker, in Hom sal glo. Ons bely elke Sondagoggend ons geloof. Ja ons dwaal af, ons is dikwels kleingelowig, maar tog bely ons alles voor God: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die ver-keerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (Ps 139:23,24) Nooit het God aan ons geleer dit gaan maklik wees nie. Maar altyd leer God aan ons dat daar by Hom ge-nade, barmhartigheid en lankmoedigheid te vinde is. Daarom slaan ons ons oë op na God. By God is daar vergifnis en redding. By God is daar genade. By God is daar vergewing. By God is daar vir my rus. 

As ek dit dus net regkry om voluit op God te vertrou, in Hom te glo, Hom te dien, selfs bereid is om minder te word, sodat God meer word en in nederigheid voor Hom staan, is dit maklik. Dan lê die klem nie meer by my en wat ek moet doen nie, maar die klem is by God en wat God vir my doen. Dan is dit maklik, omdat ons voluit op God vertrou! 1Joh 5:3-5 “Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie, 4 want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons oor die wêreld behaal het, is deur ons geloof. 5 Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is?” 

Ds. Gerrit 

My erfenis is vir my mooi

“Die Here is die deel van my erfenis en van my beker; Ú onderhou my lot. Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.” (Psalm 16:5 – 6 AFR53) 

As ons genoop word om in September na te dink oor ons erfdeel of erfenis, dan gaan dit dikwels net oor besitting van grond of goedere of geld. Dit wat ek geërf het of dalk gaan erf. My erfdeel. In Israel sou mens heel eerste dink aan die grond of die land. Elke stam van Israel het sy erfdeel gekry. Josua het dit met die lot bepaal soos die Here vir elke stam en familie sy deel gegee het. En met wat die Here gee moet mens tevrede en dankbaar wees. My erfdeel is mooi. 

So ook ons. Hy gee ons die mooi land, maar ook die probleme en uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Wat die Here gee is altyd goed en mooi. Nie altyd lekker nie. Ook die beproewinge van jou lewe en die mate van jou gesondheid. Jou lot. Hoe jou lewe uitval word immers net deur Hom bepaal. 

Dawid dink egter nie net materieel nie. Daar was immers die stam van die Leviete wat geen erfdeel gekry het nie. Hulle was voltyds in diens van die Here en sy tabernakel. Ook hulle erfdeel is mooi. Dit beskryf die koning Dawid dan as hy verder dink as die stoflike en ligaamlike. Die geestelike deel is die mooiste! Natuurlik solank die Here daarvan deel is. Solank die Here deel is van jou hele bestaan. 

Die vraag is dus op Erfenisdag: Is die ware Koning, die Here Jesus Christus deel van jou erfdeel. Is dit eerstens jou geestelike gawes en sy genade-beloftes wat die swaarste weeg? Is Hy deel van alles wat jy dink en doen en sê? Dan sal Hy ook deel wees van jou toekoms en wat jy daar as erfdeel gaan ontvang, nl. Die ewige lewe by God. 

As jy in hierdie daardie lewe kan sê, die Here is deel van my beker, my omstandighede, nou en vir ewig, dan kan jy ook sing en bely: “Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja my erfenis is vir my mooi”. 

Ds M 

« Older posts Newer posts »