Die webtuiste vir die Gereformeerde Kerk Centurion.

Skrywer: admin (Page 116 of 343)

Oordenking 3 Maart

Losgekoop met die bloed van Christus

Vrydag 3 Maart 2023
Lees: 1 Petr 1: 18-19 ‘83 “Julle weet tog dat julle nie met verganklike middele soos silwer of goud losgekoop is uit julle oorgeërfde sinlose bestaan nie. 19 Inteendeel, julle is logeskoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is.”

Losgekoop is vir ons as christene vandag ‘n verstaanbare, teologiese term. Ons is losgekoop met die bloed van Jesus Christus van ons sondes. Jesus Christus het vir ons sondes betaal met sy bloed. Maar ons sal die begrip nog beter verstaan as ons dit lees in die konteks van die tyd waarin Jesus Christus geleef het, dit is in die eerste eeu na Christus. In Jesus Christus se tyd was daar baie slawe. ‘n Slaaf het ten volle aan sy eienaar behoort en ‘n eienaar van ‘n slaaf kon met die slaaf doen net wat hy wil. Hulle kon die slawe gebruik en misbruik soos wat hulle wou.

Hoe kon’n slaaf weer ‘n vryman of vrou word? Daar was twee maniere:
Eerstens Hy kon geld bymekaar maak en ‘n losprys betaal, of
Tweedens, iemand anders moes die geld vir hom betaal.
As ons nou dink, daar was na berekening, ongeveer 60 miljoen slawe in die Romeinse ryk.

Die Israeliete het goed geweet wat slawerny was. In Egipte was hulle slawe wat hande-arbied moes verrig. God het hulle egter bevry deurdat Moses hulle uit Egipte gelei het. Daarna was hulle weer slawe toe hulle weggevoer is na Babilonië toe, maar God het hulle weer daar bevry deurdat Koning Kores van Persië hulle teruggestuur het na Israel. (2 Kron 36:23) Nou is Israel weer slawe maar onder die Romeine, dit is ook in die tyd wat Jesus gebore is en geleef het.

Ons was ook slawe van die sonde, MAAR ons is losgekoop van ons sondige bestaan.
Tit 3:3-7 “3Vroeër was ons ook onverstandig, ongehoorsaam, op die verkeerde pad, verslaaf aan allerlei begeertes en singenot; ons het ons lewe in kwaadwilligheid en jaloesie deurgebring; ons was haatlik en het mekaar gehaat. 4 Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. 5 Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. 6 God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. 7 So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.”

Verlossing of losgekoop beteken dus om vry te word deur die betaling van ‘n bedrag of prys.

  • Vir ons as sondaars wat slawe van die sonde was is daar betaal met die bloed van Jesus Christus, een maal vir altyd.
  • Ons is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekkeloos en sonder liggaamsgebrek is.
  • Geliefde, jy wat luister en hierdie boodskap lees.
    • Glo dit wat die Bybel verkondig.
    • Leef uit dankbaarheid in afhanklikheid van God.
    • En jy sal die ewige vreugde van God in en deur Jesus Christus ervaar.

Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

Oordenking 27 Februarie

Watter rol speel die Bybel in jou lewe?

Maandag 27 Februarie 2023
Lees: 1 Petr 1: 16 ‘83 “Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
’20 “Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

 Watter rol speel die Bybel in jou lewe?
 Hoe belangrik is dit vir jou om die Bybel elke dag te lees?

Die Woorde: “Daar staan geskrywe…” dra baie groot gesag. Dit beteken daar is vir die gelowige ‘n baie groot opdrag en troos in hierdie woorde.

Die Woord was vir ons Here Jesus Christus van so groot belang, dat hy die Satan daarmee tereggewys het, met sy versoeking in die woestyn, lees ons in Mat 4. Telkemale as die Satan Jesus probeer versoek het met ‘n verleiding van kos vir sy honger, om sy Vader te versoek en om aan Hom rykdom te gee, het Jesus hom geantwoord met wat daar in die Bybel staan.

Die Bybel is daar vir ons as ‘n verdediging teen die aanslae van die wêreld.
Ef 6:17 “Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.”
Maar…
Die Bybel is nie net daar vir selfvedediging in die wêreld nie, maar die Bybel is ook vir ons ‘n gids om ons in hierdie donker sondige wêreld te lei…

Ps 119:105 “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.”
2 Petr 1:19 “En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie
boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.”

Die Bybel is ook jou geestelike kos vir elke dag.
Dit is trouens wat ons Here Jesus Christus self gesê het.
Mat 4:4 “’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”
1 Petr 2:2 “Soos pasgebore kindetjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike
melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry.”

Die Bybel reinig, was ons ook skoon, elke dag.
Nou ons weet dat ons skoongewas word deur die bloed van ons Here Jesus Christus van ons ons sondes, maar die Woord wat elke dag gelees word, reinig ons ook deurdat ons daardeur leer hoe ons moet lewe. Dit is die geopenbaarde wil van God. Dit is wat God ons leer hoedat Hy wil hê dat ons moet lewe.
Ef 5:26,27 “ 26 Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, 27 sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik.”
• Kom ons gee die Bybel opnuut prioriteit in ons lewens, deur die Bybel elke dag te lees en te bestudeer.
• Kom ons leef volgens alles wat God in die Woord aan ons leer.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

God praat met ons deur sy Woord

Skriflesing: Hebreërs 1:1-14
Teksvers: Hebreërs 1:1-3

  • Ons moet steeds luister na God wat met ons praat.
  • In die ou bedeling het Hy oor eeue heen met sy kinders gepraat, deur sy dade en sy woorde.
  • Met Jesus se koms het God Hom op ʼn besondere manier deur sy Seun geopenbaar.
  • Die kern van die boodskap bly steeds die geboorte, lewe, dood en opstanding van God se Seun.
  • Hiervan getuig God se Woord en daarvolgens moet ons leef.

God se verbond met Dawid vir Altyd!

Skriflesing: 2 Sam 7:1-29; 2 Sam 23:1-7; 1 Kron 17:1-27; Luk 1:30-33
Teksvers: 2 Sam 7:11b-16; 1 Kron 17:11-14

Ons dink dikwels, dat as ons nie hard werk as Christene nie, God se koninkryk maar moeilik sal voortbestaan. Ons dink dikwels dat die kerk se voortbestaan van ons dienswerk afhang. 

Dawid wou vir God ‘n tempel bou, maar God woon nie in tempels wat mense maak nie. God se genade is egter so groot dat Hy ALTYD vir ons sorg en nie ons vir Hom nie. Ons dienswerk moet net in afhanklikheid, in diepe afhanklikheid en dankbaarheid geskied. 

Ons gaan na drie sake kyk: 

  • Die verbond met Dawid. 
  • Die verbond met Dawid, se verloop. 
  • Die verbond met Dawid, se vervulling. Luk 1:31-33 

Oordenking 23 Februarie

Jou uitkyk bepaal dikwels jou uitkoms!

Vestig jou hoop volkome op die genade wat ons deel sal word by die wederkoms van Jesus.
Donderdag 23 Februarie 2023
Lees: 1 Petr 1:13-16
• “Wees daarom verstandelik wakker en nugter…” lees ons in die 1983 vertaling.
• “Daarom, omgord die lendene van julle verstand…” lees ons in die 1953 vertaling.
Dit beteken dat ons ons gedagtes reg moet rig. Dit beteken dat ons reg moet dink. Dink aan wat tot eer van God is, wat tot verheerliking van God is, wat goed en reg en waar is. As jy jou gedagtes plaas op die regte dinge in die lewe, dan sal dit dikwels ook jou uitkoms bepaal.

Hier is die spreekwoord so waar: “Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.” Dit beteken waaraan jy heeldag dink en oor praat en droom, dit bepaal jou lewe. As jy heeldag aan vakansie dink, dan kan jy later nie meer jou werk doen nie, want jy loop heeldag net daaraan en dink.

Maw dit waaraan jy dink, jou uitkyk in die lewe bepaal dikwels jou uitkoms!

Nou leer Petrus aan ons waaraan ons moet dink. Wees wakker en nugter, soos wat jy ‘n gordel dra om jou klere vas te maak sodat jy jou werk kan doen, so moet ons ons gedagtes vasmaak, dink aan die genade wat ons deel is in Jesus Christus.

• Jou uitkyk bepaal dikwels jou uitkoms.
• Jou gesindheid bepaal jou doen en late.

Want as christene dink en doen ons nie soos die wêreld nie. (1 Petr 4:1-4) As jy heeldag aan geldmaak of plesier of vakansie dink, dan is jou gedagtes nie gerig op wat eintlik saakmaak nie. Want wat eintlik saakmaak in die lewe, is jou uitsien na die ewige lewe.
1 Pet 4:1,2 “Omdat Christus dan liggaamlik gely het, moet julle julle ook met die gedagte wapen dat wie liggaamlik gely het, met die sonde afgereken het: 2 vir die res van sy aardse bestaan word sy lewe nie meer beheers deur menslike begeertes nie, maar deur die wil van God.”

‘n Christen wat die eer en verheerliking van God vooropstel, kan en wil nie anders as om sy lewe in te rig en te leef tot eer van God nie. ‘n Christen wat die eer en verheerliking van God vooropstel kan en wil nie anders as om die sondige wêreldse begeertes af te lê en ‘n heilige lewe te lei nie. Want wat moet ons doen as alles op aarde vir ons hopeloos en sleg lyk. Kyk boontoe! Kyk op na ons Here Jesus Christus! Hy is ons lewe! Hy het ons verlos met sy kosbare liggaam en bloed! Hy is ons sekere en vaste en lewende hoop dat ons die Hemele sal beërwe.

Wat is jou uitkyk in die lewe? Kyk jy op na Jesus Christus? Wil jy Hom alleen dien?

Jou uitkyk bepaal dikwels jou uitkoms!
Vestig jou hoop volkome op die genade wat ons deel sal word by die wederkoms van Jesus.
Kom ons bid saam
Ds Gerrit Kruger: Gereformeerde Kerk Centurion: Sel 082 964 5595: gskruger1@gmail.com

« Older posts Newer posts »