Gemeenskap en verbond loop hand aan hand. God bestaan reeds voor die skepping in ‘n gemeenskap tussen Vader, Seun en Heilige Gees. Omdat God ‘n God van gemeenskap is, skep Hy ook die mens in gemeenskap met Homself.
God maak die mens deel van Sy gemeenskap. Dit is die doel van die mens se bestaan, om in gemeenskap met God drie-enig te leef. Hierdie gemeenskaplikheid met God is egter nie ‘n eksterne of uiterlike gemeenskap nie, maar innerlik.
God skep die mens na sy beeld. Die mens ontvang ‘n gemeenskaplike beeld van God. God blaas in sy neus die asem van die lewe. Dit is die inwoning van die Heilige Gees. Nou kan die mens God se wil uitvoer en ewig met God in gemeenskap leef. Daarom die opdrag: bewerk en bewaak.
Om te werk is nie ‘n vloek nie, maar ‘n Goddelike roeping. Dit is by die bewaak deel waar die mens en sy vrou hulle roeping versaak. Deur die sonde verbreek die mens se gemeenskap met God. Die Heilige Gees kan nie langer in die mens woon soos voor die sondeval nie.
Om hierdie verhouding te herstel, maak God ‘n verbond met die mens. Die fondament van daardie verbond word gebou op die moederbelofte van Genesis 3:15. Daar sal Een wees uit die nageslag van die vrou, wat die slang se kop sal vermorsel.
God sal self voorsien om die sonde en die dood, wat deur die sondeval gekom het, te vernietig en te oorwin. Telkens sien ons hoe God dan die mens kom opsoek om in gemeenskap met Hom te leef. Noag, Abram, Isak, Jakob, Moses (Levi), Dawid.
God se beloftes bind geslagte aan mekaar. Deur geloof word hierdie beloftes vervul.
Hierdie is egter nie verskillende verbonde nie, maar een verbond met verskillende bedelinge. Ons gaan vervolgens deur die kwartaal stilstaan by die betekenis van elkeen van hierdie bedelinge met die vervulling in Christus.
Mag u daardeur sien hoe God Homself deur die geslagte in verbondsgemeenskap stel, met sy kerk wat Hy losgekoop het, om weer in gemeenskap met Hom te leef.
Lourens (vdm)