Die meeste van ons se geduldmeters het reeds uitgebrand. Dit is so moeilik om geduldig te wees, veral as jy nie tyd het om te kan wag nie. In baie opsigte is dit wat nou gebeur… Ons wil so graag hê dat ons lewens net weer moet koers kry en terugkeer na normaal, en ons kan nie meer wag nie. Ons kan nie meer wag om terug te gaan werk toe nie, om weer ou vriende en familie te sien, om kerk toe te gaan, om op vakansie te gaan.
Dit is snaaks hoe ‘n mens se geduld teenoor sekere dinge net heeltemal onmoontlik voel. Asof ‘n rooi lig nooit vinnig genoeg kan omslaan nie. Of die laaste periode van skool voor die vakansie aanbreek net nie wil verbykom nie.
My vrou lag altyd in haar mou as my geduldmeter moet ingaan vir herstelwerk, want sy reken dat ek gebid het vir geduld, en nou stel die Here my op die proef om my geduld te leer.
Dit voel vir die meeste van ons of die opheffing van die regulasies nie vinnig genoeg kan kom nie. Maar dan moet ons tog weer vir ‘n oomblik terugdink aan die gejaag van ons lewens wat soms nie tyd het vir stilword nie. Dalk is dit juis dat ons nou moet leer wat dit beteken om balans te hê in die lewe. Nie te veel gejaag en nie te min stiltetyd nie…
In ‘n oogwink gaan dinge verander, en ons gaan terugdink aan die tyd toe ons geduldig moes wag op die Here vir uitkoms… Dan besef ons hoeveel dinge daar is waarvoor ons kan dankbaar wees. Laat ons dan geduldig wees, en uit dankbaarheid die Here loof!
Mag ons elke dag so verlang na die wederkoms…
Lourens (vdm)