Die vraag kan gestel word of Christen-gelowiges aan ‘n staatkundige bestel se verkiesings behoort deel te neem en daaraan mee te doen, terwyl daardie bestel se waardes en norme direk indruis teen die Christelike norme en belydenis. Wat se eer is daar vir God deur Christe-ne se deelname aan of instemming met ‘n humanistiese (mensgerigte) bestel? Oorwegings van bloot sekulêre en politieke aard geniet blykbaar voorkeur. ‘n Pragmatiese benadering vir die bevordering van belange word nagestreef deur deelname aan die verkiesing. Dit hoort egter nie so nie. Jesaja 65 : 12 sê iets van so ‘n situasie: “Julle het gedoen wat verkeerd is in my oë, julle het gekies vir wat My nie aanstaan nie.

Die Woord van God is baie duidelik omtrent die beginsels wat vir ons daaglikse lewe en ons menslike aktiwiteite behoort te geld. “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God” (1 Kor 10 : 31). As dit dan in die gewone dinge so belangrik is, hoeveel te meer in belangriker sake, soos byvoorbeeld verkiesings? Dit is die vraag wat elke opregte Christen-gelowige ten opsigte hiervan moet beantwoord.

Natuurlik kan ons leef en werk in enige vorm van staatkundige bestel, ook in die huidige. Maar kan ons as Christene ‘n humanistiese bestel ondersteun, propageer, bevorder en daarin opgaan? Nee, dit mag nie! Dit is in sekere sin vyandskap teen God en sy koninkryk, al is dit op ‘n indirekte wyse. Dan moet ons maar liewers die gevolge dra, soos wat dit tans op elke lewensterrein sigbaar is en daagliks aan die lyf gevoel of ervaar word. So verklaar Hosea 5 : 11 dan ook: “Efraim is verdruk, verbreek deur die oordeel; want dit het hom behaag om na die gebod van mense te wandel” (Sien ook: Ps 146 : 3; Jer 17 : 5; Jes 2 : 22).

Die euwels (bv aborsie ens) van die huidige bestel word egter gewettig en as goed en reg verklaar op grond van daardie einste Grondwet waarvoor talle Christen-gelowiges in April 1994 gestem het. Toe was daar geen beswaar of teenkanting vanuit die kerklike gemeenskap of van die geestelike leiers teen die liberaal-humanistiese waardestelsel wat deur middel van die nuwe Grondwet gevestig sou word nie – inteendeel!

Nou is die tyd ryp vir deeglike besinning. Duidelike en sterk standpuntstelling is dringend noodsaaklik vir elke Christen-gelowige in ons land. Dan kan daar begin word om die sogenaamde “morele krisis” aan te spreek. ‘n Verknogtheid aan ‘n politieke party en sy beleid is hier onvanpas want dit belemmer ‘n onbevange besinning en verhinder ‘n suiwere beginsel-standpunt en -formulering.

Kom, laat ons dan in die geloof en getrou aan Gods Woord, vreesloos die regte pad loop. Die tyd is min, die verantwoordelikheid is groot en die gevolge is ernstig.

Marius Coetzer (Kerkpad)