Die vraag is hier of gelowiges wel nog ‘sondaars‘ genoem kan word. Kinders van God sondig tog nie meer nie! (1Joh3) Wie verlos is het immers oorgegaan van die koninkryk van die bose na die koninkryk van God. Ons behoort aan Christus wat ons van die sonde verlos het. Hoe kan ons dan praat van onsself as ‘sondaars’ en as mense ‘wat die dood/hel verdien’? Dit klink alte veel na ‘n kontradiksie in homself. Sommige mense wil glad nie so van hulself praat nie. Dit sou te negatief wees. Dus gaan hulle eerder daartoe oor om die goeie eienskappe van die gelowiges te beklemtoon. Dit laat mens darem bietjie beter voel. 

Paulus sê egter in 1 Tim 1:15: “Dit is ‘n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.” As Paulus homself dus ‘n sondaar noem, behoort ons dit seker ook te doen. Hy noem homself selfs die grootste sondaar! Hy verwys hierna sy verlede dat hy die kerk van Christus vervolg het (vgl 1Kor15). Hy dra selfs nog smarte van sy verlede, alhoewel hy weet dat God volkome vergewe het. Kyk mooi hoe Paulus nie sê “ek was die grootste” nie, maar hy sê “ek is“! 

Om jouself ‘n sondaar te noem is geen ontkenning van wat Jesus vir jou gedoen het nie. Om te sê dat jy ‘die hel verdien’ is die waarheid, alhoewel jy weet dat dit ter wille van Chtistus nie sal gebeur nie. 

Ons is sondaars want ons doen sonde. Verloste, weergebore geredde kinders van God doen elke dag nog steeds sonde, maar hulle glo en ken die evangelie dat God hierdie sonde, om Jesus wil, nie gaan toereken en ons gaan veroordeel en ewig straf nie! Dis die goeie nuus. Die stryd teen die sonde duur dus voort. Kinders van God doen nie meer sonde nie, sou dus eerder wil sê hulle doen (hopelik) ‘minder’ sonde. Hulle voer die stryd/geveg teen die sonde. Hulle hou nie aan met sondig nie. Hulle hou nie aan nie… hulle hou eerder daarmee op! En as jy dus nou minder vloek as laasjaar, is dit wonderlik, maar nou moet jy ook begin seën en goed doen, ja selfs aan jou vyande. Dan is jy ‘n sondaar, maar ‘n strydende en oorwinnende sondaar wat daagliks leef in bekering en berou en in gebed om genade en vergifnis. 

Om daagliks te onthou dat ek die ewige straf oor my sonde verdien, laat my ook daagliks met dank besef dat ek deur Christus nie verlore gaan nie. En vir ewig, ja ook in die hemel, sal ons onthou dat ons die ewige dood verdien, maar NIE daaraan uitgelewer sal word nie. Dit sal die grond/rede wees vir ons lof aan God, nou en in die ewigheid. 

“Aan Hom behoort die heerlikheid, tot in alle ewigheid. Amen”

Ds. M. van Helden